Nuwe poste dalk binnekort by Lily-myn beskikbaar

Lily-goudmyn in Barberton (Foto: Vantage Goldfields-webwerf)

Siyakhula Sonke Empowerment Corporation (SSC), die nuwe eienaars van die rampspoedige Lily-myn in Mpumalanga, het Dinsdag gesê bedrywighede sal binnekort by dié myn begin.

Dinsdag is die derde herdenking van ʼn ongeluk by Lily-myn in Barberton waar drie werkers vasgekeer is en gesterf het.

Pretty Nkambule, Solomon Nyirenda en Yvonne Mnisi is ondergrond in ʼn kamer waar hulle gewerk het, vasgekeer toe ʼn steunpilaar ineengestort het. Hul oorskot is steeds ondergrond.

Bedrywighede is in Februarie 2016 by die myn opgeskort en die myn is onder sakeredding geplaas met ongeveer 1 000 personeellede wat hul werk verloor het.

Die departement van minerale hulpbronne het die oordrag van eienaarskap van Lily en Barbrook-myn van die Australiese Vantage Goldfields goedgekeur na SCC se filiaal, Flaming Silver Trading, kragtens artikel 11 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne.

SCC het daarna R190 miljoen van die nywerheidsontwikkelingskorporasie ontvang om bedrywighede by die myn te laat hervat.

Fred Arendse, uitvoerende groephoof van SCC, het gesê Lily-myn moet oopgemaak word om die gemeenskap te bewaar en versoek voortgesette ondersteuning van die werkers. “Daar moet ʼn nuwe begin wees van ʼn nuwe Vantage-goudmyn wat tot voordeel sal wees van die mense,” het hy gesê.

Arendse het gesê die aanstellingsproses van nuwe werknemers om by die myn te werk kan so vinnig as Maart 2019 begin.

Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), het mynmaatskappye versoek om tot voordeel van gemeenskappe te werk in plaas daarvan om bloot net die minerale te onttrek. “Werklike herdenking laat ʼn nalatenskap van begunstiging om werklik diegene wat ons verloor het, se lewens te gedenk,” het Mathunjwa gesê.

Die departement van minerale hulpbronne het gesê hy ondersteun alle pogings om bedrywighede by die myn te hervat om die oorlede werkers se liggame op te spoor. “Die departement ondersteun alle pogings om die houer te vind sodat hul families en geliefdes berusting kan kry,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

At Dippenaar ·

Daar is drie liggame in Lilymyn. Om weer te begin myn kom neer op grafskending.

Tammy ·

Dit was die eerste gedagte wat deur my kop gemaal het…grafskending…waar is die respek vir die drie mense wat hul lewe verloor het tydens werkure? Persoonlik sou ek se dat daar geen maar geen mynbedrywighede toegelaat mag word voordat daardie mense nie uitgehaal en met volle eer begrawe word nie. Hul families moet afsluiting kry. Dis regtig onaanvaarbaar dat die myn net begin met sy bedrywighede en vergete is die slagoffers. Ek gril vir wat in ons samelewing aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.