Nuwe paddaspesie in Madagaskar na NWU-prof vernoem

Prof. Louis du Preez [Foto: NWU]

Daar is nou ʼn nuutontdekte paddaspesie op die eiland van Madagaskar wat die Suid-Afrikaanse akademici laat gons omdat dit na een van sy eie vernoem is.

Die Malgassiese paddaspesie, genaamd Blommersia dupreezi, is vernoem na prof. Louis du Preez, professor in dierkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Die eer is toegeken deur ʼn groep Duitse wetenskaplikes van die Universiteit van Braunschweig, Landesmuseum in Darmstadt en die Dierkundige Museum in München, ter erkenning van Du Preez se aansienlike bydraes tot die begrip van die platwurmparasiete van Malgassiese anurane.

“Ek is dankbaar om erkenning te kry vir my werk in Madagaskar deurdat ʼn gewerwelde dier na my vernoem is. Dit is ʼn groot eer en ek is nederig oor die gebaar,” het Du Preez gesê.

Du Preez is ʼn bekende B-gegradeerde Nasionale Navorsingstigting-wetenskaplike en is verbonde aan die eenheid van omgewingswetenskappe en ontwikkeling aan die NWU.

Sy rol as leier van die Afrika-amfibieëbewaringsnavorsingsgroep word hoog aangeslaan in wetenskaplike kringe. Die groep se navorsing fokus op die bewaring en welstand van amfibieë.

Du Preez se navorsing fokus op amfibieë en hul parasiete. Hy het sewe boeke geskryf – waaronder The Field Guide to Frogs of Southern Africa – asook 168 eweknie-geëvalueerde wetenskaplike referate.

Blommesia dupreezi (Foto: African Journal of Herpetology)

Sy bydrae tot die kennisveld eindig nie daar nie, want hy het saam met Vincent Carruthers ʼn slimfoon-toepassing oor die paddas van Suider-Afrika geskep, wat werklik prysenswaardig is.

Du Preez sê die beste aspek van sy werk is om jong wetenskaplikes op te lei en te inspireer. “Om te sien hoe hul kennis ontwikkel en hulle hul nisterreine vind, is vir my ongelooflik lonend.”

Sy werk bied ʼn verskeidenheid van uitdagings, waaronder die behoefte om na afgeleë plekke te reis.

Hy sê wanneer ʼn mens passievol is oor werk, kan dit moeilik word om jou loopbaan en persoonlike lewe te skei. “My gesin het my werk merkwaardig ondersteun – hulle het saam met my navorsing gedoen en gesinsuitstappies in leergeleenthede verander. Dit is te danke aan hulle dat ek lang ure aan die najaag van my drome kon afstaan terwyl ek steeds hul ondersteuning het.”

Du Preez moedig aspirant-navorsers aan om te onthou om passievol oor hul werk te bly en daarop te fokus om positiewe bydraes tot die wetenskaplike wêreld te maak, eerder as om na persoonlike prestasies te streef.

“Ons het almal ʼn plig om toestande te verbeter en die kans op oorlewing vir elke spesie op aarde te verhoog – waaronder die paddas, wat een van die eerste landbewonende diere was en nou een van die mees bedreigde gewerwelde diere op ons planeet is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ny ·

Ek het ook klas gehad by hom. Hy is baie entoesiasties oor sy werk en inspireer al die ander direliefhebbers met sy passie. Hy voer dit uit met absolute deernis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.