Nuwe polisiehoof moet ‘uit politiek bly’

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die aanstelling van genl. Fannie Masemola as nuwe polisiehoof het heelwat gemengde reaksie ontlok, maar verskeie organisasies het hulle verbind tot samewerking met die land se nuwe top-polisieman, mits hy te vinde daarvoor is.

Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging oor Masemola se aanstelling Donderdagaand gedoen. Dit volg op ʼn onstuimige tydperk in die polisie waartydens die organisasie nie net skerp gekap is oor sy klaarblyklike onvermoë om wet en orde te handhaaf nie, maar wat ook gekenmerk is deur spanning tussen die minister van polisie, Bheki Cele, en die vorige polisiehoof, Khehla Sitole.

Die burgerregtegroep het Masemola gelukgewens met sy aanstelling en ʼn beroep op hom gedoen om op misdaadbekamping te fokus en hom nie soos talle van sy voorgangers “in die politiek vas te loop nie”.

Die organisasie sê die aanstelling lei hopelik tot stabiliteit, opknapping en die hernuwing van vertroue in die polisie. AfriForum neem ook kennis van die president se uitsprake oor ʼn meer inklusiewe benadering tot polisiëring en die behoefte om hande te vat met verskillende sektore van die samelewing. Die organisasie het sy bereidwilligheid om saam met die polisie te werk om misdaad te bekamp, benadruk.

“ʼn Mens kan dalk vra hoekom Masemola nie die nodige leierskap kon verskaf om die polisieskip om te draai in sy vorige, reeds senior, rolle nie. Ons hoop nietemin dat sy aanstelling nie sal lei tot ʼn voortsetting van wat ons die afgelope paar jaar in die polisie gesien het nie. As Masemola sy kennis en ervaring gebruik om op langtermyn-verbeterings eerder as bloot korttermyn-bewegings te fokus, sal hy dalk die polisie suksesvol die toekoms kan binnelei,” sê Guido Urlings, bestuurder van ondersteuningsdienste vir AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling.

Ramaphosa kon beter vaar

Die drukgroep Action Society was minder ingenome met Masemola se aanstelling en het hom as ʼn “ANC-marionet” bestempel.

“Daar was veel beter kandidate, soos Elias Molewa en Lucky Mkhwanazi,” sê Ian Cameron, woordvoerder van die organisasie.

Mkhwanazi sou volgens Action Society die beste kandidaat gewees het. “Hy is nog jonk, was ʼn lid van die spesiale taakmag en het ʼn uitstekende geskiedenis van sterk leierskap in die polisie.”

Masemola het volgens Action Society nie hierdie agtergrond nie. “Lede op die grond hou nie van hom nie en sê hy wag net om oor ʼn jaar of twee af te tree. Hy is nie net ʼn Cele-man nie, maar ook ʼn Zuma-man – en nou is hy ʼn Ramaphosa-man, dus die ANC se man. Die ANC probeer soveel moontlik plunderbare basisse dek voor [die verkiesing in] 2024.”

Cameron sê Masemola is dalk ʼn loopbaanpolisieman, maar het meestal met korrupte kommissarisse gewerk – en nooit die fluitjie oor enige van hulle geblaas nie.

Die landbouorganisasie TLU SA stem saam dat Masemola die polisiediens van korrupsie moet suiwer.

“Daar is te veel misdaad en korrupsie wat binne die polisiemag plaasvind. En indien die suiwering van ons polisiemag nie plaasvind nie, verloor Suid-Afrikaners steeds,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“Daar is geen manier waarop Suid-Afrika georden kan word rondom misdaad nie, tensy ons ʼn skoon polisiemag het. Vir ons as TLU SA is dit sy vernaamste taak. As hy dit nie gaan regkry nie, dan mors hy sy tyd en Suid-Afrika se tyd. ʼn Gesuiwerde polisiemag is nodig om die vertrouensverhouding tussen lede van die publiek en polisiemag te herstel. Suid-Afrika gaan nie die stryd teen misdaad wen as misdaad hoogty vier in die polisiemag nie.”

Van Zyl sê TLU SA kan net hoop dat veiligheid vir Masemola die belangrikste is – en nie politiek nie. TLU SA besef egter dit is “baie gevra in die era van kaderontplooiing”.

Nes AfriForum het TLU SA hom ook verbind tot samewerking met die polisie. “Ons het dit nog altyd duidelik gemaak dat ons deel van die oplossings wil wees as dit kom by landelike veiligheid. Ons sal graag met hom wil saamwerk as dit vir hom ook belangrik is,” sê Henk van de Graaf, TLU SA se noordstreekvoorsitter.

Cele en sy adjunk, Cassel Mathale, het die land se nuwe top-polisieman gelukgewens en sê hy word met “veel entoesiasme en optimisme” verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

casper ·

Asseblief — Hoe kan ‘n politiek aangestelde kader nou uit die politiek bly ????

Chris dupreez ·

Hoe meer ek lees hoe meer begin ek nou twyfel in die man. Ai tog.

Nie Verbaas ·

Moet uit politiek bly? Hoekom dink hulle is hy aangestel?

Di ·

Kan nie verstaan dat hulle iemand aanstel wat amper wil aftree nie! Stem saam met Action Society dat Lucky Mkhwanazi die beste kandidaat vir hierdie pos sou wees. ANC kaders is mmeste al verby die aftree ouderdom maar klou verbete vas aan hulle poste. Tyd vir jonger mense om hierdie poste oor te neem. Cele met ook gaan – tyd vir pensioen vir hom

Mariana ·

Ek begin reeds twyfel oor sy aanstelling en ook die fwit dat hy nog nooit iets uitgerig het terwyl hy reeds lankal in polisie is nie. Iets sê vir my hy gaan nie ‘n goeie leier wees in die korrupte SAPD nie, maar kom ons hoop ek is verkeerd.

Samuel ·

Soos alles wat die ANC doen, kan mens nie anders as om hierdie nuwe aanstelling met agterdog te bejeën nie.

SomeOne ·

ek wonder of hy self weet waarvoor al daardie “brass” op sy bors voor is

Papsak ·

Hy lyk soos n kersboom met al sy behangsels wil net weet waar hy al daai goed gekry het het beter verwag maar ja kan kyk wie in beheer is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.