Nuwe premier vir Noordwes

Bushy Maape is Dinsdag as die nuwe premier van Noordwes verkies (Foto: North West Provincial Government, Facebook)

Bushy Maape is Dinsdag tydens ’n spesiale sitting van die Noordwes-wetgewer as die nuwe premier van die provinsie verkies.

Maape (64) volg in die skoene van die voormalige premier Job Mokgoro (73). Mokgoro het twee weke gelede as premier van die provinsie bedank. Dit volg ná maande van onstabiliteit in die provinsiale regering weens ANC-faksiegevegte.

Maape was in die verlede Mokgoro se adviseur.

Ná die verkiesing het Maape sy aanvaardingstoespraak gelewer voordat hy die media toegespreek het. Hy is Dinsdagmiddag as premier van die provinsie beëdig tydens ʼn plegtigheid wat deur regterpresident Monica Leeuw gelei is.

Die ANC se tussentydse provinsiale komitee het in Augustus aangekondig dat Maape as kandidaat vir premier benoem is. Die DA se kandidaat was Winston Rabotapi.

Die DA en VF Plus sê hulle is wel skepties oor Maape se aanstelling as premier.

Volgens Freddy Sonakile, DA-LP in Noordwes, bring Maape niks nuuts na die tafel nie.

“Ons het vroeër uitgebrei oor sy geskiedenis as Mokgoro se adviseur en hoe dit bygedra het tot die vervalle toestand waarin hierdie provinsie verkeer,” het Sonakile gesê.

Die VF Plus het gesê die kanse is skraal dat Maape die chaotiese provinsiale regering sal kan regruk.

“Noordwes lei jare reeds onder wanbestuur, korrupsie en ANC-faksiegevegte van opeenvolgende ANC-regerings. Die provinsie is reeds byna oor die afgrond bestuur. Die feit dat Maape geen bewese ervaring in regeringsbestuur het nie wek ook kommer. Die verantwoordelikheid val egter nou op hom om Noordwes uit die gemors waarin die ANC die provinsie gedompel het, te trek,” sê De Wet Nel, VF Plus-LPW in Noordwes.

“Met die stand van verval van regeringstrukture en -dienste in die provinsie word sterk professionele leierskap nou benodig om hierdie eens welvarende provinsie te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

MakersMark ·

Hoe kon soveel swak kwaliteit mense op een hoop saamgetrek het, en die swakstes en mees korruptes word die leiers ?

Anton ·

Ek hoor hy gaan konsentreer op armoede en werkskepping. Nuwe en oorspronklike idees :-)

Nie Verbaas ·

Nuwe gesig met dieselfde uitkoms. Ons weet mos nou al dat hoe meer hopeloos en korrup jy is hoe verder vorder jy in ANC.

Jack ·

Nee wat hy gaan net sy sakke laai en oor ‘n paar maande bedank.Niks gaan verander nie en dit is maar net nog ‘n dag in die Noordwes provinsie.

Kokerboom ·

Sedert 1994 en die val van die destydse Bophuthatswana was Noordwes net een onstabiele gemors: korrupsdie , algehele wanbestuur en chaos. Alle dorpe het verval, paaie in toestand, dienste ontbreek totaal, ‘n Dorpie soos Ottosdal, eens mooi skoon dorp, lyk soos een groot rioolput. Absolute skande! En…CR was sy hande in onskuld! PATETIES!!!

Winnie ·

Watch the space. Ons gaan weer lees van hierdie “nuwe besem”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.