Nuwe Maties-rektor “wil terugploeg”

Prof Wim de Villiers en sy vrou Catherine (links), en dogter, Gera. Foto: US/Twitter

Prof Wim de Villiers en sy vrou Catherine (links), en dogter, Gera. Foto: US/Twitter

Prof. Wim de Villiers, die nuwe rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het gesê dit is nou sy verantwoordelikheid om terug te ploeg in sy alma mater.

De Villiers (55), ʼn oud-Matie en mediese dokter wat 24 jaar lank in Engeland en Amerika gestudeer en gewerk het, volg wyle prof Russel Botman op, wat in Junie onverwags oorlede is. De Villiers sal sy pos in 2015 opneem, maar die presiese datum is nog nie bekend nie. Prof Leopoldt Van Huyssteen, die US se bedryfshoof, bly intussen as waarnemende rektor en visekanselier aan.

“Ek voel geëerd en is baie dankbaar vir dié geleentheid,” het De Villiers oor sy aanstelling gesê. “Stellenbosch is ʼn juweel in die kroon van hoëronderwys in Suid-Afrika, en met die regte leiding en goeie spanwerk kan ons ongekende hoogtes bereik – plaaslik en internasionaal.”

“Ek het ʼn lang verbintenis met Stellenbosch, en lewer graag ʼn bydrae tot my alma mater. Ek kom van ver af, maar is ook hiervandaan. Ek het ʼn wonderlike opvoeding en baie geleenthede gekry danksy Stellenbosch. Nou is dit my verantwoordelikheid om terug te ploeg.”

De Villiers meen die US is ʼn “volwasse universiteit” wat “globaal moet kompeteer”. Hy is beïndruk met die feit dat Maties die eerste keer onder die wêreld se top 300 universiteite ingeskuif het op die Times Higher Education-ranglys vir 2014/15. “Ek besef rangordes is in sekere opsigte problematies, maar dis die globale akademiese ‘geldeenheid’ van ons era. Deur op ons sterkpunte te fokus, kan ons nog verder klim. Die US-handelsnaam is ondergewaardeer.”

Hy meen die US se meertaligheidsbeleid, wat op 22 November deur die Universiteitsraad aanvaar is en voorsiening maak vir die verhoging van die lesingsaanbod in Afrikaans sowel as Engels, sal help om meer internasionale studente en dosente te lok. “Ons moet net sorg dat die taalbeleid en -plan reg toegepas word. Ek het oorsee besef wat Afrikaans vir my beteken, so ek is bly ons bou dit akademies uit – maar so ook Engels, wat jou toegang tot die res van die wêreld gee.”

De Villiers meen Maties moet ʼn studente-ervaring hê wat “aangenaam, verwelkomend en gasvry” is – “in ʼn inklusiewe omgewing”. Hy is “verbind tot voortgesette transformasie om die ongelykhede van die verlede aan te spreek”, en steun die US se Institusionele Voorneme en Strategie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

“…globaal kompeteer…meertaligheid…inklusiewe omgewing…voortgesette transformasie…ongelykhede van die verlede…”…mmm…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.