Nuwe reëls oor kwarantyn, isolasie weer opgeskort

(Foto: Jackson Jost/Unsplash)

Vyf dae nadat die departement van gesondheid aangekondig het dat die nasporing en verpligte kwarantyn van mense met wie Covid-19-pasiënte in aanraking was, gestaak word, is dié besluit weer gewysig.

Maroela Media het vroeër berig die departement het ook besluit dat diegene wat in aanraking met ʼn Covid-19-pasiënt gekom het, nie vir die koronavirus getoets hoef te word nie tensy hulle simptome begin ontwikkel.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement, sê die hersiening van die besluit is gegrond op verskeie “wetenskaplike faktore”, waaronder die feit dat die meeste mense nou reeds een dosis van die Covid-19-entstof ontvang en ʼn mate van immuniteit ontwikkel het.

“Dit het bygedra tot die huidige lae vlak van hospitaalopnames en die hoë herstelkoers,” sê hy.

Tans word 8 933 mense landwyd vir Covid-19 in hospitale behandel.

Mohale sê ook baie mense toon geen simptome nie en Covid-19 word net by ʼn klein aantal van hulle gediagnoseer.

“Die getal mense, ook kinders, wat in aanraking met Covid-19-positiewe mense kom, verloor hul inkomste en kosbare onderrigtyd terwyl hulle sonder enige simptome tuis moet bly.”

Die departement het dus, in ooreenstemming met die beginsel van “deursigtigheid en openheid”, besluit om die inwerkingstelling van die hersiene beleidsveranderings te staak, terwyl alle bykomende kommentaar en insette oorweeg word.

Dit beteken alle regulasies met betrekking tot kontaknasporing, kwarantyn en isolasie geld steeds, sê Mohale.

Die departement het om verskoning gevra vir enige gepaardgaande verwarring en ongerief en sê ʼn nuwe omsendskrywe sal uitgestuur word sodra alle insette oorweeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.