Nuwe planne moet Wonderboom-lughawe regruk

Sheila Senkubuge, burgemeesterkomiteelid oor paaie en vervoer, en Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, gee terugvoer oor planne om die sukkelende Wonderboom-lughawe reg te ruk. (Foto: Christel Cornelissen)

Die Wonderboom Nasionale Lughawe moet gestabiliseer, opgeknap en kommersieel lewensvatbaar gemaak word, voordat ʼn ingeligte en deurdagte besluit oor die toekoms daarvan geneem kan word.

Dít volgens Steven Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, wat Donderdag in Pretoria terugvoer gegee het oor die stand van sake by dié sukkelende lughawe in die noorde van die stad.

Wonderboom bestaan sedert 1937 en was voorheen een van die beste kleiner lughawes in die land. Altesaam 200 sakeondernemings word op die lughawe se terrein van sowat 350 ha bedryf.

Mokgalapa het gesê die lughawe is ʼn strategiese bate vir die stad – wat hy nie noodwendig wil hê nie – en bly steeds ʼn belangrike anker vir die stad se ekonomie. “Dit is hoog tyd dat ons dit herstel.”

Een van die stappe wat die stad gedoen het om die lughawe reg te ruk, is om ʼn transaksieraadgewer aan te stel om die lughawe te bestuur en te bedryf. Die maatskappy Ntiyiso Consultants is vir twee jaar aangewys om dié proses te behartig en begin in Januarie aanstaande jaar met sy werk.

Maroela Media het vroeër breedvoerig berig oor Professional Aviation Services (PAS) wat onwettig deur die kantoor van Tshwane se stadsbestuurder aangestel is. PAS was verantwoordelik vir sekerheidsopleiding in die lugvaartbedryf vóór die maatskappy in 2017 oornag en sonder die nodige ondervinding aangestel is om die Wonderboom-lughawe te bestuur.

Sheila Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer by die Tshwane-metroraad, het gesê daar is aanvanklik met die bestaande maatskappy se dienste voortgegaan, omdat die stad nie in ʼn posisie was om tóé iemand anders aan te stel nie. Die stad kan nie sonder eksterne raadgewers die lughawe bestuur nie, het sy gesê.

Die Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Ntiyiso Consultants neem nou dié proses oor.

Die lughawe is bykans in die grond in bestuur toe dit voorheen eers onder die kantoor van die burgemeester en daarna die stadsbestuurder geval het. Dit is vroeër vanjaar weer onder die beheer van die departement van paaie en vervoer geplaas.

Daar was ook talle bewerings van korrupsie en ʼn ondersoek daarna is ʼn geruime tyd gelede al van stapel gestuur. ʼn Voorlopige verslag met bevindings is sedertdien aan die burgemeester se kantoor oorhandig, maar volgens Senkubuge was die omvang van die probleme so omvattend dat daar besluit is om die ondersoek te verbreed. Dit is dus steeds aan die gang.

Volgens Mokgalapa bestee die stad jaarliks nagenoeg R50 miljoen aan instandhoudingswerk by die lughawe en kan daar weinig vir dié belegging gewys word. Hy het gesê wêreldwyd verkoop of privatiseer munisipaliteite lughawens, omdat dit nié een van ʼn stad se sleutelprioriteite is nie.

“Ons kan nie onbepaald verbind bly tot dié bodemlose geldput nie. Ons moet die gemors by die lughawe uitsorteer en verseker die stad kry waarde vir geld. Die lughawe móét kommersieel lewensvatbaar gemaak word.

“Ons moet na dié bate omsien, maar dit kan nie die stad finansieel ruïneer nie,” het Mokgalapa gesê.

Hy het gesê naas Washington het Pretoria die grootste getal diplomatieke missies wêreldwyd en dat dit ʼn nismark is wat tot voordeel van die lughawe ontgin kan word. Die streek is ook die tuiste van verskeie motorvervaardigingsaanlegte wat die lughawe tot voordeel kan strek.

Volgens die burgemeester gaan daar in die afsienbare toekoms met alle betrokkenes by die lughawe vergader word om te besluit oor die toekoms. Intussen word daar nou met instellings soos die Burgerlugvaartowerheid (BLO) en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) vergader om aan alle lisensievoorwaardes en ander bepalings te voldoen, sodat die stad nie intussen sy lisensie vir die lughawe verloor nie.

Senkubuge het gesê Wonderboom funksioneer in dié stadium nie naastenby op die vlak wat dit moet nie, hoewel verskeie bedrywighede ondanks die enorme probleme voortgaan.

Maroela Media het vroeër onder meer berig dat brandstof nie meer by die lughawe beskikbaar is nie. Volgens ʼn ingeligte is brandstof wél beskikbaar, maar dit word voorsien deur private maatskappye en nie die stad nie. Senkubuge het gesê die stad gaan hom egter nie laat boelie om sekere besluite in die belang van spesifieke partye te neem nie.

Mokgalapa het gesê sy grootste prioriteit bly die beskerming van die stad se hulpbronne. “Ons doelwit is om die lughawe in ʼn internasionale sentrum in Gauteng en in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap- (SAOG-)streek te omskep. Ons wil die ekonomie uitbrei tot waar dit internasionaal mededingend is,” het die burgemeester gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

thelsa ·

Nog ‘n Konsultant word aangestel! Nog groot geld word spandeer op goed wat ons reeds weet. Nog ‘n verslag wat gaan stof vergader iewers of gebruik gaan word om kosbestellings op aan te teken.

Ig ·

Ek verstaan nie, eers ry hulle die lughawe in die grond in deur middel van Bbe en stel weer n Bbe firma aan om die lughawe te red.

AmY ·

Duisend Woorde, ek het presies dieselfde gedink toe ek die foto gesien het.

wilma ·

Bestaan sedert 1937. Wow en in net 25jaar kom hierdie regering en als is totniet. in 57jaar als goed gegaan rotdat onbevoegdes als totniet het

R ·

Die mense wat die werk kon doen is verplaas en vervang. Sal nie verder uitwei nie maar Wonderboom Lughawe sal toemaak.

Danie T ·

Die Stadsraad is nie deursigtig. Hul skuld die belastingbetaler agtergrond inligting van die bbee konsultfirma – hul ekspertise, “track record” in die bestuur van die bate. As stadsraad ‘n kenner op die gebied aangestel het sou dit baie goedkoper wees. Wat is kommentaar van VF+??? Komaan DA hou op ANC jakkalsdraaie loop!!

Riaan ·

DA = korrup = blah blah blah. Kan niks glo wat enige da ampsdraer se want hulle is net so pateties en korrup soos CancER!

Moet, nê? ·

Hierdie al-ewige gemoetery. Ons hoor dit al vir ‘n kwart eeu. Werklik? Dis lagwekkend.

Sarel ·

Weet Ntiyoso iets van lugvaartbedryf af?Wonderboom moet weer ‘n internasionale lughawe gemaaak word om meer vlugte te trek.

Hb ·

As hulle daardie lughawe in di mark kon sit sou n paar groot sakemanne tou gestaan het om dit aan te skaf

Gramofoonplaat ·

Die hool se vele wonderlike regruk stories is al so vervelig soos om vir geverfde muur te moet kyk hoe hy droog word, en dit is boonop so vreeslik geloofwaardig.

Riaan ·

Ek stem – die hool (da), kan nie eers ons munisipale rekeninge en stukkend verkeersligte ( wat maande aaneen stukkend is ) en potholes, ens. ens. regruk nie so hoe gaan hulle met nog ‘n konsultant ( wat ons moet betaal) dit regruk?

Gert Bothma ·

Desember 2017 het ek van WB lughawe Kaapstad toe gevlieg met Air Link en ek
was ek trots-verstom dat Pretoria so ‘n wonderlike fasiliteit kan hê wat flink, effektief en vriendelik werk. Onbewus van al die drama wat intussen gebeur het, wil ek die jaar weer daarvandaan vertrek…maar helaas, g’n vlug, g’n redery, g’n niks wat my probleem kan oplos nie. Dit wil voorkom asof goed wat werk op die lang duur nie volhoubaar is nie, en dat daar ‘n (on-)beplande “self-destruct” geen in elke orde ingebou is.

Jaco ·

Die restaurant daar is peper duur. Daar is niks vir toeriste nie. Aaklige plek.

Abrham ·

Soos Midas se aanraking het sekere mense die vermoeë om aan enigiets wat werk te raak, en in as te verander. Wie sê mities is nie waar nie?

Amanda ·

Ek het ook2016/2017 vanaf WB lughawe Kaap toe gevlieg met Airlink en ek het gedink dat dit soveel makliker was, want ek bly in die omgewing, nou hoef ek nie Lanseria of OR toe te gaan nie, dit was vinnige en vriendelike diens, maar helaas was dit nie vir lank effektief nie. Dit sal wonderlik wees as hul die lughawe weer kan ophef en vlugte begin dit gaan soveel makliker wees vir ons mense in die noorde.

wonder ·

Wonder wat het van die R50 Miljoen per jaar geword vir instandhouding?????

Attie. ·

Wat noem mens die gradering laer as rommelstatus? Wel, ons is oppad daarheen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.