Nuwe polisiehoof moet kan ‘inspireer’

Iemand in ʼn militêre of polisie-omgewing moet – benewens al sy ander leierseienskappe – netjies in uniform vertoon, ʼn trotse houding openbaar en fier en regop wees. (Argieffoto: SA Polisie)

Minstens een kenner verwag dat Suid-Afrika se nuwe polisiehoof ʼn ervare loopbaanpolisiebeampte gaan wees. ʼn Aankondiging oor ʼn nuwe polisiehoof word binne dae verwag, met genl. Khehla Sitole wat Donderdag sy laaste dag op kantoor sal hê.

ʼn Opdraande stryd lê egter voor vir die land se top-polisiebeampte wat nie net die nagenoeg 180 000 polisiebeamptes en burgerlike werkers in die organisasie moet lei nie, maar ook vertroue by die algemene publiek moet inboesem.

Dr. Johan Burger, verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê benewens ʼn deursigtige aanstellingsproses is dit ook belangrik dat ʼn inspirerende leier by die polisie aangestel moet word.

Dít was Sitole nie.

Burger, self ʼn voormalige senior polisieoffisier, sê iemand in ʼn militêre of polisie-omgewing moet – benewens al sy ander leierseienskappe – netjies in uniform vertoon, ʼn trotse houding openbaar en fier en regop wees.

“Daar is onmiddellik ʼn paar name wat uitstaan in dié verband,” sê Burger, hoewel hy hom nie oor ʼn spesifieke moontlike kandidaat wil uitlaat nie.

“Hy of sy moenie net polisielede nie, maar ook die publiek kan inspireer met hul voorkoms in uniform. Hul persoonlikheidseienskappe moet ook van so ʼn aard wees dat jy benewens alles anders, mense ook deur jou voorbeeld en uitsprake moet kan inspireer.

“Legitimiteit is geweldig belangrik,” sê Burger.

Benewens die omvattende polisie- en bestuursondervinding wat kritieke vereistes vir die nasionale polisiekommissaris is, is polisiebeamptes en die publiek se aanvaarding en vertroue in die polisie se topleier dus onontbeerlik.

Die aanstelling van verskeie van die land se polisiehoofde die afgelope paar jaar het egter veel te wense oorgelaat en die “algemene gebrek aan integriteit” onder dié leiers was ʼn reuseprobleem.

Verskeie hoofde het die polisie se top-pos sedert 1995 beklee en heelparty van hulle in ʼn waarnemende hoedanigheid. Burger verwag egter nie dat pres. Cyril Ramaphosa hierdie keer ʼn waarnemende polisiehoof sal aanstel voor ʼn aankondiging oor die nuwe polisiehoof gedoen word nie en sê gegewe die bespiegeling, onsekerheid en konflik tussen Sitole en minister van polisie, Bheki Cele – en die spanning wat dit meebring – die president eerder dadelik ʼn permanente polisiehoof sal aanwys.

Vorige flaters

Verskeie van die land se vorige polisiehoofde was in omstredenheid gedompel – ʼn situasie wat ʼn groot geloofwaardigheidskrisis vir die polisie se leierskap geskep het. Onder dié polisiehoofde is Jackie Selebi wat in 2010 skuldig bevind is aan korrupsie en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Nog ʼn omstrede aanstelling was dié van Riah Phiyega wat in Junie 2012 as polisiehoof aangestel is nadat oudpres. Jacob Zuma haar voorganger, (nou minister van polisie) Cele, die trekpas gegee het. Die Marikana-slagting het onder meer tydens Phiyega, ʼn maatskaplike werker, se termyn plaasgevind en sy is later geskors.

Kgomotoso Phalane, nog ʼn tydelike aanstelling, is in 2020 afgedank is nadat hy aan oneerlikheid skuldig bevind is.

Die huidige polisiehoof, Khehla Sitole, se kontrak verstryk Donderdag nadat hy ʼn gemeenskaplike ooreenkoms oor die vervroegde beëindiging van sy termyn met Ramaphosa aangegaan het.

Burger sê Sitole was dalk ʼn loopbaanpolisiebeampte, maar sy ervaring was beperk tot ondersteuningsdienste in die polisie.

“Hy moes dalk hoogstens hoof van finansies [in die polisie] geword het, maar nie polisiekommissaris nie.

“Hy was heeltemal uit sy diepte en dit het ook in sy liggaamshouding gewys – wat vir iemand in uniform ongelukkig boekdele spreek. Hy was nie ʼn inspirerende leier nie.”

Burger benadruk dat die nuwe topbeampte dus iemand met ervaring van alle fasette van polisiëring moet wees, sowel as ʼn ervare senior bestuurder.

“Dit gaan oor aanvaarding en vertroue: In die eerste plek binne die organisasie en dan by die publiek.”

Burger sê die feit dat Ramaphosa die nuwe polisiehoof na verwagting op aanbeveling van ʼn komitee sal aanstel, kan reeds heelwat doen om die aangewese kandidaat se aansien binne en buite die organisasie te verhoog – die aanstelling word op hierdie manier gesien as die produk van ʼn mededingende proses en nie ʼn lukrake aanstellingsproses deur die president van iemand wat hom bloot ter wille is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jaada ·

Gaan veel help, hy moet onder Cele werk en enigiiets positief gaan met die riool af.

Wondermaarnet ·

Solank hy/sy inspireer kan spel ja. Raak 1e ontslae van beamptes wat nie kan skiet nie en dan die korruptes en onbevoegde lede.

casper ·

Sal nooit gebeur nie — Hulle is almal die Generaals en stasie bevelvoerders !!

MakersMark ·

Die rekord van die afgelope vier kommisarisse spreek vanself…..min hoop dat iets sal verander. Veral met Cele as minister.

Lillian ·

99.99% van die polisielede is korrup, om ‘n nuwe hoof aan te stel gaan nie veel help as die korruptes nie aan die kaak gestel word nie. En dit blyk ‘n onbegonne taak te wees.

Suzette ·

Presies – en dan gaan ‘inspirasie’ net mooi bokkerol help.

twaalfboor ·

Kom ons maak gou somme. 120 000 lede en 99.99% is korrup…… dit beteken net 12 is eerlik. Ek is een van die 12 na 37 jaar diens. Dit los ons met nog 11. Ek ken HORDES van my kollegas, wit en swart, wat eerlik is met integriteit. Dink BIETJIE voor jy veralgemeen.

Papsak ·

MAAK WEG MET CELE EN ALLES SAL BETER GAAN KRY BETER PERSOON IN SY PLEK

Kensy ·

…sal dalk een moet invoer … ons land se kandidate se track rekord wek geen vertroue nie.

Androclus ·

ʼn Ervare loopbaanpolisiebeampte ,Dis ‘n vereiste vir my , nie soos ou Cele wat nie eers ‘n konstabel gewees het nie nog minder ‘n verklaring kan neem nie.

SjN ·

Dr Burger, stem volkome saam met u, maar daar is nie n binne kader wat aan die vereistes voldoen nie.

OW ·

In die aanstelling van hierdie tipe poste moet jy in die eerste plek die nodige ondervinding in al die fasette van die werk besit en dan moet daar leierskapseienskappe wees wat onontbeerlik vir hierdie tipe poste is.Jackie Selebe en Riah Phiyega was onderskeidelik ‘n onderwyser en maatskaplike werker gewees wat niks van polisie werk af geweet het nie.Selebe was tot hoof van Interpol op ‘n stadium gewees wat absoluut belaglik was.Na mening het hy die grootste skade aan die Polisie tot op datum aangerig.

Swerwer ·

Hierdie een is net so ‘n Taai Toffie soos die lewe in ons land huidiglik is. As aanstelling weer volgens die “Kleur” ANC Beleid is gaan dit beslis nie plaas vind wat in hierdie berig staan nie.

JohanR ·

Dit sal maar weer net ‘n ANC kader wees en ‘n Cyril Ramaphosa vriend. Daar is ne ‘n ANC in die land wat enigeiemand kan inspireer nie!

Janine ·

“netjies in uniform vertoon, ʼn trotse houding openbaar en fier en regop wees.” Is dit ‘n persoonlike grappie? Kyk hoe lyk die polisie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.