Nuwe lewe wink vir brakkie ná operasie

Harold se kakebeen is tydens mishandeling gebreek en het so verbrokkel dat hy skaars kon eet. (Foto: Verskaf)

’n Nuwe lewe wink vir Harold, die klein hond, nadat hy ’n suksesvolle baanbrekeroperasie ondergaan het om sy verbrokkelde kakebeen op te bou. Die operasie is op 29 Oktober by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort Veeartseny Akademiese Hospitaal (OVAH) uitgevoer.

Die driejarige brakkie is onlangs gered uit die kloue van sy aanvanklike eienaars, wat hom glo jare lank mishandel en verwaarloos het – soveel so dat sy kakebeen gebreek en so agteruitgegaan het dat hy nie eens kon eet nie.

Dit is nie duidelik presies wanneer hy deur sy nuwe eienaars aangeneem is nie – maar danksy dié mense wat hulle oor Harold ontferm het, is genoeg geld eindelik ingesamel om ʼn operasie aan sy kakebeen uit te voer.

Luidens ʼn vroeër inskrywing op die Facebook-blad, Help Harold, sou die operasie minstens R35 000 kos. Die versekeringsmaatskappy Dotsure het ʼn wesenlike bydrae gelewer om dié peperduur operasie moontlik te maak.

Vanweë die swak gehalte van sy kakebeen het Harold ’n uitgebreide beenoorplanting benodig, asook ’n spesiale plaat om sy oorblywende mandibulare beenfragmente te akkommodeer.

Harold se kakebeen is tydens mishandeling gebreek en het so verbrokkel dat hy skaars kon eet. (Foto: Facebook / Help Harold)

Luidens ’n verklaring deur Dotsure was daar glad nie ’n kommersiële plaat wat op Harold se kakebeen kon pas nie.

Nadat ’n CT-skandering op Harold se kop gedoen is, is dié beelde aan die voormalige UP-spesialisprostodontis prof. Cules van Heerden gestuur, wat saam met sy span van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein, ’n pasgemaakte titaniumplaat vir Harold ontwikkel en driedimensioneel gedruk het.

Saspine, ’n Pretoriase maatskappy wat in die menslike ortopediese omgewing werk, het ingespring om die nodige skroewe te vervaardig om die plaat te heg.

Dr. Paul van Dam, direkteur van OVAH, sê prof. Gerhard Steenkamp, ​​’n veeartsspesialis in tandheelkunde en kaakchirurgie by die fakulteit Veeartsenykunde, en dr. Ross Elliott, ʼn spesialischirurg wat op klein diere operasies uitvoer, het baie tyd daaraan bestee om ʼn spesiale, pasgemaakte plaat te maak wat sal help om Harold se verbrokkellende kaak te herstel.

Verskeie ander veeartse het ook intussen hul tyd en kundigheid opgeoffer om die hond te help.

Harold se nuwe mensouers, wat verkies om anoniem te bly, sê hulle is “uiters dankbaar” dat Harold uiteindelik broodnodige behandeling ná al sy lyding ontvang het.

“Hierdie hond het ’n baie moeilike lewe gelei –  gevul met trauma en verwaarlosing. Hy verdien ’n nuwe lewe vol hoop. Hy verdien om te weet dat hy geliefd is en verdien om toutrek saam met sy nuwe beste hondemaatjie te speel. Hy verdien ’n kans op die lewe,” het hulle in die verklaring gesê.

David Roache, uitvoerende hoof van Dotsure, sê dit was “uiters lonend” om Harold te kon help en OVAH met só ’n innoverende operasie by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

AmY ·

Ek wil nie eens weet wat eendag met mense gaan gebeur wat hulle diere so mishandel nie…
Dankbaar daai hondjie het nou liefdevolle eienaars.

Jacobus ·

Dankie Here vir die nuwe eienaars. Julle sal geseen word.

Blikke ·

Aan die wat die ou hondjie so mishandel het wil ek net se….” Elke hond kry sy dag….en n brak kry twee”….onthou….”What goes around, comes around”…julle dag kom!!@

Swerwer ·

Daar moet dringend/daadwerklik soos in oorsee opgetree word teen mense wat diere mishandel.
Oorsee word hul toesluit na gelang van die mishandeling.

Genis ·

Ai dis hartseer om n onskadelikke kelin dier so te mishandel… Die wile draai… Geseend is die nuwe eienaars, en almal wat gehelp het met die honedekind…

4ntj13 ·

Navorsing wys dat mense wat diere mishandel, later ook mense mishandel. Vir my is dit erger, want die hond is tog onskuldig. Ek hoop Harold het nou ʼn lang, hemelse lewe voor hom. En dat die wrede mense hul straf sal kry en nooit met my paaie kruis nie.

Diana ·

Wonderlike uitkoms . Dankie aan die mense wat die hondjie weggeneem het en almal wat met die operasie, herstel en ontwikkeling gehelp het.

Di ·

Baie bly dat hiedie hontjie ‘n nuwe huis vol liefde gaan kry. Vir die skuim wat hierdie hond so mishandel het wil ek net se “Jy gaan eendag verantwoording moet doen hiervoor”. Navorsing het deur en deur bewys dat mense wat diere mishandel later oorgaan na veel erger misdaad, ek glo dit vas.

Chantel ·

Dit maak my siek dat mense diere mishandel. As jy ‘n dier mishandel DOEN jy met jou kinders ook, daar is GEEN verskil nie. SIEK!!!!

Waarnemer ·

En wat het van die mishandelaars geword…het die DBV hulle ooit aangekla vir diere mishandeling of leef hulle “happily ever after”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.