Nuwe redakteur vir Beeld

Barnard Beukman Foto: Facebook

Barnard Beukman Foto: Facebook

Media24 het in ʼn persverklaring bekend gemaak dat Barnard Beukman vanaf Desember Beeld se nuwe redakteur sal wees.

Beukman (52) neem oor by Adriaan Basson, wat sedert 2013 dié pos beklee het en nou hoofredakteur is van Netwerk24, en Liezel de Lange wat die pos tydelik beklee het terwyl na ’n nuwe redakteur gesoek is.

Beukman het sy joernalistieke loopbaan in 1989 by Oosterlig in Port Elizabeth begin. Later dieselfde jaar het hy by Die Burger aangesluit. Vanaf November 1997 was hy ’n jaar lank die direkteur in die parlementêre kantoor van die leier van die amptelike opposisie.

Hy is in 1998 aangestel as assistent-redakteur by Rapport, waar hy as Pretoriase burohoof gedien het. In 2003 het hy van die redaksionele na die sakekant geskuif met sy aanstelling as streekuitgewer van RCP Media.

In 2009 is hy bevorder tot hoofbestuurder van Beeld en Rapport. Hy het ook Media24 op die direksies van Mooivaal Media en Capital Media verteenwoordig.

“Media24 is aan die voorpunt van die wêreldwye skuif van nuus na elektroniese platforms, maar glo duidelik dat gedrukte koerante steeds ’n kritieke rol in die nuusstrategie en samelewing moet speel,” het Beukman gesê. “Ek glo dit is belangrik dat lesers oor ’n wye front tuis en welkom moet voel by die koerant en die nuusaanbieding stimulerend moet vind.”

Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie, het Donderdag gesê Barnard verstaan Afrikaanse koerante en sal ’n waardevolle bydrae tot die span lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Dankie Maroela Media dat ‘nuus moet verniet wees’.

Bruno Stef ·

Ek besoek ons plaaslike winkels elke dag in ons dorpie en merk op dat Beeld teen die laatmiddag/aand se kant maar nie minder word nie MAW die verkope is maar vrot,Kom ons gee die man n kans hy kan dalk n haas uit die hoed uit trek.Meer power as sy voorganger kan hy beslis nie wees nie en dalk nog n regstelling maak op sy voorganger se gewraakte aanval op NWU.

Gideon ·

Beeld het my as leser vir altyd verloor!! Hulle was soos die spreekwoord sê- die makste hond byt die seerste. Dit is asof beeld uit hulle pad gegaan het om hulle lesers die Afrikaanssprekende af te kraak, te verneder en te laat les opsê by die regering. Daar is nog ‘n spreekwoord wat sê – net ‘n donkie stamp sy kop twee keer! Ek het aanbeweeg na die pragtige groen weivelde van Maroela media, die koerant wat nie bang is om alles oop te vlek nie, wat sal sny tot op die been! Wat sal berig oor plaas aanvalle, en ja wat weer sal berig as daardie aanvalle gedoen is deur familie of vriende of wat ook al! Dit is waarvan ons hou, nie duisternis nie maar lig op elke onderwerp!! Maroela Media Bo!!

Nico K ·

Ek kan nie sien dat dinge sal verander nie. Soos ek verstaan is sy voorganger nou die groot baas.

Flippie ·

Ek wonder nou net waneer gaan Beeld, eers tweetalig en later net in Engels verskyn.

Beeld het eers die Boer en toe die Afrikaner verloor. Vir die Kolonianers en ander Kaapse Afrikaners is daar Die Burger en die Son.

Vir alle Afrikaans sprekendes is daar Maroela media.

Nefie ·

Dis soos om kapteinskap van die Titanic oor te neem nadat die ysberg getref is. Jammer Beeld, behalwe vir die internet is julle self die oorsaak van julle ondergang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.