Nuwe raswet kan ‘onherstelbare skade veroorsaak’

(Grafika: Monica Mynhardt/Maroela Media)

Die hoogs omstrede en bestrede nuwe wysigingswet op gelyke indiensneming wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week onderteken het, sal moontlik privaatsektorraskwotas ʼn werklikheid in Suid-Afrika maak – en dit kan die deur vir sosiale ingenieurswese in die ekonomie oopmaak.

Net nóg ʼn raswet?

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) se Indeks vir Rasreg wys die parlement het sedert 1994 nie minder nie as 116 nuwe stukke wetgewing aanvaar wat handel oor ras. Suid-Afrika het tans 132 stukke wetgewing waarin die ras, velkleur of etnisiteit van landsburgers relevant geag word.

Wat maak die nuwe wysigingswet dan anders?

“Die potensiële gevolge daarvan maak dit uniek; dit is nie net nog ʼn raswet nie,” verduidelik Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

Van der Bijl meen dié wetgewing sal Suid-Afrika onherstelbare skade berokken indien dit deurgevoer word soos die regering beoog en dit is een van die hoofdryfvere agter Solidariteit se regstappe teen die wetgewing.

Nuwe skadelike wysigings

Die wysigingswet beoog om transformasie in die Suid-Afrikaanse werksmag te bevorder deur indiensnemingsteikens vir ekonomiese sektore en geografiese streke daar te stel.

Die wysigingswet se ingrypendste wysiging, soos vervat in artikel 15A van die wet, sal die minister bemagtig om deur die bank numeriese sektorale en geografiese teikens ten opsigte van regstellende aksie uit te vaardig.

“Die minister kan doodeenvoudig een oggend opstaan, enige teikens vir enige vlak van enige sektor aankondig en dit is dit. Ongeag die haalbaarheid daarvan moet alle sakeondernemings in die sektor dan daaraan voldoen, selfs al kan hulle dit finansieel, ekonomies en sosiaal nie oorleef nie,” waarsku Van der Bijl.

Boonop sal die direkteur-generaal van die departement van arbeid by magte wees om nie-voldoeningsertifikate uit te reik aan sakeondernemings wat strydig met die teikens optree.

“Daar word ʼn pistool geplaas teen besighede se koppe wat sê ‘jy sal hieraan voldoen, ongeag jou omstandighede’.”

Dit is volgens Van der Bijl juis waar die skadelikheid van die wetgewing lê: Duisende ondernemings gaan ingevolge van die wetgewing gedwing kan word om te voldoen aan teikens wat hul lewensvatbaarheid moontlik ondermyn.

Onregverdigbaar, ongrondwetlik

Die wysigingswet vervang die voormalige aansporingswortel van rassetransformasie met die stok van sektorkwotas. Voldoening aan transformasieteikens is ingevolge hiervan nie meer ʼn doelwit nie, maar ʼn vereiste wat beteken die wetgewing maak kwotas ’n moontlikheid.

“Kwotastelsels word uitdruklik verbied deur die Grondwet en die Wet op Diensbillikheid wat die wetgewing uit die staanspoor ongrondwetlik maak. Boonop is dié wysigingswet so lomp dat dit direk strydig is met internasionale konvensies en verdrae wat uitdruklik vereis dat regstellende aksie genuanseerd en gebalanseerd benader word daar waar dit toepassing vind.”

Van der Bijl meen die wetgewing het wel die potensiaal om neer te kom op sosiale ingenieurswese afhangend van die wyse waarop dit prakties toegepas word, bloot weens die ingrypende magte wat dit aan die minister gee.

Impak op minderhede

Gaan hierdie wetgewing dit moeiliker maak vir minderhede om ekonomies te oorleef?

“Baie minderhede het in die verlede uit blote ekonomiese noodsaak nakoming aan raswette ontduik, omdat dit absoluut onmoontlik was om daaraan te voldoen. Uiteindelik wil mense net seker maak hulle en hul werknemers het ʼn dak oor hul koppe en kos op die tafel.”

Lewensnoodsaak troef daarom byna altyd regeringsideologie.

“Die nuwe wetgewing gaan weens die voldoeningsvereistes dit moeiliker maak vir minderhede om ekonomies oor die weg te kom, maar geensins onmoontlik nie. Minderhede het nog altyd in die verlede gewys hulle kan opstaan, suksesvol wees en ʼn eie toekoms bou ongeag die omstandighede waarin hulle is,” sê Van der Bijl.

Raswette se tyd is verby

Navorsing van die Centre for Risk Analysis se jaarlikse “Socio Economic Survey” toon Suid-Afrikaanse burgers meen die regering moet rassetransformasie redelik laag op sy agenda hou met kwessies soos werkskepping, die uitroei van korrupsie en verbeterde onderwys, wat veel belangriker geag word.

Wat moet die topprioriteit vir die regering wees?SwartBruinIndiër/AsiatiesWitTotaal
Meer werkskepping27%32%19%13%26%
Beveg korrupsie10%19%31%34%14%
Verbeter onderwys10%9%19%18%11%
Misdaadbekamping9%18%0%11%10%
Bou meer huise11%10%6%1%10%
Beveg dwelmmisbruik11%3%6%0%9%
Beveg onwettige immigrasie8%0%0%4%7%
Verbeter gesondheidsorg4%35%12%5%4%
Verbeter dienslewering3%5%0%3%3%
Beveg rassisme2%0%6%5%2%
Bespoedig grondhervorming2%0%0%4%2%
Versnel regstellende aksie1%1%0%0%1%

Bron: CRA, Socio Economic Survey 2020 (IRR Meningspeiling 2018)

Dié navorsing toon verder slegs 8% van burgers meen swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie is die beste manier om mense se lewe te verbeter, met 59% wat meen meer werksgeleenthede en beter opleiding is die beste pad vorentoe.

“Mense is moeg vir politieke rasse-ideologieë – ons hoop, glo en vertrou die howe [in ons regstryd] is ook moeg daarvoor,” sê Van der Bijl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek is ook moeg mnr. Van der Bijl. Maar kan ons heeltyd howe toe hardloop? Daar is seker ander opsies, of hoe?

TruthDealer ·

Die ANC moet nog net blankes verbied in winkels, restaurante, vakansieplekke en ander publieke plekke, en om huise te bewoon in sekere gebiede. Dan is die terugkeer na Apartheid voltooi. Net onder n ander regime. New boss, same as the old boss.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.