Nuwe pad vir Plettenbergbaai-lughawe

ʼn Foto van die nuwe pad na Plettenbergbaai-lughawe Foto: Wes-Kaapse departement vervoer en openbare werke

ʼn Foto van die nuwe pad na Plettenbergbaai-lughawe Foto: Wes-Kaapse departement vervoer en openbare werke

ʼn Nuwe pad na die Plettenbergbaai-lughawe ter waarde van R100 miljoen sal ʼn positiewe impak hê op die streek se ekonomie.

Donald Grant, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, het Sondag gesê die 15 maande lange projek word gedryf deur die behoefte om die westelike kant van Plettenbergbaai met die N2 te verbind en bied ook makliker toegang van Plettenbergbaai-lughawe na die nuwe nywerheidsontwikkelingsgebied, langs die lughawe op die N2. Dit sal die vierde toegangsroete na Plettenbergbaai wees, het Grant gesê ná die pad Saterdag oopgestel is.

Die nuwe pad sal na verwagting ook ʼn sleutel wees tot ʼn toename in toerisme in die gebied en kan ook die moontlikheid van eiendomsontwikkelings langs die pad verhoog. Toerisme bly ʼn groot ekonomiese dryfveer in die streek, en dra nagenoeg 60% by tot die streek se BBP, wat meer as R2 miljard per jaar beloop, het hy gesê.

“Die toerisme-bedryf is ook die grootste werkverskaffer, en bied werk aan meer as 4 000 mense met die moontlikheid van verdere poste soos die bedryf groei. “Die grootte en volgehoue groei van die bedryf is ʼn bewys van dit wat die streek het om te bied aan die duisende besoekers wat dit jaarliks besoek.

“Al hierdie faktore maak die R100 miljoen-belegging deur die Wes-Kaapse regering deur sy departement van vervoer en openbare werke in Plettenbergbaai strategies en kan moontlik groot vrug lewer in die toekoms. Die Eden-distrik bly een van die ekonomieë in die provinsie wat die vinnigste uitbrei, danksy infrastruktuur-beleggings soos dié een,” het Grant bygevoeg.

Die Wes-Kaapse regering het miljarde rand in infrastruktuur belê in die Bitou-munisipaliteit en die groter Eden-distrik. Drie nuwe skole, twee klinieke en ʼn hospitaal en groot padkonstruksieprojekte is van die beleggings wat gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

simon ·

As ek dit reg het is twee dinge feite.
1. Plet is in Wes-Kaap Provinsie.
2. Die DA is in beheer van die Wes-Kaap Kaap.

Waar het die ANC NUWE infrastruktuur geskep in RSA. Kan nie eers bestaande infrastrukture in stand hou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.