Nuwe maatreëls vir kinders wat reis

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het Sondag gesê kinders wat na en van Suid-Afrika reis, sal binnekort bykomende dokumente benodig.

“Ons sal van 1 Oktober af nie meer enige reisigers kan aanvaar wat nie die nodige dokumentasie het nie,” het Tlali Tlali, woordvoerder vir SAL, in ʼn verklaring gesê.

Die nuwe maatreëls volg nadat nuwe immigrasiewette in werking getree het wat bepaal dat ʼn “kind” enigiemand onder 18 jaar oud is. Kinders wat saam met albei hul ouers reis, moet ʼn volledige geboortesertifikaat met al twee ouers se name daarop, kan toon.

ʼn Kind wat net saam met een ouer reis, moet óf oor ʼn beëdigde verklaring van die ander ouer beskik waarin toestemming verleen word vir die kind om te reis, óf ʼn hofbevel wat voogdyskap aandui, óf die sterftesertifikaat van die ander ouer.

Indien die kind saam met mense reis wat nie hul ouers is nie, moet hulle beëdigde verklarings kan toon van hul ouers of voogde, afskrifte van die ouers of voogde se identiteitsdokumente of paspoorte en hul kontakbesonderhede.

Kinders wat as ʼn minderjarige sonder ʼn metgesel reis benodig selfs nog meer dokumente, insluitend ʼn dokument wat inligting verskaf oor die persoon wat die kind gaan ontvang.

Enige dokumente wat nie in Engels is nie, moet deur ʼn beëdigde vertaler vertaal wees en gesertifiseer wees.

“Hierdie maatreëls verseker die veiligheid van kinders en word verwelkom,” het Tlali bygevoeg. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Huisvrou ·

Verspot verby!

Ons reis as gesin – altyd. Ons is een gesin, nog altyd, nie saamgestel nie, nie uitmekaar nie, 22 jaar al een.

Nou moet ek die dept v Binnelandse chaos gaan vra vir ‘n geboortesertifikaat – daarvoor betaal ( na ek in elk geval die geboorte geregistreer het, ‘n verkorte sertifikaat ontvang het, hul paspoorte van dieselfde chaotiese dept ontvang het) en wie weet hoe lank vir onwillige staatsamptenary wag.

Net omdat mense nie verantwoordelikheid kan aanvaar vir hul dade nie, nie kan pastaan vir hul beloftes nie! As jy die dag getrou het, kinders verwek het – is hulle jou nr 1 prioriteit, nie jou gevoel of jou belustighede nie.

Moeg daarvoor om oor dieselfde kam as onverantwoordelikes geskeer te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.