Nuwe R54 m.-skool vir Phillippi

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse regering het Donderdag gesê die nuwe Khanya Primary School in Phillippi sal teen die einde van die maand gereed wees, net betyds vir die derde kwartaal van die skooljaar.

Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, en Donald Grant, minister van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het die skoolterrein besoek en gesê hulle is “tevrede en opgewonde oor die splinternuwe skool” wat nou in die “finale stadium” van afhandeling is.

Leerders wat by dié skool sal skoolgaan, word sedert 2006 tydelik by die Buckingham Primary School se gebou in Mitchell’s Plain gehuisves, nadat hulle die Ottery-jeugsentrum se gebou moes ontruim. Die leerlinge, wat in Heinzpark, Samora Machel en Phillippi woon, het tussen 2004 en 2006 by die jeugsentrum skoolgegaan.

Konstruksiewerk het in Maart 2014 begin en die koste beloop ongeveer R54 miljoen.

Volgens Grant is dit een van meer as 20 skole wat in die provinsie opgerig word. “Elf skole sal voor die einde van die jaar gereed wees en vyftien ander is reeds onder konstruksie,” het hy gesê.

Meer as 156 plaaslike inwoners is op die perseel opgelei om bakstene te lê en houtwerk te doen.

Die nuwe skool sal oor 28 nuwe klaskamers, twee Graad R-klaskamers, twee spesialiskamers vir kuns en musiek, ʼn administratiewe blok, siekeboeg, kombuis, rekenaarkamer, skoolsaal, biblioteek, sportterrein en twee oppervlakte vir liggaamlike opvoeding, beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

En geen van die kinders het in opstand gekom met die gebruik van ‘n tydelike gebou as skool ?
Daarom verdien julle ‘n nuwe skool en sien ek vir julle vooruitgang.

MARTIN ·

Wat ‘n positiewe storie. Ek glo hulle sal hulle skool waardeer en oppas en nie afbrand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.