Nuwe maselsgevalle aan’t afneem

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het mense gerusgestel dat daar nog geen verdere beduidende toename in die aantal nuwe maselsgevalle is nie, met nege nuwe gevalle wat in die laaste week in Mei aangemeld is.

Altesaam 1 060 gevalle van masels is tussen 11 Oktober en 24 Mei vanjaar in al die provinsies, buiten die Oos-Kaap, aangemeld.

In hierdie 40 weke is altesaam 6 264 serummonsters in laboratoriums getoets, waarvan 17% (1 060) positief vir die virus getoets het.

Altesaam 476 gevalle is tot dusver in Limpopo aangemeld, 217 gevalle in Noordwes, 176 gevalle in Gauteng, 109 gevalle in Mpumalanga, 32 gevalle in die Vrystaat en 21 gevalle in KwaZulu-Natal.

In die Wes- en Noord-Kaap is onderskeidelik 16 en sewe gevalle van masels aangemeld.

Die soort masels wat in Limpopo en Noordwes aangemeld is, die genotipe D8, is soortgelyk aan die soort wat verlede jaar in Zimbabwe geïdentifiseer is.

Die ouderdom van pasiënte wissel van twee maande tot 67 jaar.

Nios moedig ouers opnuut aan om hul kinders teen masels te laat inent.

Masels word deur die rubeola-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë, ʼn loopneus en ʼn uitslag op die vel. Mense van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor by ondervoede kinders en babas jonger as twee jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.