Nuwe raamwerk beskerm Wêrelderfenisgebiede teen indringerspesies

Kogelberg-natuurreservaat in die Kaapse blommestreek. (Foto: Ross Shackleton)

ʼn Span internasionale wetenskaplikes het met ʼn nuwe monitering- en verslagdoeningsraamwerk vorendag gekom om Wêrelderfenisgebiede teen bykans 300 verskillende uitheemse mikro-organismes, diere en plante te beskerm.

Die span, van wie drie lede navorsers van die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is, het die huidige status van biologiese indringing en die bestuur daarvan by 241 natuurlike en gemengde wêrelderfenisgebiede wêreldwyd ondersoek.

In Suid-Afrika is die Makhonjwaberge by Barberton, die Kaapse planteryk, iSimangaliso-vleilandpark en die Vredefortkoepel bestudeer.

“Ons ondersoek het getoon dat inligting oor die teenwoordigheid, bedreiging en bestuur van uitheemse indringerspesies by baie van die Wêrelderfenisgebiede beperk is en dat die status van biologiese indringing soms inkonsekwent was,” sê dr. Ross Shackleton, hoofnavorser van die SIB en die Instituut vir Geografie en Volhoubaarheid aan die Universiteit van Lausanne in Switserland.

Shackleton sê dat die gebrek aan ʼn stelselmatige verslagdoeningsmetode dit moeilik maak om inligting tussen terreine te vergelyk en ʼn indruk van wêreldwye tendense te vorm.

“Minder as die helfte van die Wêrelderfenisgebiede wat uitheemse indringerspesies as ʼn bedreiging aangedui het, het volledige inligting oor die bestuur van hierdie spesies beskikbaar gehad.

“Dít onderstreep die behoefte aan ʼn goeie monitering- en verslagdoeningsraamwerk vir biologiese indringing by Wêrelderfenisgebiede en ander beskermde gebiede wêreldwyd.”

Die span se raamwerk behels protokol vir dataversameling en verslagdoening oor die manier waarop uitheemse spesies in Wêrelderfenisgebiede beland, watter uitheemse spesies tans daar aangetref word, die uitwerking en bestuur van dié spesies, ʼn voorspelling van toekomstige bedreigings en bestuursbehoeftes, asook die identifisering van kennisleemtes.

Hierdie inligting kan dan gebruik word om ʼn oorhoofse bedreigingsvlak aan ʼn bepaalde terrein toe te ken wat aandui of die bedreiging baie hoog, hoog, matig, laag of datagebrekkig is.

“ʼn Kernfaset van die nuwe raamwerk behels ʼn lys van alle uitheemse indringerspesies wat op ʼn sekere terrein aangetref word. Met daardie inligting kan daar tred gehou word met veranderinge in bedreigings én met die inwerkingstelling en sukses van indringerspesiebestuur.”

Hoewel die span die raamwerk by sewe terreine wêreldwyd getoets het, het die proewe van die Vredefortkoepel méér inligting as vorige moniteringsinisiatiewe opgelewer.

“So byvoorbeeld het die IUCN World Heritage Outlook van 2017 die indringerspesiebedreigingsvlak vir die Serengeti, Keoladeo, Donana en Vredefortkoepel as ‘datagebrekkig’, ‘lae bedreiging’ of ‘nie gelys nie’ aangedui. Daarteenoor val ál hierdie Wêrelderfenisgebiede nou in die kategorie van matige tot hoë bedreiging van biologiese indringing op grond van ons assessering.”

Shackleton hoop hul raamwerk sal die konsekwentheid, vergelykbaarheid en algehele waarde van toekomstige verslagdoening oor die bedreiging en bestuur van uitheemse indringerspesies by Wêrelderfenisgebiede en ander beskermde gebiede verbeter.

“Die gebruik van hierdie raamwerk sal dit makliker maak om vergelykings te tref en beste praktyk tussen terreine uit te ruil, en sal die toekenning en prioritisering van finansiering vir die bestuur van uitheemse indringerspesies help rig. Dit kan ook die grondslag lê vir ’n vryelik beskikbare globale inligtingstelsel met ʼn inventaris van indringerspesiebedreigings vir hierdie gebiede,” sê hy.

Medenavorser prof. Dave Richardson, navorser van die SIB, stem saam met Shackleton oor die belang daarvan om hierdie gebiede te beskerm.

“Wêrelderfenisgebiede word al hoe meer bedreig deur biologiese indringing, wat inheemse biodiversiteit en die lewering van ekosisteemdienste in gevaar stel. Boonop is uitheemse indringerspesies ʼn finansiële las, want dit kan besonder duur wees om te bestuur,” sê Richardson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PieterP ·

Wat van teen die ander indringers beskerm wat alles uitkap en vrek trap?

marius ·

Wat van die rou riool wat die ekologie vernietig ? Te moeilik om daarop te konsentreer ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.