Nuwe ondersoek na Mrwebi, Jiba begin

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

ʼn Nuwe ondersoek na die geskiktheid van twee senior amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag, adv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, het vanoggend in Centurion begin.

Die ondersoek vind onder die voorsitterskap van regter Yvonne Mokgoro plaas. Die publiek en media is genooi om die openbare sitting, wat om 10:00 begin het, by te woon. Een van die eerste getuies in die getuiebank sal dr. Silas Ramaite, die huidige waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging wees. Ná hom sal adv. Chris Jordaan SC getuig.

Pres. Cyril Ramaphosa het Jiba en Mrwebi in Oktober 2018 geskors hangende die uitkoms van die ondersoek. Jiba is die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, en Mrwebi die spesiale direkteur van openbare vervolging.

Die ondersoek sal fokus op Jiba en Mrwebi se hantering van verskeie hofsake waarby onderskeidelik Freedom Under Law, oudpres. Jacob Zuma, die DA en die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, betrokke was.

Jiba en Mrwebi is albei op 15 September 2016 op spesiale verlof geplaas en van die rol van advokate geskrap weens verskeie omstrede besluite. Hulle het teen dié besluit geappelleer en die appèlhof het in Julie verlede jaar die skrapping tersyde gestel.

Die appèlhof het bevind die algemene balieraad van Suid-Afrika het versuim om te bewys dat Jiba skuldig was aan wangedrag in haar hantering van die Richard Mdluli-saak.

Die balieraad se klagte teen Mrwebi het ook verband gehou met die Mdluli-saak. Daar is spesifiek aangevoer dat hy ʼn wanvoorstelling gemaak het van die omvang van sy konsultasie met die NVG se adv. Sibongile Mzinyathi voordat ʼn besluit geneem is om aanklagte van bedrog en korrupsie teen Mdluli, die voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, terug te trek.

Die appèlhof het bevind die balieraad kon wel vasstel dat Mrwebi hom aan wangedrag skuldig gemaak het, maar die straf om hom van die rol te skrap, is nie geregverdig nie omdat sy gedrag nie tot sy eie persoonlike voordeel was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pote ·

Dis omtrent tyd. Hoop die inligting oor beweerde manipulering kom uit

Liezl ·

Waar kom al die direkteure en senior beamptes en belangrike mense vandaan, vra ek…liewe genade. Al wat ‘n Jan rap is, sit in die boonste kringe. Maar moet seker nie die vraag vra nie…. Ek het gelukkig gewerk vir wat ek het, sonder toutjies wat getrek is. Sulke toutjies word gewoonlik geknip

Gemaskerde Sopbeen ·

In die ou dae het jy ‘n CV aangeheg by jou aansoek vir ‘n pos………en tydens ‘n hele paar onderhoude is jou “bevoegdheid om die pos te beklee” ondersoek en getoets. Hoe werk dit nou? Jy kry ‘n pos….jy mors dit op….jy word geskors met vollle salaris en voordele….somtyds vir jare….dan word jou bevoegdheid om die pos te beklee ondersoek…en jy kry 90 dae kans om te motiveer waarom jy NIE afgedank moet word nie……..terwyl ‘n “temp” al jou werk doen….teen tweekeer jou salaris……..en dan wonder almal waar die geld heen is??

Maljan ·

Maar laat n witman in die arbeidsmag 55jaar oud word. Dan word hy Maandag geskors vir n oortreding wat hy nie begaan het nie. Vrydag verhoor en afbetaal. Dan sal sê ccma sê “da employa have da right to fiya you.” punt, pêla oor en uit.

Spike ·

Die comrades en kaders sal hulle beskerm. Sal in sa niks oorkom nie.

Jerry ·

Dit klink na n sameswering tussen die balieraad en appelhof wanneer die balieraad versuim om wangedrag te bewys en die appelhof daardie versuim dan heel gerieflik as rede regverdig vir die tersyde stel van Jiba en Mrwebi se skrapping. Dit beteken dat elke keer wat die balieraadkaders se comrades voor die balieraad verskyn dan hoef die kaders slegs te versuim om hulle werk te doen, want die appelhofkaders sal elke keer in die guns van die comrades beslis. Die saak word nie terugverwys en die balieraad aangese om hulle werk behoorlik te doen nie, nee wat, dit is te voor die hand liggend dat dit heel gerieflik geskrap sal word, sodat geen haan dan daarna, sal kraai nie. Misleiding, kaderontplooiing en korrupsie het reeds oor so n wye front plaasgevind, dat enige persoon in SA en in die buiteland wat glo dat SA se regbank onafhanklik staan van die ANC ideologiese narratief, uiters naief is en desperaat hoopvol is dat SA nie die zimbabwe pad moet stap nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.