Nuwe ministers aangekondig

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag enkele veranderinge aan sy kabinet by die Uniegebou in Pretoria aangekondig.

Nomvula Mokonyane is aangestel as die nuwe minister van omgewingsake. Dit kom nadat Edna Molewa, voormalige minister, in September in die ouderdom van 61 oorlede is. Haar familie het later gesê haar dood is deur komplikasies weens legioensiekte veroorsaak.

Siyabonga Cwele is aangewys as die nuwe minister van binnelandse sake nadat Malusi Gigaba verlede week uit dié posisie bedank het.

Dié bedanking het gekom nadat die openbare beskermer verlede maand in ʼn verdoemende verslag bevind het Gigaba het die Grondwet én die kabinet se etiese kode oortree in verband met Fireblade Aviation-saak.

Gigaba was nog besig om dié vure dood te slaan toe ʼn video van seksuele aard van hom aan die lig gekom het. Hy het gesê dié video was vir sy vrou bedoel en kuberkrakers het toegang tot sy staatselfoon gekry en wou die video gebruik om hom af te pers.

Ramaphosa het ook aangekondig dat die departement van kommunikasie en die departement van telekommunikasie en posdienste sal saamsmelt en dat Stella Ndabeni-Abrahams die minister van dié departement sal wees. Volgens die president is dié samesmelting in ooreenstemming met die regering se poging om die staat te herbelyn om beter samewerking te verseker oor kwessies wat noodsaaklik is vir Suid-Afrika se toekoms.

Ramaphosa het bygevoeg die samesmelting van die twee ministeries kan gesien word as “die eerste golf” van die herbelyningproses.

Die president het ook aangekondig dat Thembi Majola, adjunkminister van energie, bedank het weens familieverpligtinge.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

OS ·

Natuurlik nie, Ryan. bevoegde mense sal nie in die kabinet deug nie.

wraggies ·

Asseblief, wat ‘n mors van tyd, “it’s like re-arranging the deck chairs on the Titanic”.

Eddie ·

Geringe troos deurdat twee departemente saamsmelt beteken reeds ‘n groot besparing ! Doen so voort Cyril !!!

GP ·

Buiten die grond kwessie dink ek CR maak n paar goeie skuiwe. Dink nie hy is wat ons almal met hoe verwagtinge voor gehoop het nie maar wie anders sal op die stadium beter doen?

Alida ·

Ag nee wat hy kon beter gedoen het en gulde geleentheid laat verbygaan om n paar afdankings te doen.

Jan Alleman ·

Almal skuif maar net stoele rond terwyl die Titanic sink.

AH ·

Wat ‘n mors van tyd! Niks verander nie! Die feit dat Me Dlamini nog daar is spreek boekdele…………………

sus ·

Net nog tjommie-tjommie poste wat uitgedeel is … Gigaba se vertrek is nie skade nie, maar nou gaan hy seker nie vervolg word nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.