Nuwe rampregulasies ‘niksseggend’

(Foto: Bill Mead / Unsplash)

Byna drie weke nadat pres. Cyril Ramaphosa ʼn nasionale ramptoestand afgekondig het om die voortslepende kragkrisis te pak, het die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) die spesifieke regulasies wat daarmee verband hou, in die Staatskoerant bekend gemaak.

Dit lui onder meer dat kwytskelding van beurtkrag vir noodsaaklike infrastruktuur en dienste net toegestaan mag word indien dit “tegnies moontlik” is, en dan ook net in oorleg met die vereistes van die stelseloperateur dat dit nie “gaan lei tot ʼn verhoogde risiko of hoër fases van beurtkrag” nie.

Ministers mag, soos nodig, maatreëls instel om struikelblokke vir die ontwikkeling of konstruksie van nuwe opwekkingskapasiteit uit die weg te ruim en moet die sekuriteit en beskikbaarheid van die lewering van goedere en dienste tydens die nasionale ramptoestand handhaaf.

Dit bepaal voorts dat die aansoek- en besluitnemingsprosedures vir regulatoriese prosesse wat verband hou met energieopwekkingsprojekte, versnel en meer vaartbelyn gemaak moet word. Dit sluit in ʼn enkele departement of instelling om die aansoeke te verwerk en die bepaling van ʼn maksimum tydsraamwerk vir besluite daaroor.

Die aansoek- en besluitnemingsproses oor onder meer omgewingstoestemming, afvalbestuurslisensies, lisensies vir uitlaatgasse en kondonerings moet ook meer vaartbelyn gemaak word.

Die invoer van krag van buurlande en die afhandeling van kontrakte hiervoor moet versnel word en daar moet voorsiening gemaak word vir die werwing en plasing van vaardige personeel en die aanstelling van oorspronklike onderdeelvervaardigers by Eskom sodat die kragvoorsiener se Opwekkingsherstelplan vinniger vrugte sal afwerp.

Die kragkrisis het ook ʼn al hoe groter uitwerking op die land se vermoë om betroubaar water te lewer en waterrade en munisipaliteite moet ingevolge die regulasies minimum bedryfsvlakke by reservoirs handhaaf.

“Waterbehandeling- en reservoir-opgaarkapasiteit moet verhoog word. Waterbehandelingskedules moet aangepas word om watersuiwering te maksimaliseer wanneer krag of ander maatreëls beskikbaar is en ander stappe moet gedoen word om watervoorsiening te verseker,” lui die regulasies.

Die regulasies bepaal ook dat: “Die doeltreffende koördinering tussen staatsdepartemente, Eskom en ander tersaaklike instellings en entiteite moontlik gemaak moet word om die sekuriteit van kraginfrastruktuur te verseker.”

ʼn Kabinetslid mag ook nou enige ander stap doen om die verergering van die ramp te verhoed, of om dit te verlig, in bedwang te bring of die uitwerking daarvan te minimaliseer.

Regulasies ‘niksseggend’

Die regulasies lui dat ʼn minister stappe mag doen vir die fasilitering van “internasionale hulp” wat gemik is op die “verligting, stuit, of minimalisering” van die ramp.

Dit is oënskynlik ʼn “skuiwergat” vir die beoogde ooreenkoms met die Turkse maatskappy Karpowership, sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Karpowership se pogings om noodkrag aan Suid-Afrika te lewer maak maar stadige vordering weens hofsake en heftige teenkanting. Die voorstel is dat ʼn tien jaar lange ooreenkoms met Karpowership aangegaan word vir die lewering van noodkrag en die lengte van die kontrak is een van die grootste bronne van kommer. Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het vroeër egter gesê ʼn 10 jaar lange kontrak kan die ooreenkoms help beklink, maar dat krag dan teen ʼn duurder prys per eenheid aangekoop sal moet word.

Een van die maatskappy Karpowership se kragskepe. (Foto: Karpowership)

Mulder sê daar is “feitlik niks in hierdie regulasies wat nie reeds moontlik” was nie.

“ʼn Mens kan nie onbevoegdheid reg reguleer nie.

“Daar is wel ʼn paar skuiwergate wat absurditeite moontlik maak. Só ook is dit uitsonderlik onduidelik wat presies die minister van elektrisiteit gaan doen,” sê hy.

Ramaphosa het tydens sy staatsrede aangekondig dat dié nuwe portefeulje geskep word, maar geen minister is nog aangewys nie. Mulder sê uit die regulasies blyk dit dat die Cogta-minister, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, volledig in beheer van die situasie gaan wees.

Mulder sê die regulasies is eintlik “niksseggend”.

“Die oorgrote meerderheid is die Cogta-minister wat net bestaande verantwoordelikhede afwentel na ministers wat dit reeds kan doen.”

Noodverkryging

Die regulasies bepaal dat enige noodverkryging vir staatsinstellings steeds onderworpe is aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op Voorkeurverkrygingsbeleid.

Die ouditeur-generaal sal intydse oudits doen en verslag lewer oor die rekeninge, finansiële state en finansiële bestuur van alle noodverkryging wat tydens die ramptoestand onderneem word,” lui die regulasies.

  • Kry die volledige regulasies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Matashe en KOPDOEK gaan daai skepe nou met al die water Vaaldam toe laat sleep vir “centrill distebusjin”.

Manie ·

Mnr Mulder, vra asb vir die DA in Kaapstad hoekom hulle die enigste stad in SA is waarvan ek bewus is waar ‘n huiseienaar wat krag vir eie gebruik wil opwek, die sonkragstelsel moet registreer en slegs van hulle aanbevole toerusting mag gebruikmaak. Ek stem saam dat ‘n COC benodig word vir veiligheids redes, maar al die ander regulasies is absurd.

Danie ·

En alles te danke aan die vet gevreet onbeholpe skamelinge.

Casper ·

Hier kom Mantashe se Karpowerships weer ter spraje,maar dit gaan duurder kos per eenheid.Ons betaal alreeds ons ore van ons koppe af vir krag,wie gaan daai verhoogde krag kan bekostig en hoeveel krag kan hulle lewer.Ons moet tenminste 6000 KW krag by die stelsel voeg en daai skippe is te lig in die broek.Hiekom hamer Mantashe op die Karpowerships,kry hy ‘n meevallertjie.

JohanR ·

Die ANC gryp nou na enigeiets wat hulle kan red by die verkiesing hokkies in 2024!

Johan ·

Die grap lui:”Hoeveel Iere neem dit om n gloeilamp te ruil ?”
Antwoord:”3 – twee om die leer vas te hou en een om die gloeilamp uit te draai.”
… enigste verskil indien die Iere sou ruil met ANC kaders is dit glad nie meer n grap nie.
Wat sê ek eintlik ? – dit is netso niksseggend soos die rampregulasies.

Amelia ·

Die is mos nou al lankal beplan net soos die russe wat ook hier was nee mense die anc dink ons sien nie wat hul aanvang nie Oor paar jaar sal seker gese word russe gaan SA van krag voorsien teen prys
en russe gaan kos invoer teen n prys en so kan russe en china ons land inweurm vir hul eie gewin

Nie Verbaas ·

“Die ouditeur-generaal sal intydse oudits doen en verslag lewer oor die rekeninge, finansiële state en finansiële bestuur van alle noodverkryging wat tydens die ramptoestand onderneem word,” Nee dankie, ons sal verkies as n onafhanklike entiteit van internasionale afkoms dit doen. Kaders sukkel met een plus een.

Anel ·

Hulle is nou do bekommerd oor besoedeling. Wat van die spul asblikgrawers wat oorals plak en hul gemors in ons riviere gooi? Maak ook soos Venisië en Parys, Frankryk. Hulle wek krag op van hul vullis. Hoekom kan ons dit nie ook doen nie?

Danie ·

Daar was en is niks om te doen nie.Weet nie wat probeer hulle nog nie dis net bluf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.