Nuwe POF-hoof moet fonds regruk

(Argieffoto)

Die slagting op Suid-Afrika se paaie kom teen ʼn groot koste vir die ekonomie en veroorsaak ongekende pyn en lyding vir diegene wat daardeur geskend word, of geliefdes deur padongelukke verloor het, het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Vrydag gesê.

Hy het Vrydag ook aangekondig dat die kabinet Collins Letsoalo se aanstelling as uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds (POF) goedgekeur het. Letsoalo neem al geruime tyd in die pos waar. Mbalula het gesê Letsoalo neem die leisels oor op ʼn tydstip wat groot uitdagings die POF in die gesig staar en ʼn ferm hand nodig is om die fonds te bestuur.

Mbalula het gesê dat die POF, wat deur ʼn heffing op brandstof gefinansier word, ʼn belangrike rol speel in die skep van ʼn maatskaplike veiligheidsnet vir diegene wie se inkomste weens padongelukke verlore is.

“Daar is enorme druk op die POF om sy mandaat na te kom. Elke keer wat iemand op ons paaie beseer word, of hulle nou Suid-Afrikaners of buitelanders is, plaas dit ʼn las op die POF.

“Suid-Afrika het wêreldwyd steeds van die hoogste getal padongelukke, -sterftes en -beserings wanneer dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) met ander lande vergelyk word. In Suid-Afrika sterf meer as 45 mense elke dag en meer as 200 word daagliks weens padongelukke beseer,” het Mbalula gesê.

Teen die einde van Maart het die POF se laste op R324 miljard gestaan. Eise van nog R17,2 miljard is boonop afgehandel, maar kon weens kontantvloeiprobleme nog nie uitbetaal word nie.

Mbalula pak die skuld hiervoor op die stygende getal eise en die hoë administratiewe koste daarvan. In die 2019-’20-boekjaar is 102 086 nuwe eise by die POF geregistreer en die R17,2 miljard is verskuldig aan eisers wat gemiddeld reeds vyf jaar lank wag vir hul eise om geskik te word.

“Die POF is dekades lank op ʼn finansieel onvolhoubare model bedryf. Die uitdaging is vererger deur die immer stygende koste van die fonds.”

Die minister sê van die inkomste wat ingevorder word, word meer as R17 miljard – oftewel 40% – aan administratiewe koste bestee. Eisers ontvang R26 miljard, oftewel 60% van die inkomste.

“Uit die R17 miljard word R10,6 miljard aan regskoste bestee.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn bittere twis heers tussen die einste Letsoalo en die paneel prokureurs wat die (POF) in hierdie stadium verteenwoordig. Die kwessie het reeds in die hof gedraai waar beslis is die prokureurs moet minstens nog vir ses maande voortgaan om op die POF se paneel van prokureurs te dien terwyl die POF sy sake in orde kry.

Lede van dié paneel hou vol hulle doel juis is om te verseker dat die belastingbetaler nie ʼn sent meer betaal vir ʼn eis as wat hy moet nie – en dat regsverteenwoordigers eise wat ingedien word gemiddeld met tot 77% verminder. “Daar is nie ʼn meer kostedoeltreffende manier nie,” het ʼn prokureur vroeër gesê.

Mbalula sê egter terwyl groot regskoste aangegaan word, word meer as 90% van eise ná vyf jaar buite die hof geskik en dat net 5% van sake eindelik voor ʼn regter aangehoor word. Dit maak egter 80% van die siviele hofrol uit. Die verwaarlosing van aanvanklike ondersoeke en die skikking van eise het volgens die minister ook gelei dat die fonds maandeliks gemiddeld 4 353 dagvaardings ontvang.

Volgens die minister benodig hierdie yslike uitdagings nou sterk en visioenêre leierskap.

Mbalula sê die departement werk nou saam met die parlement om te verseker dat die Wetsontwerp op die Padongelukvoordeelskema deurgevoer word. Dié wetgewing moet ʼn meer volhoubare model daarstel.

“Die wetgewing gaan die POF nie net meer bestendig maak nie, maar gaan ook verseker dat die bedoelde begunstigdes hulle voordele veel vinniger ontvang sodat hul inkomste ná padongelukke herstel kan word,” het Mbalula gesê.

Hy het gesê Letsoalo en die POF-raad se grootse take is om te verseker dat regskoste verminder word, dat die POF se bedryfsmodel van litigasie na eis-administrasie omgeskakel moet word en dat ʼn geïntegreerde saakbestuurstelsel in werking gestel moet word om ondoeltreffendheid en bedrog uit te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lindi ·

Selfde ou wat homself ‘n R1 miljoen+ salaris verhoging gegee het by PRASA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.