Nuwe minimumloon: Wat staan boere te doen?

Om die stygende minimumlone vir plaaswerkers te systap sal boere al hoe meer moet meganiseer. Foto: JCBcea.com

Georganiseerde landbou stem eendragtig saam dat die nuwe minimumloon wat die regering verlede week afgekondig het, onaanvaarbaar en doodgewoon belaglik is. Daar is baie boere wat eenvoudig nie die 16%-verhoging kan bybring nie. Hierdie loon tree op 1 Maart 2021 in werking en beloop R21,69 per uur.

Christo Bester, die Landbouwerkgewersorganisasie se regsdienstebestuurder, sê dat die meeste boere prysnemers is, wat hulle produkte móét verkoop teen pryse wat die mark daarvoor aanbied.

“Hulle kan dus nie soos ander sektore net die verhoging by hulle pryse verhaal en dit verder op die waardeketting afskuif nie. Alle boere word deur duurder wordende insetkoste, inflasie en makro- ekonomiese kwessies beïnvloed, wat hulle baie kwesbaar maak. Die landbou is ook van sodanige aard dat ongeskoolde arbeid in groot getalle ʼn belangrike rol op plase vervul. Dit is ook nie abnormaal om intreewerkers ʼn intreebesoldiging te betaal nie.”

Hy sê verder dat hierdie reusesprong in die minimumloonverhoging ʼn astronomiese uitwerking op enige boerderyskaal sal hê. “ʼn Gemiddelde grootte boer wat 300 werknemers het, se loonrekening gaan met R2,1 miljoen per jaar styg.”

Die kans dat die regering sy fout gaan agterkom en die wet herroep, is ook uiters skraal. “Enige terugtrappery kan tot opstande en geweld lei. Boonop sal enige hofsake wat hieruit mag spruit uitgerek en duur raak en heel moontlik in die Konstitusionele Hof draai,” sê Bester.

Bester waarsku ook dat boere baie versigtig moet wees as hulle arbeid wil verminder as ʼn regstreekse gevolg van die minimumloonverhoging. Hy sê die hof sal afdanking as ʼn laaste uitweg beskou en boere se winsgrense sal onder die vergrootglas kom.

“Die arbeidswette moet mooi geïnterpreteer word en boere moet hulle woorde mooi kies wanneer motiverings [vir afdankings] gegee word.

“Boere sal stelsels gereed moet kry sodat arbeid baie fyner bestuur en die maksimum produktiwiteit uit werkers gehaal word,” sê Bester. “Boere sal met minder werkers meer moet uitrig.”

Boere sal stelsels in plek moet sit om met minder werkers meer uit te rig.

Hy sê meganisering is ook baie gewild onder boere wat gebuk gaan onder niemededingende lone. Dit sal wel ʼn reuse-kapitaaluitleg vereis, maar met slim inwerkingstelling bied dit ʼn uitweg.

Maroela Media het by Bester gaan aanklop oor die aantal opsies tot boere se beskikking om op die korrekte wyse van arbeiders ontslae te raak.

 Herstrukturering

ʼn Boer kan sy boerdery herorganiseer met die doel om meer winsgewend te wees of aan operasionele vereistes te voldoen. Werksdae, werksure, vergoeding en pligte is algemene aspekte wat gewysig kan word tydens die herstruktureringsproses.

Herstrukturering vind gewoonlik plaas tydens veranderinge in:

  • Struktuur (eienaarskap, bestuur of afdelings);
  • Doelwitte en visie;
  • Finansiële posisie (die ekonomie, gewysigde wetgewing se uitwerking op bedryfskoste, nuwe mededingers in die mark, minimumloon, ens.); en
  • Tegnologie (nuwe tegnieke en metodes om take vinniger te verrig asook tegnologiese uitvindings).

Werkgewers moet kennis neem dat wanneer eensydige veranderinge aan die bepalings en voorwaardes van die indiensname gemaak word, die werknemer die aangeleentheid na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) kan verwys.

Aansoek om kwytskelding

Die betaling van die minimumloon is nie onderhandelbaar nie en moet betaal word. Werkgewers moet spesifiek let op artikel 15 van die Nasionale Minimumloonwet, wat bepaal dat indien werkgewers nie die nasionale minimumloon kan bekostig nie, hulle aanlyn aansoek om kwytskelding kan doen. Indien kwytskelding toegestaan word, sal die werkgewer steeds minstens 90% van die nasionale minimumloon moet betaal. Kwytskelding is ook geldig vir ’n tydperk van maksimum 12 maande.

Werkgewers moet versigtig wees vir die slaggat om slegs die “nasionale minimumloon” as hoofrede aan te voer wanneer personeel verminder word, veral indien die werkgewer versuim het om gebruik te maak van die kwytskeldingsproses. Dit kan geag word dat die werkgewer nie alle beskikbare opsies oorweeg en aangewend het om personeelvermindering te vermy nie. Dit kan daartoe lei dat die afleggings moontlik as prosedureel onbillik deur die KVBA beskou kan word.

Personeelvermindering

Personeelvermindering is ’n geen-fout-afdanking, aangesien die werknemer niks verkeerds gedoen het nie en die afdanking in ooreenstemming is met operasionele vereistes. Soos met alle afdankings moet die personeelverminderingsproses substantief en prosedureel billik wees.

Werkgewers moet kennis neem dat die diensverhouding in geen omstandighede eensydig beëindig kan word sonder dat die nodige arbeidsregtelike proses eers gevolg is nie, ongeag of dit ’n dissiplinêre proses, onbevoegdheidsproses of personeelverminderingsproses is.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Natasha

En so help die ANC werkloosheid aan. Is dit regtig so pynlik vir hulle om te dink en hulle gesonde verstand te gebruik?

Retnev

Met die eerste instelling van minimum loon het meeste van my boereklënte hul arbeidsmag verminder. Hierdie gaan die werkloosheidsyfer net weer verder opdruk. Die regering wil net eenvoudig nie leer uit hul foute nie.

Pieter

Raak van ouer people ontslae dan kan die brein dood ANC vir hulle werk gee. Ons boere moet maak soos die boere in rusland staan almal saam en maak die unie gebou toe.

Persheks Adri

Die werkers moet maar gaan geld kry by Cyril en kaders. Die boere kan dit eenvoudig nie bekostig nie! Wat verstaan die klomp nie of moet ons regtig prentjies teken? Gaan bedank julle sogenaamde president gggmmmfff

Flip

Die proses is aan die gang om die boere van hulle plase af te dwing met bankrotskap. Daar word nie opgetree teen veediefstal nie en so min as moontlik teen plaasaanvalle. Hoe kan die plaaawerkers die selfde verdien mel al die ander vooerdele?