Nuwe polisiehoof ingesweer

Minister Fikile Mbalula en genl. Genl Khehla John Sitole. Foto: ANA

Genl. Khehla John Sitole, Suid-Afrika se nuwe nasionale polisiekommissaris, is Maandag amptelik deur Fikile Mbalula, minister van polisie, in Pretoria ingesweer.

Dit volg nadat pres. Jacob Zuma Sitole Woensdag met onmiddellik effek as die nuwe nasionale polisiekommissaris aangestel het.

“Die president het die eer aan my oorgedra om Sitole in te sweer,” het Mbalula tydens die seremonie gesê. “Die seremonie verteenwoordig die formele oordrag van mag en gesag met die handhawing van die grondwet. Dit simboliseer reg en geregtigheid. Dit simboliseer verder die verwagte pogings van die polisie om ʼn regverdige en onpartydige, a-politiese diens aan die gemeenskap te lewer.”

Mbalula het gesê dit is Sitole se plig om die land met lojaliteit, moed, waardigheid en eer te dien en dit met verantwoordelikheid en ywer uit te voer.

Hy het gesê Zuma het sy sterk vertroue in Sitole se vermoëns uitgespreek om die duisende mans en vroue in die polisiediens te lei.

Mbalula het Sitole vroeër as ʼn “gesoute professionele polisieman” beskryf met meer as twee dekades ondervinding in senior bestuur.

“Hy het op alle vlakke van die organisasie gedien en baie praktiese blootstelling gekry. Sitole het ook in die organisatoriese ondersteuning van die polisie sowel as die bedrywighede van dié organisasie gedien,” het hy gesê.

Mbalula het gesê hy was verder ook betrokke by die ontwikkeling van talle beleidstukke, wetgewing en strategieë wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens verbind met die breër raamwerk van die regering en die internasionale gemeenskap.

Hy het gesê Sitole se innoverende idees rondom misdaad in Suid-Afrika maak hom “duidelik geskik vir dié veeleisende werk” en dat hy toegerus is om die “kwessie van weghol kriminaliteit in Suid-Afrika” te pak.

Sitole het nou amptelik die leisels oorgeneem by lt.genl. Lesetja Mothiba, wat in die pos waargeneem het nadat sy voorganger, Khomotso Phahlane, geskors is. Phahlane is aangestel om Phiyega te vervang, nóg ʼn kommissaris wat geskors is vir haar rol in die dood van 34 myners in Marikana in Noordwes in 2012.

Phiyega is nie afgedank nie; haar kontrak het vroeër vanjaar verstryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie ·

Laat ons n bietjie haar van die oud Polisie manne en vroue.. Is die nuwe hoof sy soud werd? Ek dink die vraag gaan wees, as die nuwe hoof iets werd is, gaan die Bbalula dit kelder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.