Nuwe NVG-hoof dán aangekondig

Adv. Shaun Abrahams, die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Cyril Ramaphosa sal Dinsdag by die Uniegebou in Pretoria die naam bekend maak van die persoon wat die belangrike amp van nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) sal opneem.

Dié aankondiging kom nadat 11 kandidate verlede maand deur ʼn uitmergelende onderhoudproses gesit is om die mees gepaste kandidate vir dié invloedryke pos te identifiseer.

Die persoon sal die leisels oorneem nadat adv. Shaun Abrahams in Augustus die trekpas gegee is toe die konstitusionele hof beslis het die verwydering van Mxolisi Nxasana as hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) was ongrondwetlik en dat die aanstelling van Abrahams in sy plek dus ook ongrondwetlik was.

Dr. Silas Ramaite het sedertdien as NDOV waargeneem.

Twaalf kandidate is deur ʼn paneel van agt lede geïdentifiseer as moontlike kandidate vir die pos met wie daar onderhoude gevoer moes word. Een van dié kandidate, adv. Glynnis Breytenbach, het haar egter aan die proses onttrek voordat die onderhoude begin het en gevolglik is net 11 kandidate deur die onderhoudproses gesit.

Ramaite het ook die kortlys gehaal van kandidate met wie daar onderhoude gevoer is, maar was uiteindelik nie een van die vyf kandidate wat deur die paneel aanbeveel is vir die pos nie. Adv. Shamila Batohi, adv. Siyabulela Mapoma, adv. Simphiwe Mlotshwa, adv. Rodney de Kock en adv. Andrea Johnson is die name wat deur die paneel aan Ramaphosa voorgelê is.

Ramaphosa het voorheen gesê hy sal met Michael Masutha, minister van justisie, oorleg pleeg voordat hy sy besluit neem, maar die finale besluit berus uiteindelik by die president.

Die aankondiging sal môre om 14:00 gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Kom ons hou duime vas dat CR van hierdie aanstelling nie so ‘n gemors van sal maak soos die aanstellings van die ministers van kommunikasie en omgewingsake nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.