Nuwe navorsing gee hoop aan kankerpasiënte

Grafika: Andreus/Depositphotos

Navorsers by die Universiteit van Cardiff in Brittanje het per toeval ʼn “nuwe” soort T-sel ontdek wat die potensiaal bied dat ʼn universele middel ontwikkel kan word om kanker te genees.

T-selle is die liggaam se “soldate” wat vyande in die liggaam herken en aanval. ʼn Groot deel van die bestaande navorsing om nuwe en beter kankermiddels te ontwikkel is daarop gerig om T-selle te ontwikkel wat wel die kankerselle kan herken en dit dan aan te val.

Daar word na dié soort selle as supersoldate verwys. Verder word gekyk na maniere om hierdie superselle vir die kankerselle onsigbaar te maak, sodat dit die andersins onindringbare gewasse kan indring en dan van binne hul goeie “verwoestingswerk” te kan aanpak. Onlangse berigte dui daarop dat die nanotegnologie met goue kapsules hiermee sal kan help, amper soos om die selle soos Trojaanse perde te gebruik.

Pasiënte wat geskik is om behandeling met die huidige T-selterapie te ontvang, is ʼn klein minderheid, en net enkele soorte kanker kan daarmee behandel word. Die nuwe verwikkelinge hou die potensiaal in om een middel te ontwikkel, wat moontlik in alle gevalle gebruik kan word.

Foto: Voisin/Phanie/Rex Features

Omdat tot baie onlangs geglo is dat dit onmoontlik sal wees om ’n universele tipe T-sel te kry, is tot dusver gefokus op ʼn duur en tydsame proses om T-selle te ontwikkel wat vir ’n spesifieke pasiënt ontwikkel is, en geprogrammeer is om ʼn bepaalde soort kanker die stryd aan te sê. Dit staan as CAR-T immunoterapie bekend. Volgens die verslag oor die jongste verwikkelinge lyk dit of die nuwe ontwikkeling die potensiaal het om ʼn groot verskeidenheid kankersoorte aan te val, maar gesonde selle uit te los.

Die ontwikkeling van die teenmiddels neem gewoonlik etlike jare voor die gesondheidsbeheerliggame toetse op mense toelaat, en daarna voor dit as geneesmiddel goedgekeur word. As alles reg verloop, behoort so ’n middel oor enkele jare beskikbaar te wees, hoewel dit nie duidelik is wanneer Suid-Afrikaanse dokters toegang daartoe sal hê nie.

Dit bied hoop aan kankerpasiënte op wie bestaande middels nie doeltreffend werk nie, maar tog nog ʼn paar jaar kan uithou. Sommige soorte kanker is besonder skaars en kan vanselfsprekend navorsingsgewys nie oor dieselfde kam geskeer word as die “grotes”, waaronder prostaat‑ en borskanker, nie. Boonop gebeur dit soms dat kanker muteer en dan immuun is teen die tipe chemo wat ingespan was. ʼn Universele middel sal dus veral vir dié pasiënte baie help.

Boonop bestaan die moontlikheid dat ’n ander deurbraak of middel die wat op die super-T-selterapie wag, se wag kan kortknip.

Hierdie navorsing maak deel uit van navorsing om doeltreffende middels te vind wat as alternatief gebruik kan word vir die dosyne tipes chemo‑middels wat al vir bepaalde tipes kanker ontwikkel is, maar wat soms ernstige newe-effekte het omdat gesonde selle ook dikwels aangeval word. Daar is egter ook reeds in geslaag om verskeie tipes kanker, waaronder sekere tipes leukemie, met chemoterapie te kan genees.

Nuwe middels kan egter besonder duur wees. ʼn Middel wat sekere tipes melanoomkanker doeltreffend kan genees, kos byvoorbeeld meer as R1miljoen per dosis, en meer as een dosis is gewoonlik nodig. Mediese fondse is traag, of weier volstrek, om dit te betaal.

Bronne:

  1. The Telegraph
  2. Irish Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vossie ·

Saffran doen dieselfde en is orals beskikbaar. Google Dr Oz se behandeling vir kanker.

Wenz ·

Sê net, wat help dit hulle ontwikkel sulke wonderlike geneesmiddel wat 90% van mense se afsterwe veroorsaak, maar geen siel kan dit bekostig nie.

Hoekom dan soveel jaar spandeer om n geneesing te kry, maar niemand sal dit kan gebruik nie, wat het daai uitvinder dan nou eintlik bereik.

Prescription ·

Navorsing – patenteer dit en word skat – skatryk . Ou Rockefeller. Intussen is daar alreeds n kuur . Die ouens is nie daar vir die liefde van die mensdom nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.