Nuwe loonvoorstel om staking te beëindig

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

‘n Paar vakbonde, waaronder Solidariteit, het Sondag ʼn nuwe gekonsolideerde loonvoorstel aan die werkgewers in die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) voorgelê. Die oogmerk met die nuwe voorstel, wat ná fasilitering met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en die departement van arbeid gemaak is, is om ʼn skikking te bewerkstellig en om die staking in die bedryf te beëindig.

Georganiseerde arbeid se nuwe voorstel behels ʼn driejaarooreenkoms met ʼn verhoging van 8% vir werkers op loonkoers A en ʼn verhoging van 10% vir werkers op loonkoers F, G en H vir jaar een; ʼn verhoging van 8% vir loonkoers A en ʼn verhoging van 10% vir loonkoerse G en H in jaar twee; en ʼn 8% verhoging vir werkers op loonkoers A en 10% vir loonkoers H in jaar drie.

Volgens Marius Croucamp, bedryfshoof in die metaal- en ingenieursektor by Solidariteit, is die nuwe voorstel deur georganiseerde arbeid na aan die ministeriële aanbod wat deur die departement van arbeid gemaak is. “Die departement van arbeid se voorstel verskil van dié van georganiseerde arbeid in die opsig dat werkers op loonkoers A ʼn verhoging van 7,5% sal ontvang en ʼn verhoging van 7% in jare twee en drie volgens die departement se voorstel. Dit verskil van die 8% wat georganiseerde arbeid vir hierdie bepaalde jare van die ooreenkoms voorgestel het.”

Croucamp het egter bygevoeg dat die partye nader aan die bereiking van ʼn ooreenkoms beweeg. “Die vernaamste struikelblok in die onderhandelingsproses in hierdie stadium is dat die werkgewers steeds verdeeld is wat hul mandaat betref. Georganiseerde arbeid het ʼn beroep op die werkgewers in die MEIBC gedoen om die loongeskil in goeie trou te skik,” het Croucamp bygevoeg.

Die volgende vergadering sal na verwagting Dinsdag plaasvind wanneer die werkgewers hul terugvoer oor georganiseerde arbeid se hersiene loonvoorstel moet voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jan ·

Ek sal nooit hierdie proses verstaan nie. Hoekom ophou werk tydens die besprekings? Hoekom onskuldige mense aanrand en eiendomme ens. Beskadig? Dis is baie “scary” om te dink ons werk daagliks saam mense wat so wreed kan optree. Lyk soos ‘n groot verskoning om amok te maak en te wys wie is “baas”. Mooi so mense julle weet hoe om ‘n goeie land op sy kniee te bring –

Pierre Groenewald ·

Geen land kan so aangaan nie. Dink die besighede moet toemaak en na anderlande verhuis. Dit word erger by die dag.

Fritz ·

Ons sit met ‘n kultuur wat die ANC met apartheid begin het. Maak ‘n land onregeerbaar as jy nie jou sin kry. Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.