ʼn Span navorsers van oor die wêreld heen het ʼn nuwe raamwerk opgestel wat gebruik word om verskillende leeubevolkings, veral in Afrika, se bewaringsbehoeftes te help bepaal.
Dié raamwerk is die eerste van sy soort en gee ʼn werklike blik op die faktore wat bydra tot die kwynende getal Afrika-leeus, en hoe finansiële bystand en ingrypings meer doeltreffend aangewend kan word om die oorblywende leeus te help beskerm.
Die navorsing is deur Samantha Nicholson van die Endangered Wildlife Trust (EWT) in Suid-Afrika gedryf, asook prof. Amy Dickman van die Oxford‑universiteit se navorsingseenheid vir wildbewaring. Nog 32 ander navorsers van reg oor die wêreld het tot die formulering van die raamwerk bygedra. Die navorsing is in die vaktydskrif Communications Earth & Environment gepubliseer.
“Die navorsing bring die ekologiese sowel as sosio-politieke faktore in ʼn enkele raamwerk saam om moontlike ingrypings en beleggings in die bewaring van Afrika-leeus beter te bepaal,” sê Nicholson.
Koste van bewaring ‘astronomies’
Die meeste van Afrika se leeubevolkings kom in 25% van die kontinent se armste lande voor, nadat ander lande wat nou relatief ryk is, lank reeds hul bevolkings laat uitsterf het. Dit beteken dat die armste lande en gemeenskappe die las van die bewaring van die oorblywende Afrika-leeus moet dra.
Vorige skattings dui daarop dat meer as $1 miljard (byna R19 miljard) jaarliks nodig is om bloot die leeus binne beskermde gebiede te onderhou. Die navorsers skat egter dat die koste verbonde aan die beskerming van al die oorblywende Afrika-leeus jaarliks nader aan $3 miljard (R56 miljard) is.
“Die wêreldgemeenskap wil vrylopende, wilde leeus in Afrika onderhou, maar om sommige van die wêreld se armste mense te vra om gevaarlike roofdiere in hul gemeenskap te onderhou, is onregverdig en waarskynlik nie volhoubaar nie,” sê die navorsers.
“Hierdie navorsing onderstreep dus die morele verantwoordelikheid van ryker nasies om meer betekenisvol by te dra tot leeubewaring, en die nuwe raamwerk sal hierdie lande help om van die faktore te identifiseer wat oorweeg moet word om daardie bydrae meer doeltreffend te maak.”
Nicholson se die raamwerk is van kritieke belang omdat leeus deur uitdagings in die gesig gestaar word wat ekologiese sowel as sosio-politieke wortels het.
Dr. Andrew Jacobson van die Catawba College in Noord-Carolina in die VSA, en een van die senior outeurs van die navorsing, verduidelik wat presies met die ekologiese en sosio-politieke faktore bedoel word.
“In byvoorbeeld Soedan en Benin kom ʼn enkele soort leeu en min of meer dieselfde aantal leeus voor. Benin se leeus is egter deel van ʼn veel groter oorgrensbewaringsgebied wat met twee ander lande gedeel word. Benin is ook ʼn relatief meer stabiele en welvarende land as Soedan.
“Die soort leeus in Soedan se gebied strek ook oor ʼn landsgrens, maar in teenstelling met Benin is Soedan in ʼn burgeroorlog gewikkel, wat tot gevolg het dat burgers in hul miljoene landuit vlug.
“Die onstabiliteit in hierdie land ondermyn wildbewaarders se vermoë om die voortbestaan van Soedan se leeus te verseker.
“Hierdie vergelyking wys hoe ekologiese en sosio-politieke faktore in ag geneem moet word wanneer daar bepaal word om in watter leeubevolkings se voortbestaan te belê,” sê Jacobson.
Dickman sê hoewel die leeus in Soedan en Benin op die oog af soortgelyk is, benodig hulle waarskynlik verskillende vlakke van finansiële ondersteuning en selfs verskillende tipes ingryping om bewaring te laat slaag.
“Om geld te gee vir die bewaring van Soedan se leeus kan betreklik ondoeltreffend wees, tensy die sosio-politieke faktore soos die burgeroorlog eers aandag kry,” sê sy.
“Belanghebbendes, beleggers en bewaringsgroepe moet dus bewus wees van hierdie verskille wanneer hulle die bewaring van leeus benader en evalueer hoeveel geld, tyd of ander belegging nodig is om sukses te behaal.”
Broosheid word só bepaal
Om die raamwerk te verfyn het die navorsers wilde Afrika-leeus geïdentifiseer en in ekologiese en sosio-politieke kategorieë gegroepeer. Faktore is in elk van die kategorieë geïdentifiseer wat moontlik die oorlewing van die leeus kan beïnvloed.
ʼn Kleiner leeubevolking of groot getalle mense en vee is faktore wat bydra tot hoër vlakke van ekologiese broosheid vir leeus. Dit terwyl hoër vlakke van korrupsie of ʼn laer bruto binnelandse produk (BBP) per kapita bydra tot hoër vlakke van sosio-politieke broosheid.
Die navorsers het hierdie faktore in elke kategorie gemeet en ʼn algehele broosheidstelling vir elke leeubevolking bepaal. Dit is opgeweeg teen mekaar om te bepaal watter groep watter soort ingryping benodig om die bewaring daarvan te verseker.
Volgens Dickman stel hierdie broosheidstelling nie voor watter leeubevolkings beskerming of befondsing verdien nie. Dit beklemtoon eerder die uiteenlopende ekologiese en mensgeskepte druk wat verskillende leeubevolkings in die gesig staar en watter bevolkings dalk meer hulpbronne – finansieel of ander – benodig om bewaar te word.