Nuwe nasionale park vir Oos-Kaap op pad

Die landskap van die voorgestelde nasionale park. (Foto: WWF)

Suid-Afrikaners kan dalk uitsien na ʼn nuwe nasionale park in die berge van die Oos-Kaap naby die Lesotho-grens. Die nuwe park sal glo met behulp van privaat- en gemeenskapsgrondeienaars tot stand gebring word.

Die voorgestelde NE Cape Grasslands- nasionale park sal die bekende Naude Nek-pas insluit wat etlike kilometers deur die suidelike Drakensberge kronkel. Dié pas, wat meer as 2 500 m bo seevlak is, is een van Suid-Afrika se hoogste paaie.

Dr. Luthando Dziba, waarnemende uitvoerende hoof van SANParke, sê die doel van die voorgestelde park is om ʼn ekologiese, ekonomiese en sosiaal volhoubare gebied te vestig.

“Die park sal nie op die tradisionele wyse bestuur word nie, aangesien dit binne ʼn werkende landbougemeenskap geleë is. Grondeienaars sal die geleentheid kry om vrywillig, deur rentmeesterskap, hul grond by die park in te sluit. Hulle kan sodoende ook finansieel daarby baat indien die gebied amptelik beskerm word.”

Dit sneeu ook soms in dié gebied. (Foto: WWF/Facebook)

Die nuwe park sal na verwagting beduidende staatsfinansiering geniet om die landskap, waaronder die vleilande, volkome te herstel en in stand te hou.

“Die ongerepte gebied kan ook avontuurlustige toeriste lok wat die plaaslike gebied se ekonomie ʼn welverdiende hupstoot kan gee,” het Dziba gesê.

SANParke, in samewerking met die Wêreldnatuurfonds (WWF), hoop om die gebied van 30 000 ha se grasvelde en natuurlike waterbronne te bewaar en bestuur sodat alle Suid-Afrikaners dit vir jare nog kan geniet.

“Hierdie gebied kan vir jare floreer onder die vaandel van ʼn nasionale park en soveel te meer deur die hulp van diegene wat in die gebied woon,” het dr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van WWF Suid-Afrika, gesê.

“Die stigting van ʼn nuwe nasionale park is ʼn wen-wen-ooreenkoms vir die natuur en die gemeenskap. Ons is opgewonde daaroor om die projek te verwesenlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bertus ·

Beduidende staatsbydrae ….. hahahahaha. Nog om in die sak te steek dus.

Casper ·

Naby die Lesotho grens.Dit is ‘n resep vir meer wilddiefstal.Die boere daar gaan reeds gebuk onder ergere veediefstalle.Ek wonder wat gaan wildsvleis kos.

Tiptol ·

Moet toerisme in huidige parke nie eers herstel word voordat ‘n klomp geld uitgehaal word vir ‘n nuwe park nie? Wonder hoeveel geld gaan in tenders verdwyn…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.