Nuwe plantspesie ontdek, uitgestorwe plant herontdek

Die wilde iris. (Foto: Verskaf)

ʼn Nuwe wilde iris-spesie is in die Kaapse floristiese streek ontdek terwyl ʼn plant, wat al vermoedelik in 1934 uitgesterf het, naby Piketberg herontdek is.

Ismail Ebrahim, bestuurder by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se Crew-program, het op 27 Oktober tydens ʼn plantegroei-opname ʼn vreemde plant opgemerk.

Hy het ʼn nuwe tipe Moraea, beter bekend as die Kaapse tulp, ontdek. Dr. John Manning, Iridaceae-kenner by Sanbi, het bevestig dat die spesie uniek is en oor interessante karaktereienskappe beskik.

“Daar is nog baie nuwe spesies wat ontdek moet word, daarom moet ons die plantegroei bewaar,” sê Ebrahim. “Dit is buitengewoon spesiaal dat daar nog sulke voortreflike spesies daar buite is.”

Die Kaapse floristiese streek is ʼn wêreldbekende botaniese brandpunt en hierdie ontdekking beklemtoon juis die unieke aard en buitengewone diversiteit van die omgewing.

Intussen het Crew-vrywilligers en Brian du Preez, PhD-kandidaat aan die Universiteit van Kaapstad, op 24 Oktober die uitgestorwe Aspalathus complicata herontdek. Dit is een van meer as 300 spesies wat aan die Rooibostee-familie behoort.

Die spesie is vir die eerste keer in die 1900’s aan die voet van die Versveldpas, net buite Piketberg, versamel. Dit kon egter nie ná die aanvanklike versameling weer opgespoor word nie, ondanks talle soektogte in die omliggende omgewing.

Die spesie is waarskynlik steeds bedreig weens die klein verspreidingsgebied. Hoewel die vrywilligers en Du Preez slegs twee plante raakgesien het, kom dit waarskynlik eerder op die hellings van die Piketbergpas voor.

Die werklike omvang van die Aspalathus complicata-bevolking sal egter eers oor drie jaar bepaal kan word nadat die gebied gebrand het en die plante weer begin blom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Maroela, uitgestorwe, nie uitgesterwe nie.

Susan

Ja, asseblief tog, proeflees berigte voor plasing, of stel iemand aan wat taalkundig goed opgelei is!

Mad Mike die Rhodesiër

Wys jou net! Die natuur kom met verrassings elke dag na vore.