Nuwe politieke era vir SA lê voor

(Grafika: Maroela Media)

“Geen enkele politieke rolspeler sal in die toekoms weer die politieke spelreëls kan bepaal en op almal anders afdwing nie, omdat ʼn nuwe politieke era in Suid-Afrika voorlê. In dié era sal die politiek uiteindelik die fragmentering van Suid-Afrikaanse burgers op grondvlak weerspieël.”

Dit is die mening van dr. Frans Cronjé, voorsitter van die Stigting vir Maatskaplike Navorsing, wat tydens ʼn onlangse aanbieding van die Vryemarkstigting op grond van breedvoerige verkiesingsnavorsing lig gewerp het op die huidige en verwagte Suid-Afrikaanse politieke landskap.

Die oorheersing van die ANC was die afgelope kwarteeu ʼn uitskieter wat altyd tot ʼn einde sou kom namate die land verder weg van apartheid beweeg – ʼn gebeurtenis waaruit die ANC munt geslaan het in weerwil van vervallende sosio-ekonomiese werklikhede, sê Cronjé.

In dié era sal die grootste politieke party, ʼn landelike, Afrikanistiese party, volgens Cronjé sowat een derde van die stemme ontvang. ʼn Tweede grootste party, ʼn stedelike middelklas party, sal tussen ʼn kwart en ʼn derde van stemme kan kry. Die Marxistiese linkse partye sal beperk bly tot 10% tot 15%.

Die restant sal die sogenaamde koningmakers wees, bestaande uit kleiner partye wat strek vanaf meer konserwatiewe, tot etnies-nasionalistiese en regse partye.

Ondersteuning van koalisies

In Suid-Afrika is daar tans sowat 41 miljoen volwassenes, waarvan 26 miljoen geregistreerde kiesers is, en waarvan 18 miljoen in 2019 ʼn stem uitgebring het.

Sowat die helfte van die geregistreerde kiesers (47,8%) maak die sogenaamde gematigde middel van die kieserskorps uit. Hulle meen koalisies is die toekoms van politiek in Suid-Afrika, dink koalisies is belangrik en steun die idee van ʼn “breë koalisie”. Sowat een derde van die kiesers is simpatiek teenoor die idee van koalisies, maar voel nie so sterk daaroor nie – hoewel hulle oortuig kan word.

Soveel as 18% van die kiesers is óf apaties of negatief oor die idee van koalisies.

Diegene wat koalisies sterk steun, oftewel in die gematigde middel is, is oorweldigend swart, meestal tussen 30 en 39 jaar oud en woon ook meestal in voormalige tuislandgebiede.

(Bron: Social Research Foundation)

(Bron: Social Research Foundation)

(Bron: Social Research Foundation)

Kiesers se prioriteitslys

Rassisme en grondhervorming is redelik laag op die gematigde middel se prioriteitslys, met werkloosheid en misdaad wat heel bo-aan die lys pronk.

(Bron: Social Research Foundation)

“Daar bestaan dus ʼn breuk tussen die kwessies waaroor mense die meeste omgee en dít wat die ANC aanhou propageer. Opposisiepartye wat nie tot hierdie kwessies vir kiesers kan spreek nie, sal moeilik steun by die ANC wegrokkel.”

Hoewel beurtkrag 45% van ANC-kiesers hul partykeuse laat heroorweeg, het dit op sowat 45% van ANC-kiesers geen uitwerking nie.

In die eerste dekade van die ANC-regering het dit nog betreklik goed gegaan, sê Cronjé. Vir elke een informele huis wat opgerig is, is tien formele huise gebou. ANC-steun het toegeneem vir die eenvoudige rede dat die lewensgehalte van die meeste mense tog verbeter het. Die tendens het mettertyd egter afgeneem.

(Bron: Social Research Foundation)

Teenintuïtief het die ANC se steun ook oor die jare afgeneem namate die party al meer en meer maandelikse sosiale toelae begin betaal het.

(Bron: Social Research Foundation)

“Toe oudpres. Thabo Mbeki sy pos aanvaar het, was daar sowat 2 miljoen ontvangers van maatskaplike toelae. Teen die tyd wat hy sy pos ontruim het, was dit 12 miljoen.”

Volgens Cronjé is ANC-kiesers afhanklik van toelae, maar verwyt hulle dit tog steeds.

“Toelae het vir die ANC ʼn probleem geword, omdat die ‘sukses’ van hulle vryheidstryd gemeet word aan die skamele R350 wat hul kiesers maandeliks ontvang.”

Optimisme taan

Die oorweldigende meerderheid kiesers meen die land is in die verkeerde rigting op pad.

“Daar is geen land ter wêreld waarin sulke vlakke van negatiwiteit heers waar die regerende party kan oorleef nie – die ANC se tyd is verby.”

Sedert sy aanstelling en sogenaamde “Ramaforie”, het pres. Cyril Ramaphosa se steun ook wesenlik onder alle kiesers afgeneem en is dit in aanloop tot die 2024-verkiesing op ʼn laagtepunt.

(Bron: Social Research Foundation)

“Te spyte van hierdie laagtepunt is Ramaphosa steeds verreweg die gewildste leier wat die ANC het om te bied, wat nie goeie vooruitsigte vir ʼn post-Ramaphosa-ANC inhou nie.”

Dit word ook weerspieël in meer as 60% van ANC-kiesers wat meen Ramaphosa moet ʼn splinterparty lei wat wegbreek van die ANC.

(Bron: Social Research Foundation)

Politieke partye se beeld

Die DA het onder alle kiesers ʼn relatief goeie beeld as ʼn party wat uitblink in dienslewering, leierskap, die handhawing van aanspreeklikheid en beleidsrigting.

Die ANC word gesien as die party wat die beste in koalisies kan funksioneer en word ook beskou as die party vir die armes. Die ANC word egter ook gesien as die party wat die meeste beloftes verbreek en eintlik maar net oor homself omgee. Al dié aspekte dui op ʼn noodlottig gewonde ANC, sê Cronjé.

Wanneer dit by die EFF kom, word dié party bestempel as die mees rassistiese, gewelddadige en haatverspreidende party. Hierdie waargenome radikaliteit is waarom die EFF volgens Cronjé ʼn harde plafon in ʼn baie gematigde samelewing het.

(Bron: Social Research Foundation)

Die swaai van ANC-gegriefdes

Ten spyte van die DA se goeie beeld, soos hierbo uitgebeeld, sukkel die party daarmee om dié beeld in kiesersteun om te skakel.

Een moontlike rede is omdat die meerderheid swart kiesers steeds meen dat die DA apartheid kan “terugbring” indien dié party aan bewind kom. Dit is omdat daar ʼn persepsie bestaan dat die DA ʼn ons-hulle-dinamiek in regering skep. Talle swart kiesers sukkel om die DA nié te sien as ʼn oorblyfsel van koloniale regering nie.

(Bron: Social Research Foundation)

ʼn Verdere problematiese uitdaging is die siening dat daar chaos en anargie sal heers indien die ANC mag sou verloor, met 40% van alle kiesers wat dié siening deel. Meer as 50% van ANC-ondersteuners huldig die mening.

(Bron: Social Research Foundation)

“Hierdie sienings dui daarop dat ANC-ondersteuners optree soos ʼn vrou vasgevang in ʼn verhouding waarin sy mishandel word – rasioneel weet hulle dat hulle uit die verhouding moet kom, maar tog bly hulle omdat die wêreld buite die ANC met vrees gevul en onseker lyk. Dit geld vir sowat ʼn derde van ANC-kiesers.”

Volgens Cronjé is die probleem juis dat die opposisiepartye nie vreeslik baie vertroue in hiérdie kiesers inboesem nie, wat hulle effe verlore laat.

Stand van partyondersteuning

Indien ʼn verkiesing vandag moes plaasvind, sou partye na verwagting die volgende steun op verskillende scenario’s van kiesers kry:

(Bron: Social Research Foundation)

“Vir die ANC om te verloor, moet iemand anders wen. ʼn Kieser moet elders heen kan gaan, geïnspireer deur ʼn alternatief. Hierdie is opposisiepartye se grootste geleentheid én risiko indien hulle dit nie reg hanteer nie.”

Die positiewe vooruitsigte hiervan is sowat 70% van alle kiesers wil tot wisselende mates hê hulle party moet aan ʼn koalisieregering deelneem. Die meerderheid ANC-kiesers deel ook dié sentiment wat ʼn verdere teken is van ʼn skuif weg van ʼn suiwer ANC-regering.

(Bron: Social Research Foundation)

“Indien die opposisiepartye beter daarin geslaag het om as ʼn verenigde front te funksioneer en koalisies soos in Gauteng beter bestuur het, was die ANC beslis in die moeilikheid.”

Sewe uit tien kiesers uit informele gemeenskappe in Johannesburg het egter gesê hulle sien geen verskil tussen die regering van die ANC en die koalisieregering in die metro nie, wat moontlik ʼn verlore geleentheid vir opposisiepartye is.

Watter koalisiekombinasie kraai koning?

Die gewildste koalisiekombinasie is ʼn ANC-DA-koalisie met sowat ʼn derde van alle kiesers wat dié kombinasie op nasionale vlak verkies. Meer as die helfte van DA-kiesers verkies ook dié regeerkombinasie.

Selfs in die ANC-kamp is die siening dat die ANC nuttelose regeerders is, maar dat die land dalk beter kan funksioneer indien die DA saam met die ANC regeer.

(Bron: Social Research Foundation)

“Met steun wat vir enigeen van die opsies egter nie bo ʼn derde van kiesers beweeg nie, beteken dit dat koalisiekombinasies en regeeropsies wawyd oop vir die publiek is. Hulle is nog in verskillende rigtings oortuigbaar.”

Kiesers nié onwrikbaar dogmaties

Wanneer dit kom by die belangrikheid en nuttigheid van die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid, is ANC-kiesers byna presies in die helfte gedeel.

“Dit beteken dat hierdie nie só ʼn ononderhandelbare beleidskwessie onder ANC-kiesers is soos wat talle mense glo nie.”

(Bron: Social Research Foundation)

Tog meen byna 70% van ANC-kiesers steeds dat ʼn swart leier noodsaaklik is. Daar is egter ʼn oorblywende 30% van ANC-kiesers wat sterk hiervan verskil – die gedeelte van kiesers wat makliker deur opposisiepartye oortuig kan word.

Verder meen byna die helfte van ANC-kiesers dat hulle bereid is om die SEB-beleid te laat vaar indien dit die ANC kan help om in koalisie met ʼn ander party te kan regeer, eerder as om mag te verloor.

(Bron: Social Research Foundation)

“Dit dui om ʼn veel meer oopkop-kieserskorps as wat dikwels voorgestel word.”

So ook is meer as 60% van kiesers bereid om aanstellings in die openbare sektor te maak sonder ras as oorwegingsfaktor, en meer as 40% bereid om indiensneming sonder ʼn minimumloon te steun.

“Daar is nog hoop, omdat mense nog vertroue in demokrasie het. Die opposisie het één geleentheid om ʼn beter alternatief as die ANC se huidige hopelose regering daar te stel.”

Kyk hier na Cronjé se volledige aanbieding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die DA hoop om ander partye met slim beloftes onderdanig te hou. Moord sal die uiteinde wees. John wil te graag die land se president word. Hy is Zille se baba-boetie. Hy is ‘n baba wat swak vertoon onder konfrontasie. Sy taktiek om nou president te speel en met die VSA onder die tafel te konkel (sy styl), gaan vrot appels baar.

Papsak ·

Nee DA is reg gaan voort enige een wat kan president word van die land beter as Ramaphosa gun ek die kans en ek dink nie John Steenhuisen sal sleg wees nie gaan voort DA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.