Nuwe ma’s toenemend depressief

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Luma Pimentel)

Dit is reeds bekend dat Covid-19 nie net ʼn gevaar vir mense se fisieke gesondheid inhou nie, maar dat Suid-Afrikaners se gemoed en psigiese welstand ernstig deur die pandemie geaffekteer word.

Nuwe ma’s, wat reeds geneig is om terneergedruk te voel weens veranderende hormone kort ná die geboorte, is geen uitsondering nie en kenners meen die voorkoms van nageboortedepressie het toegeneem sedert die aanvang van die pandemie verlede jaar.

Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die feit dat nuwe ma’s weens die afsondering nie die nodige ondersteuning of afleiding kry wat hulle nodig het nie. In sommige gevalle is pa’s en ander besoekers ook glad nie toegelaat om ma’s tydens die geboorte of in die hospitaal te ondersteun nie, wat kan bydra tot verdere trauma.

Navorsing toon dat tussen 31% en 40% van Suid-Afrikaanse vroue probleme met geestesgesondheid ervaar ná die geboorte van ʼn baba. Suid-Afrika val onder die topvyf lande met die hoogste syfers ter wêreld.

Tania Macaskill, ʼn kenner van vroeë kinderontwikkeling en nageboortedepressie, sê dit is heeltemal normaal vir ma’s om angstig, hartseer en oorweldig te voel ná die geboorte van ʼn kind. “Hierdie gevoelens duur egter slegs ʼn paar dae. Wanneer die depressie langer aanhou, word dit ʼn probleem.”

Macaskill is ʼn gekwalifiseerde onderwysers en staan reeds die afgelope 22 jaar aan die hoof van die program Moms and Babes, wat ma’s help om hul babas van so vroeg as ses weke liggaamlik en verstandelik te ontwikkel en beter te verstaan. Sy sê nageboortedepressie het beslis toegeneem sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie verlede jaar. “Dit het alles te doen met ma’s wat nie meer die geleentheid het om met ander mense en veral ander ma’s in aanraking kom nie. Indien ma’s nie uit die huis kom en met ander mense gesels nie, kan dit nie simptome van postnatale depressie vererger.”

Argieffoto. (Foto: Ana Tablas/Unsplash)

Macaskill sê nageboortedepressie kan ʼn negatiewe impak hê op ʼn ma se vermoë om ʼn band met haar baba te vorm, wat langtermyngevolge vir die verhouding tussen ma en kind kan inhou. “Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat ma’s vir hulp vra indien hulle depressief is.”

Luricka Fick, stigter van die platform BetterMom, asook ʼn ma en sielkundige, sê nageboortedepressie word dikwels verwar met bababenoudheid (“baby blues”). “Die simptome is egter meer intens, duur langer en kan uiteindelik inmeng met ʼn ma se vermoë om vir haarself en vir haar baba te sorg, asook haar vermoë om ander basiese daaglikse take te hanteer belemmer.”

BetterMom is ʼn aanlyn platform wat geskep is om bewusmaking vir nageboortedepressie te bevorder en ouers te ondersteun. Dit bied ook heelwat gereedskap vir ouers om hulle te help om die algemene uitdagings van ouerskap te bowe te kom.

Volgens Fick word nageboortedepressie deur baie verskillende faktore veroorsaak, onder meer hormonale, endokrinale en fisieke faktore. “Dit is grootliks ʼn ma se verwagting van wat ouerskap vir haar sou beteken en die realiteit wat selde so uitdraai, wat nageboortedepressie of angs veroorsaak. Min ondersteuning van familie en vriende speel ook ʼn groot rol.”

Fick meen ook Covid-19 het op verskeie maniere bygedra om die voorkoms van nageboortedepressie by ma’s te vererger. “Covid-19 het veroorsaak dat party ouers trauma beleef weens die verlies van geliefdes en baie minder ondersteuning van familie of vriende kon ontvang. Dit het ook baie mense se toekomsplanne en drome in die wiele gery en ma’s moes inderhaas nuwe verwagtinge vir die swangerskap en geboorte skep.

Waarvoor om uit te kyk

Volgens Fick ontwikkel simptome gewoonlik binne die eerste paar weke ná geboorte, maar kan reeds tydens swangerskap of ook ʼn jaar ná geboorte begin. “Die diagnose word by te veel ma’s eers ná jare se sukkel hiermee gedoen.”

Simptome sluit in:

  • ʼn bedrukte bui of erge buierigheid;
  • oormatige gehuil;
  • ʼn onvermoë met jou baba ʼn band te vorm – dit sluit in ʼn behoefte om afstand tussen jou en jou baba te plaas;
  • verlies aan eetlus of baie meer eet as gewoonlik;
  • onvermoë om te slaap of ʼn oormatige behoefte aan slaap;
  • oorweldigende moegheid of verlies aan energie;
  • verminderde belangstelling en plesier in aktiwiteite wat jy vroeër geniet het;
  • intense prikkelbaarheid, sensitiwiteit en woede;
  • vrees dat jy nie ʼn goeie ma is nie;
  • ʼn gevoel van hopeloosheid;
  • ʼn verminderde vermoë om duidelik te dink, te konsentreer of besluite te neem;
  • rusteloosheid of die behoefte om alles in orde te hê; en
  • ʼn erge angs en paniekaanvalle.

Fick noem egter dat nageboortedepressie uniek is aan elke vrou en dat elkeen dit anders kan ervaar.

Die oplossing    

Psigoterapie, medikasie en ʼn behoorlike mediese ondersoek is die beste manier om nageboortedepressie te behandel, sê Fick. “ʼn Mediese ondersoek is veral belangrik om aan fisieke aspekte soos diabetes, bloeddrukprobleme of hormonale wanbalanse wat tot die depressie kan bydra aandag te gee of te elimineer.”

Macaskill sê ook mediese behandeling is belangrik, maar ma’s moet oor hul gevoelens praat en deel word van ʼn netwerk van ander ma’s. “Dit help om by ʼn groep soos Moms and Babes aan te sluit, waar hulle met ander ma’s kan gesels wat dikwels presies soos hulle voel. Die ondersteuning en raad wat hulle van ander ma’s kry, is ontsaglik waardevol.”

  • Om aan te sluit by Moms and Babes besoek die webwerf hier of skakel Tania Macaskill by 082 462 4085 of stuur e-pos na [email protected].
  • Om toegang te verkry tot BetterMom se produkte en dienste, besoek die webwerf hier of kontak Fick by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.