Nuwe lewe vir ‘blinde’ baba ná operasie

Dr. Jacobus Pauw, oogspesialis by die Pretoria Ooginstituut, het katarakte op beide oë van Dane-Lize Lombard verwyder. Hier is hy voor die tweede operasie, saam met ma Rejeanne. Foto: Verskaf

ʼn Baba van Pretoria sal nou vir die eerste keer kan sien nadat katarakte van albei oë verwyder is.

Die ses maande oue Dane-Lize Lombard is by die Pretoria Ooginstituut geopereer nadat sy met katarakte op beide oë gebore is. Haar ma, Rejeanne, vertel toe Dane-Lize sowat twee maande oud was, het sy opgemerk haar dogter se pupille is nie heeltemal swart nie.

“Dit is my eerste kind en ek het nie besef sy kon nie haar speelgoed sien nie. Ons het haar afgeneem met ʼn kameraflits en haar oë het nie daardie rooi kolletjies gemaak op die foto nie,” vertel sy.

Hulle het die baba na ʼn optometris by SpecSavers geneem, naby haar en haar verloofde, Pieter, se blyplek in Pretoria-Noord, en dié het gesê hulle moet die baba dadelik na ʼn dokter neem.

Hulle het uiteindelik uitgekom by dr. Jacobus Pauw, oogspesialis van die Pretoria Ooginstituut, wat hulle nie vir die konsultasie laat betaal het nie. Die Ooginstituut het gehelp om die operasie van R70 000 deur die King Pie Trust geborg te kry, omdat die paartjie nie ʼn mediese skema het nie.

Die een oog is verlede week geopereer en die ander oog vandeesweek. Pauw het gesê albei operasies het goed verloop en sy kan sien, maar dit sal maande neem voordat sy perfekte visie het. Die brein moet eers gewoond raak aan die nuwe lense en leer om vir die eerste keer behoorlik te sien.

Dr. Jacobus Pauw, oogspesialis, word bygestaan deur suster Millie Nemaorani tydens die operasie van Dane-Lize Lombard (6 maande) by die Pretoria Ooginstituut. Katarakte is van beide van haar oë verwyder, binne drie dae van mekaar, en sy het nuwe lense ontvang. Foto: Verskaf

Dit is onwaarskynlik dat sy in die toekoms weer ʼn operasie nodig sal hê, maar sy sal heel moontlik ʼn bril moet dra, het Pauw gesê.

Babas word met katarakte gebore en kinders kan dit ook mettertyd ontwikkel. Tydens so ʼn operasie word die katarak (die witterige, troebellens) verwyder en ʼn intra-okulêre lens word ingeplant. Dié vir babas is piepklein en dit word uit die buiteland ingevoer.

Die operasie is gedoen met ʼn nuwe masjien, genaamd die Qube, wat die dokter toelaat om beter en fyner beheer te hê. Die operasie op ʼn baba se oog is baie anders en moeiliker as die van ʼn volwassene en dit moet onder algemene narkose gedoen word.

Die lens sit agter die iris (die gekleurde deel) van die oog en fokus die lig wat die oog binnekom op die retina. Dit moet by babas opgespoor en verwyder word binne die eerste jaar om permanente blindheid te voorkom.

ʼn Wit of grys kolletjie op jou baba se oog kan ʼn katarak wees; as die kind ouer is, kan hy dalk nie direk vir jou of ʼn voorwerp kyk nie. Neem hom so gou moontlik na ʼn pediater of oogspesialis.

Dana-Lize Lombard en haar ma Rejeanne, kort voor die tweede operasie by die Pretoria Ooginstituut, om die katarak van haar ander oog ook te verwyder.Die operasie is geborg deur die King Pie Trust. Foto: Verskaf

Die voorkoms van katarakte in Brittanje, waar navorsing daaroor gedoen is, is sowat 2,5 kinders per 10 000 teen die ouderdom van een jaar. En 3,46 kinders per 10 000 teen die ouderdom van 15 jaar. Dit sal min of meer dieselfde in Suid-Afrika wees.

Daar is verskeie oorsake indien babas daarmee gebore word, soos oorerflikheid, metaboliese probleme, inflammasie, diabetes, infeksies van die baba en ma, en reaksies op sekere medikasie.

Volgens Pauw is dit moeilik om te bepaal wat die katarakte by Dane-Lize veroorsaak het, maar dit kon weens ʼn ontwikkelingsprobleem gewees het.

Pauw het gesê haar kind kon voorheen lig en donker gesien het, maar sy “kon ons nie gesien het nie. Dit was ʼn baie groot skok vir ons toe ons die nuus ontvang het, ons het nie geweet hoe ons haar ogies gaan regkry nie.

“Ons is so bly dat ons gehelp is met die operasie, dat alles geborg is. Sy reageer klaar anders, dis so wonderlik,” het sy gesê.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Willie ·

Baie dankie King Pie, julle is wonderlik! Dr Pauw, wel gedaan, mens kry sommer trane in die oe… Baie voorspedige herstel…

Carol ·

Dankie aan almal wat gehelp het en dat die baba waarskynlik n “nuwe” lewe sal he.
Dis hoe die Wetenskap ons elke dag help.

M ·

Die dokters daar is ongelooflik goed. Het my kornea oorplantings oor daar laat doen.

Stella ·

Ja,siestog,nou kan sy ook mooi sien hoe haar ma en pa lyk,,arme ou dingetjie,bly vir julle.

Lizelda ·

Ag, ek is so bly dat die ou mensie nou kan sien. My hart raak sommer seer om te dink sy kon nie. Dankie aan SpecSavers, Dr Pauw en King Pie en almal betrokke om die klein mensie se lewe te verander. Sterkte vorentoe… lekker speel. :-)

Linda ·

Prys die Here vir Sy genade! King Pie Trust en die mediese span sal in oorvloed geseën word! Sterkte vir Dana-Lize en haar ouers op die pad vorentoe.

legens ·

Daar is soveel vrae vir die Here , veral waarom Hy toelaat dat die kind so `n gebrek gehad het . Maar jou antwoord is voorspelbaar …. dit is nie ons plek om die Here se wil te bevraagteken nie . Hy is immers misterieus en liefdevol .
Wonder net waarom mense nie eerder hul kindertjies by die plaaslike pastorie aflaai vir behandeling nie ? Opmeklik dat u nie die modern mediese wetenskap bedank nie .

Louise ·

Ek wil amper juig, wooohooo… so bietjie goeie nuus vir ‘n verandering! Baie bly vir baba en ouers en welgedaan aan die Trust, die dokters en verpleeg personeel.

Annelize Grabie ·

Ek wil net eerstens onse Vader bedank dat Hy ons
as familie bygestaan het tydens die operasies van ons kleindogter, dan ook vir Dr Pauw wat die operasies vir ons gedoen het baie dankie vir die werk wat verrig is ons kan u nie genoeg bedank vir u hulp en ondersteuning nie, so ook vir King Pie Trust baie dankie dat u die operasies vir ons gesponser het ons wardeer dit opreg uit ons harte uit, en so ook aan al die hospitaal personeel en almal wat betrokke was met Dane-lize se se operasies baie dankie vir die vriendelikheid en behulpsaamheid wat jul as personeel vir ons gedoen het.Mens kan nie genoeg dankie se vir die wonderwerk wat moontlik gemaak is nie.. Nogmals dankie aan almal

Andre ·

Wonderlike einde aan die hartseer storie. Sy sou beslis blind gewees het sonder die nodige retinale stimulasie. Hoekom het geen mediese persoon dit agtergekom? Tydens die geboorte, kliniek besoeke…ens? Dit bekommer my. Nalatigheid en mediese standaarde kom ook op in my gedagtes. Dankie vir privaat hospitale en hul spesiale dokters en ook die borge.

jean ·

Ag, fantasties dat daar nog mense en instansies is wat omgee… Voorspoed aan die gesinnetjie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.