Nuwe Noordwes premier ingehuldig

Job Mokgoro (Foto: ANA)

“Die partytjie vir staatsamptenare in Suid-Afrika se Noordwes-provinsie is verby,” het Job Mokgoro, die nuwe Noordwes-premier, Vrydag gesê.

“Ons beoog om te werk aan die herstelling van stabiliteit en om diensleweringskwessies te hanteer.”

Mokgoro het dié uitsprake gemaak nadat hy tydens ʼn spesiale vergadering van die provinsiale wetgewer as die nuwe premier van dié sukkelende provinsie verkies is. Sy inhuldiging volg nadat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, Donderdag aangekondig het dat Mokgoro die party se premierskandidaat is om Supra Mahumapelo op te volg.

Dit kom ook nadat Mahumapelo as lid van die Noordwes- provinsiale wetgewer bedank het om plek te maak vir Mokgoro om tot premier van die provinsie verkies en ingehuldig te word. Mokgolo is die voormalige direkteur-generaal (DG) van Noordwes en is tydens sy termyn as ʼn baie streng DG gesien.

Alfred Motsi van die EFF is vroeër beveel om die vergadering te verlaat nadat hy beswaar gemaak het teen die teenwoordigheid van die Noordwes-regterpresident Monica Leeuw. Sy word deur Motsi daarvan beskuldig dat sy die moordenaars van Moss Phakoe, die burgemeester van Rustenburg, in 2014 vrygespreek het.

“Ons het nie ʼn regter gekies nie. Dit is die regter wat die Moss-moordenaars ontslaan het,” het hy gesê toe Leeuw as voorsitter van die vergadering opgetree het

Speaker Sussana Dantjie het Motsi beveel om die vertrek te verlaat.

Maroela Media het vroeër berig Mokgoro se aanwysing as premierskandidaat is deur verskeie organisasies verwelkom, en hy is onder meer bestempel as ʼn “beproefde en bewese administrateur”. Die EFF het egter uitgevaar oor dié besluit van die ANC om Mokgoro die party se premierskandidaat te maak en in ʼn verklaring gesê daar is “letterlik en figuurlik niks nuuts aan hierdie aanstelling nie.

Die EFF het verder gesê Mokgoro se aanwysings as premierskandidaat is aanduidend daarvan dat daar niemand binne die ANC is wat korrupsie-vry is en die kapasiteit het om belangrike politieke ampte te beklee nie.

Mokgoro het Vrydag gesê hy het ʼn baie spesifieke mandaat – om hoop en vertroue in die provinsie te herstel. Hy het gesê hy sal so vroeg as volgende week begin om te probeer om vertroue tussen die provinsiale regering en mense van Noordwes te herstel.

Opposisiepartye het ʼn beroep op Mokgoro gedoen om sommige lede van die provinsiale kabinet wat in Mahumapelo se ampstermyn gedien het, af te dank. Hulle moedig hom aan om korrupsie uit te wis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Colleen ·

Is dit so? Seker ‘n grap. Gaan delf diep genoeg en kyk hoe bekwaam, bevoeg en gekwalifiseerd is hy vir die pos.

Neels ·

Is dit nou n grap daar gaan natuurlik partytjie gehou word om sy aanstelling te vier. Daar gaan nog baie ander partytjies ook gehou word om vir Supra totsiens te se. M.M . Gebruik eerder n ander stelling om te se dinge gaan verander in noordwes.

zoom zoom ·

Job se baas bly nogsteed supra. Dit maak geen sin. Of is ek verkeerd ???

Johann cb ·

Ek hoop jy het Job se geduld om sy Provinsie te hervestig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.