Nuwe Mej. SA: ‘God se getrouheid het my tot hier gebring’

Ndavi Nokeri, Mej. Suid-Afrika 2022. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“God het my gedra en deur elke seisoen van my lewe my vir dié oomblik voorberei. Dit is deur Sy getrouheid alleen dat ek hier is.”

So het ʼn stralende Ndavi Nokeri Saterdagaand gesê kort nadat sy in die SunBet Arena by Time Square in Pretoria as die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon is.

Maroela Media het vroeër berig die 23-jarige is oorspronklik van Gabaza – ʼn landelike nedersetting in Tzaneen in Limpopo. Haar ouers, Betty en Moses Nokeri, is albei pastore en het volgens die jong skoonheid sterk waardes in haar gevestig om die vrou wat sy vandag is te help vorm.

Nokeri het reeds as vyfjarige aan haar eerste skoonheidskompetisie deelgeneem en speel sedert die ouderdom van ses netbal. Sy het selfs Limpopo vir etlike jare in nasionale wedstryde verteenwoordig.

Die nuwe Mej. SA het ook ʼn BCom-graad in beleggingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf en het ten tyde van haar kroning vir ʼn batebestuursfirma in Kaapstad gewerk.

“Vir ‘n meisie van Gabaza om gesien, omarm en gekies te word om haar land te verteenwoordig, is ‘n baanbrekersoomblik. ’n Oomblik wat herbevestig dat ons drome geldig is, ongeag waar ons vandaan kom.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Nokeri is ook die eerste vrou van Tsonga herkoms om die Mej. Suid-Afrika kroon te dra.

“Daar is ruimte vir elkeen van ons om te floreer, ons almal hoort hier en as die eerste Tsonga-vrou wat Mej. Suid-Afrika is, glo ek dit sal die hoop en aspirasies van diegene wat wanvoorgestel gevoel het, weer laat opvlam.”

Lalela Mswane. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Invloedryke Suid-Afrikaanse vroue, onder wie prof. Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer, die voormalige Mej. Heelal Zozibini Tunzi (2019), die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss (2014) en die bekroonde voormalige Carte Blanche- ondersoekende joernalis, Devi Sankaree Govender, het in die beoordelaarstoele gesit.

Madonsela het as deel van die finale ronde ʼn gewigtige vraag aan Nokeri gestel oor hoe sy die land sal beïnvloed om die Grondwet te omarm met die doel om sosiale kohesie te help bevorder.

Nokeri het in haar antwoord daarop gewys dat dít wat die Grondwet belowe steeds nie ʼn realiteit vir baie Suid-Afrikaners is nie en dat volhoubare en innoverende oplossings nagestreef moet word om sosiale kohesie te laat realiseer.

Lalela Mswane en Ndavi Nokeri. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Sy het egter nie net die beoordelaars nie, maar ook Suid-Afrikaners se harte gewen en die meeste stemme van lede van die publiek ontvang.

“Dankie dat julle my met hierdie posisie vertrou. Soos hierdie reis begin, sal ek werk om dit ʼn hoofstuk te maak waartydens enigiemand wat al ooit verstoot gevoel het, ingesluit voel,” het sy oor dié uitslae gesê.

Nokeri vertel verder dat dié titel al vir ʼn geruime tyd in haar visier was en dat sy veral die afgelope jaar aan die Mej. Suid-Afrika kroon toegewy het.

Die groot onderriggaping tussen landelike en stedelike skole lê haar ook na aan die hart en is iets waarop sy graag die kollig wil plaas tydens haar heerskappy.

Mislukking het volgens Nokeri haar ook deurlopend gehelp om te groei en te presteer. “Ek het besluit dat ek alleen my eie storie skryf en daarom het ek myself herdefinieer as ʼn vrou wat in staat is om om enigiets te bemagtig indien ek dit met uitnemendheid aanpak.”

As Mej. Suid-Afrika ontvang Nokeri ʼn pryspakket en borgskappe ten bedrae van meer R3 miljoen. Sy sal ook in ʼn luukse dakwoonstel in Midrand ter waarde van R10,5 miljoen by die gesogte Ellipse Waterfall-ontwikkeling in die hartjie van Waterfall City tuisgaan.

Lalela Mswane kroon Mej. Suid-Afrika 2022, Ndavi Nokeri. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Anders as vorige jare sal sy ook aan al die internasionale skoonheidskompetisies soos Mej. Heelal, Mej. Wêreld, Mej. Supranasionaal en Mej. Aarde, kan deelneem. Die naaswenner, Ayanda Thabethe (22) van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, sal slegs aan ʼn internasionale kompetisie deelneem indien Nokeri een van dié titels verower of nie in staat is om self deel te neem nie.

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het ook aangekondig dat hul na aanleiding van die onlangse aankondiging deur die Mej. Heelal-kompetisie hul reëls verander om nou ook ma’s en getroude vroue toe te laat om aan dié kompetisie deel te neem.

Die uittredende Mej. Suid-Afrika en huidige Mej. Supranasionaal, Lalela Mswane, het Saterdagaand haar voormalige plaaslike titel met ʼn traan gegroet.

“Ek was natuurlik aanvanklik hartseer om die titel te oorhandig, maar ek doen dit nou met ʼn geruste hart en die wete dat die kroon in baie goeie, bekwame hande is. Ek is uiters trots op Ndavi en sien uit om te sien wat die toekoms vir haar inhou,” het sy ná die kroningseremonie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Ek kan nie glo dat daar nog so baie belangstelling en borge is in die sogenaamde kompetisie nie.

Jean ·

Dit kan vir enige ander kompetisie ook gesê word, dit is die kykers wat dit moontlik maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.