‘Nuwe ongeregtighede’ kan nie oues regstel – verslag

(Foto: pixabay)

Die burgerregtegroep AfriForum het ʼn verslag bekend gemaak oor die wetlike status van gelykheid in Suid-Afrika, asook daaroor of die land ooit objektief as “getransformeerd” beskou kan word.

Die verslag is gegrond op onlangse hofsake oor die hof se toepassing van die gelykheidsbeginsel in die Grondwet.

Luidens die navorsing neem die regbank sy taak baie ernstig op om die uiteenlopende belange wat ter sprake is in sake van transformasie en gelykheid deeglik en omsigtig op te weeg. Daar word egter ook bevind dat Suid-Afrika nog nie naastenby ʼn punt bereik het waar dit lyk of die wetgewende gesag die geldigheid van kriteria wat in sulke sake gebruik word, heroorweeg nie.

Die navorsers het bevind dit kan veral gesien word waar inbreuk gemaak word op sommige minderheidsgroepe se reg op gelykheid, maar dit geregverdig word deur die howe se vertolking van die beperkings op die reg op gelykheid.

Die verslag bestaan uit drie dele. Die eerste omskryf die geregtelike raamwerk wat die reg op gelykheid beskerm en die najaag van substantiewe gelykheid dryf. Die tweede deel bevat gevalle, uitsprake en verslae wat betrekking het op onregverdige diskriminasie. In die derde word die  moontlikheid ondersoek of Suid-Afrika wel meer in die rigting van ’n gelykmakende samelewing beweeg.

“Die opvatting oor wat gelykheid beteken, het onlangs ʼn onderwerp van openbare bespreking begin word, veral omdat die ANC-regering se siening daaroor drasties verskil van hoe die meeste mense dit verstaan. Ons het die afgelope paar jaar toenemend gehoor dat daar gepraat word van ‘positiewe diskriminasie’, wat ʼn gevaarlike koers en ʼn ontstellende begrip is as ʼn mens die logiese uiteinde daarvan in ag neem,” het Ernst Roets, veldtogbeampte by AfriForum, gesê.

“ʼn Goeie voorbeeld hiervan was toe Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, gesê het dit is heeltemal geldig dat Covid-19-hulpfondse volgens ras toegeken word.”

AfriForum en Solidariteit het die Pretoriase hooggeregshof gevra dat die departement se beleid om rassekriteria vir die toekenning van hulp tydens die Covid-19-krisis aan ondernemings in te span, ter syde gestel word. Die hof het die aansoek van die hand gewys.

Die organisasies nader nou die appèlhof in Bloemfontein oor die kwessie.

“Nuwe ongeregtighede kan nie ongeregtighede van die verlede regstel nie, om die eenvoudige rede dat die hede ʼn nare en konsekwente neiging het om weer die verlede te word. Op dié manier word daar weer ʼn nuwe generasie van benadeelde mense geskep. Hoekom sal iemand ʼn nuwe slaggat grawe om ʼn ander een mee te vul? Dit is dus van uiterste belang dat gelykheid goed gedefinieer word en nie deur ideoloë gekaap word nie,” het Van Zyl gesê.

In die verslag word die vraag onder meer gevra of enige samelewing gelykheid bereik het. “Suid-Afrika is ʼn unieke land, veral wat betref die vorm en uitwerking wat kolonialisme daarop gehad het. Die meeste rasionele mense sal saamstem dat ʼn abnormale situasie ʼn abnormale oplossing verg.

“Dit lyk egter of die huidige aanslag soms die buitengewone verbysteek en jou laat stilstaan wanneer die letterlike definisie van billikheid oorweeg word. Die verloop van tyd het nie sulke abnormaliteit versag nie,” lui die verslag.

Die navorsers sê hoewel gelykheid ʼn groot besprekingspunt in die land bly, is daar baie min aanduiding van hoe dit uiteindelik gaan verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Ek was ñ jongmens toe Mandela vrygelaat is en is in my vroeë 50’s. Hoe lank moet ons nog gestraf word van iets wat daardie tyd buite ons generasie se beheer was?
Ek het arm grootgeword, my ouers kon nie bekostig om my universiteit toe gestuur het nie.
Maar ek word valslik beskuldig van wit bevoordeling.

Jaco ·

wat ek min sien, is openbare klagtes oor diskriminasie teen kleurlinge en indiers. daar is ‘n persepsie dat hulle glo “minder” gely het onder apartheid en wanneer dit dan by werksaansoeke kom, hoor baie van hulle goed soos “sorry you are not black enough” en “ons personeelsamestelling moet die nasionale demografie weerspieel”
Ek suig die goed nie uit my duim nie. Af en toe is daar berigte daaroor in die pers en ek hoor dit ook baie by kleurlinge en indiers deur my werk en my kerk.

Sarel ·

Dasr is wynig verskil tussen die sg. ” Apartheid.jare” en vandag se Regering maar nog steeds wil diexwereld dit nie sien nie.

Gerrie ·

Aaan die fondasie van die “meerderheidshouding” lê ‘n inherente minderwaardigheidskompleks wat dan deur wetgewing en regeringsbeleid geneutraliseer moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.