Nuwe landbounetwerkorganisasie wil familieboere bystaan

Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie en Francos Rossouw, die uitvoerende hoof van die nuwe ladbou-organisasie. Foto: Verskaf.

Die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere, is vandag in Pretoria bekendgestel.

Die organisasie is daartoe verbind om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en bevorder.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die organisasie is gestig om bykomend tot beleidsbeïnvloeding ook ’n aktiewe rol te speel in saakgerigte aksies en strategiese oplossings vir onmiddellike landbouprobleme.

Die organisasie is nie polities verbonde nie en sal homself beywer om met bestaande landbou-unies met uiteenlopende politieke sentimente saam te werk waar dit in die belang van familieboerderye is.

Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-unie is as die voorsitter van Saai se direksie aangewys. Lidmaatskap is oop vir alle landbouprodusente, ongeag die grootte van die landbou-onderneming, taal, ouderdom, herkoms of geslag.

“Saai gaan as ’n nasionale eenheidstruktuur bestuur word en nie ’n federasie nie. Dit maak die gebruik van digitale tegnologie, werwing, kommunikasie, mandaatgewing en saakgerigte optrede makliker. Direkte kommunikasie met ons lede sal verseker dat die netwerk nie lamgelê word deur argaïese strukture en dat hul stemme nie só verlore gaan nie,” sê Rossouw.

Volgens De Jager is Saai besig om samewerkings- en netwerkooreenkomste, en wedersydse ondersteuning te formaliseer met landbou-ondernemings, bedryfsorganisasies, navorsingsinstellings en landbou-organisasies wat op ander steunbasisse fokus. Die nuwe organisasie sal ook saakgerigte aksie onderneem, soos hulpverlening aan grondeienaars wat die slagoffers van plaasbesettings, plaasaanvalle, onteiening teen geen- of verminderde vergoeding en intimidasie is.

Rossouw sê Saai se vertrekpunt met betrekking tot die onteiening van grond is dat markwaardevergoeding die goedkoopste en enigste volhoubare wyse is om die soort van beleggings en groei in die landbousektor teweeg te bring waarin grondbegunstigdes en ander nuwe toetreders sal kan gedy. Al waarborg die Grondwet nie markverwante vergoeding nie, word dit ook nie verbied nie. Onteiening wat nie teen markverwantevergoeding geskied nie, sal daarop neerkom dat individuele grondeienaars die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid moet betaal.

De Jager meen Saai is ook begin omdat daar ernstige gevaarligte rondom landbou in Suid-Afrika flikker. “Hoekom sal die ANC nie doen wat hy sê oor onteiening sonder vergoeding én wysigings aan die Grondwet aanbring om dit moontlik te maak nie?

“Die ANC is onder groot druk voor die verkiesing en dit gaan vir die beleidsmakers nou net daaroor om stemme te kry om aan bewind te bly.”

De Jager sê dit is in die belang van plattelandse dorpe dat familieboere moet gedy. Klein dorpies se hartklop is familieboerderye.”

Wat beleidskwessies betref, waarsku De Jager dat beleggers nie hierheen stroom nie in die lig van die gronddebat. “Beleggers stroom nie na onsekerheid nie. Die onsekerheid het ook tot gevolg dat boere huiwerig is om in hul eie plase te belê.”

Volgens De Jager moet private besit ten alle koste beskerm word. Dit is ’n internasionale beginsel. “Ons mag nie in die debat oor grond agteroor buig nie. Daar moet markverwante vergoeding wees en dit moet billik en regverdig wees.”

Hy het daarop gewys dat die debat nie werklik oor grondhonger gaan nie. Bitter min mense wil boer en na plase terugkeer. Ons probleem is dat grondhervorming misluk het weens onbevoegdheid, nepotisme en korrupsie. “Wat ons eintlik nou nodig het, is dat die Zondo-kommissie na staatskaping ook kyk wat met grondhervorming gebeur het.”

De Jager het ook na die krisis rondom veiligheid op plase en plaasmoorde verwys en gesê hy gebruik elke platform waar hy kom om dit op die agenda te plaas.

Terence Corrigan, navorser by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), waarsku dat mense nie naïef oor die beleid en bedoelinge van die ANC moet wees nie. Boere in Zimbabwe wat van hul grond afgesit is, het voordat dit gebeur het ook net gedink dis “politieke onstuimigheid”.

Hy het op ernstige probleme in die land gewys soos dat die helfte van jong mense in die land nie werk het nie en waarskynlik nooit gaan kry nie. Die onderwysstelsel is swak en onderrig in wiskunde en wetenskap is van die swakste ter wêreld. Daarbenewens is sowat ’n halfmiljoen mense sedert 1994 vermoor.

Frik Nel is die eerste lid van die nuwe landbou-organisasie Saai, wat Donderdag in Pretoria bekendgestel is. Foto: Verskaf.

Hy het op die ANC se uitvoering en uitrol van sy nasionaal demokratiese revolusie (NDR) gewys en gesê dié ideologie is nog meer skadelik as staatskaping. Een van die ANC-beleidsrigtings wat ekonomiese groei kortwiek en tot gevolg het dat ’n groeiende aantal Suid-Afrikaners vrees vir die toekoms én die van hul kinders is die aanslag op eiendomsreg asook die aanslag op kommersiële landbou.

Corrigan meen landbouers is uitgelewer aan ANC-beleid en hulle het nie toegang om die politiek te beïnvloed nie. Daarbenewens is daar sekere landbouleiers wat nie die regering as organisasie verstaan nie. “Dit gaan nie oor grondhonger nie, maar eerder daaroor dat die staat alles onder sy beheer wil hê. Eers was dit mynbou en minerale regte en nou grond. Ons moet ons nie ’n rat voor die oë laat draai nie. Die staat wil die uiteindelike sê oor alle eiendom hê.”

Corrigan maan dat as Suid-Afrika totaal in ’n staatsbeheerde moeras verval het, dit ook na die res van Afrika suid van die Sahara sal uitbrei.

Die IRR en Saai se uitgangspunt is dat soveel moontlik idees, feite en oplossings vir probleme na buite gekommunikeer moet word ten einde te probeer verseker dat gesprekke van redelikheid met die regering gevoer word.

Saai moedig boere aan om by die familieboerlandbounetwerk aan te sluit. Besoek www.saai.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

legens ·

gelukkig bly ons ie aan die noorder kant van Afrika nie . Verbeel jou die Noorder Afrika Agri Inisiatief .

Ella1 ·

Dis n puik plan en ek wens julle net die beste toe.
Van plaasaanvalke gepraat: SASRIA adverteer wyd op radio dat slagoffers van “onluste” hul eise moet indien. Ek dink mense wat deur erge geweldadige aanvalle geraak is moet hul eise indien en daarop aandring om vergoed te word vir alles wat hulle deurgemaak het.
SASRIA het miljoene R’e uit ons gemaak, dis tyd dat hulle opdok.
Wie sal slagoffers help om eise in te dien?

Mooi ·

Dankie. Dis wat nodig is aangesien agri sa teen ons gedraai het.

Ellisras ·

Om Agri SA verdag te maak sonder om redes te gee. Agri SA was nog altyd aan die boer se kant

Therese van Schalkwyk ·

Hierdie harde woorde uit Terence Corrigan (IRV) se toespraak spreek boekdele:

“The ease with which the leadership of much of organised agriculture capitulated, to rather convey the demands of the government to farmers, than the interests of farmers to the government, stands as one of the worst examples of political appeasement and capitulation we have seen – to the extent that it even took the government by surpirise.

In prostituting their considerable resources and potential influence, organised agriculture has now led its members, and the country, to the brink of catastrophe”.

Mag die nuutgestigte organisasie groot sukses behaal.

Adam ·

Landbou tans herinner nogal aan die NG Kerk en die Nasionale Party. Jy stig bloot af indien jy nie saamstem of jou sin kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.