Nuwe reëls om OB, ander hoofstuk 9-hoofde te verwyder 

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Foto: Twitter)

Die parlement het pas nuwe reëls aanvaar om ampsdraers en kommissarisse van hoofstuk 9-instellings uit hul poste te verwyder.

Die reëlskomitee het die reëls verlede week afgehandel en dit Dinsdag aanvaar.

Daar was voorheen geen voorgeskrewe metode oor hoe om die hoof van ʼn artikel 9-instelling, soos die Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Onafhanklike Verkiesingskommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe en ook die ouditeur-generaal, te verwyder nie.

Die Grondwet maak tans net voorsiening om hoofde te verwyder op grond van wangedrag of onbevoegdheid; op grond van ’n bevinding in dié verband deur ’n komitee van die Nasionale Vergadering en die aanvaarding van ʼn resolusie deur die Nasionale Vergadering.

Die nuwe konsepreëls is nou uitgebrei om die gronde vir wat wangedrag of onbevoegdheid sou wees, in te sluit. Wangedrag beteken die opsetlike of growwe nalatige versuim om te voldoen aan die standaard van gedrag wat van ’n openbare amptenaar verwag word, terwyl onbevoegdheid onder meer insluit ʼn gebrek aan kennis om uitvoering te gee en die onvermoë om te presteer of ʼn tekort aan die vaardighede wat nodig is om sy of haar pligte doeltreffend uit te voer.

Die nuwe konsepreëls maak ook voorsiening vir enige lid van die Nasionale Vergadering om, met ’n substantiewe mosie, ʼn proses met die oog op ’n artikel 194-ondersoek te begin. Die speaker van die Nasionale Vergadering moet die mosie en alle stawende dokumente vir voorlopige beoordeling na ’n onafhanklike paneel verwys. Die speaker moet ook sonder versuim die Nasionale Vergadering en die president in kennis stel van hierdie verwysing.

ʼn Paneel moet daarna binne 30 dae ʼn voorlopige evaluering doen en finaliseer en ʼn aanbeveling aan die speaker doen. Dít word na die Nasionale Vergadering verwys vir ʼn besluit en as daar besluit word dat dit voortgaan, moet die saak vir formele ondersoek na ’n spesiale artikel 194-komitee verwys word.

Die komitee, met die bevoegdhede wat op ander parlementêre komitees van toepassing is, moet die ondersoek uitvoer en aan die Nasionale Vergadering verslag doen.

Dié verslag moet dan in die parlement bespreek word. As die verslag aanbeveel dat ʼn openbare ampsdraer uit sy of haar amp onthef word, moet die Nasionale Vergadering daaroor stem. Indien ʼn meerderheid van die lede die aanbeveling steun, moet die besluit aan die president oorgedra word.

Maroela Media het vroeër berig een van die eerste van hierdie hooggeplaastes wat onder druk kan kom om haar pos te ontruim is die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Die DA het in die verlede al verskeie kere onsuksesvol gevra dat die portefeuljekomitee die proses begin om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.

Dit het gevolg op ʼn vlaag hofbeslissings teen Mkhwebane.

Die OB het vroeër self aan die parlement geskryf en gesê geen reëls bestaan om haar uit haar amp te verwyder nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos sonder krag ·

Goeie môre liewe SA.. Ons bly in Leeuwfontein, Pretoria… Area Roodeplaatdam.. Ons sit nou al sonder krag vanaf die 3rde Desember 19h30.. 2 dae later en al ons veiligheids sisteme soos elektriese heinings, gek motors en alarms werk nou glad nie meer nie. Ons kry net Lee beloftes vanaf Stadsraad.. Hul werk aan probleem.. Ons is raadop. Ons area loop huidiglik kwaai onder diefstal deur en nou is ons en ons eiendom onveilig en loop op ‘n groot’ disaster’ af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.