Nuwe Mpumalanga-polisiebaas praat oor voorval met konstabel

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Lt.genl. Mark Magadlela, nuut aangestelde provinsiale kommissaris, het Donderdag gesê sommige media berigte wat die rondte doen oor ʼn voorval waarin hy twee weke gelede met ʼn konstabel betrokke was, beswadder sy reputasie.

Dit volg nadat daar wyd berig is dat ʼn polisiekonstabel in die sop is nadat hy glo “per ongeluk” vir Magadlela aangerand het. Magadlela was op ’n verrassingsbesoek by verskeie polisiestasies in die provinsie as deel van sy veldtog om korrupsie en dissipline in die polisie te takel.

Hy en sy kollega, kol. C. Mhlonthlo, het saam in siviele drag in ʼn voertuig gery sodat hulle onopmerklik kon wees tydens hul besoeke. Hulle was op pad na die Belfast-polisiestasie toe hulle die konstabel met ’n polisiebakkie in die dorp sien stilhou. Daar was ʼn kind saam met hom in die amptelike voertuig, wat teen die polisie se beleid is. Hy het na die bakkie gestap en die sleutel verwyder, waarna die konstabel na bewering die sleutels teruggegryp en Magadlela te lyf gegaan het. Magadlela het glo tydens die voorval sy vinger beseer.

Sommige mediahuise het berig dat Magadlela in ʼn vuisgeveg met die beampte betrokke was en hom ook nie gesteur het aan die welstand van die kind nie. Dit het hom genoop om met die “ware feite” vorendag te kom.

Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag in ʼn verklaring gesê Magadlela erken hy het ʼn amptelike voertuig van die Mhluzi-polisiestasie, naby Middelburg, buite ʼn drankwinkel in Belfast gesien stilhou.

“Aangesien die voertuig aan ʼn ander stasie behoort, wou hy vasstel wat die voertuig in die gebied doen, juis omdat daar gereeld klagtes is dat die polisie nie uitkom as hulle ontbied word nie,” het Hlathi gesê. “Hy sien toe ʼn man met bier in sy hande na die voertuig se passasierkant toe loop.”

Magadlela het na die man geloop en homself voorgestel. Hy wou by die man weet wat hy met ʼn polisievoertuig op ʼn Sondag by ʼn drankwinkel so ver van Mhluzi af doen. Mhlonthlo het by hulle aangesluit en homself ook voorgestel, maar die man het hul albei ignoreer. Hlathi het gesê daar is eers later vasgestel die man is ʼn polisiekonstabel.

“Die kommissaris het ook gesien dat daar ʼn vrou in die voertuig was en nie ʼn kind soos wat berig word nie. Die vrou is deur die kommissaris ondervra oor waarom sy in die voertuig was en of sy beampte of ʼn klaagster is. Die vrou het omverskoning gevra en uit die voertuig geklim,” het Hlathi gesê.

“Die konstabel het besluit om die vrou te agtervolg. Die kommissaris het gesien die voertuig se sleutels is steeds in die aansitter en hy het dit verwyder. Die konstabel het toe teruggekeer en die sleutels met geweld uit die kommissaris se hande gegryp. Die kommissaris het in die proses ʼn besering aan een van sy vingers opgedoen. Daar was nie ʼn vuisgeveg nie.”

Volgens Hlathi het Magadlela besluit om hom van die situasie te onttrek, aangesien die konstabel gewapen was. Hy het egter die konstabel tot by die Mhluzi-polisiestasie, sowat 60km van Belfast af, agtervolg.

“Die res van die besonderhede kan nie bekendgemaak word nie aangesien ʼn interne ondersoek teen die beampte onderweg is,” het Hlathi bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tammy ·

Dit lyk of ons hier n man het wat die korruptes gaan vasvat. Baie dankie . Ons hou jou dop.

ig ·

Nee wat Tammy,hulle gaan hom uitwerk.Ek praat van ondervinding

Piet Pompies ·

Uitstekend gedoen, ek hoop die nuus versprei landswyd sodat die oortreders wakker skrik uit hulle parasitiese misbruik van staats toerusting.

Dries ·

ig se kommentaar is reg, reg, hulle gaan hom uitwerk. Tensy hy gereed maak daarvoor en alle stelsels en kontrole meganismes aanwend om die vrot appels uit te werk…… daar is nog manne en vroue wat WIL in die polisie wat hom sal ondersteun, hy moet net onderskei tussen reg en verkeerd en die verkeerd hand en tand beveg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.