Nuwe regsplan kan stryd teen onteiening sonder vergoeding verander

Dr. Annelie Lotriet. Foto: DA/Flickr.com

Die uitvoering van die ANC se plan om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik deur die verandering van art. 25 van die Grondwet te wysig, het moontlik heelwat moeiliker geword nadat die DA sy planne om die amendement in die hof te stuit, aangekondig het.

Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, het in die debat oor die staatsrede gesê die ANC-voorstel om die mag van die howe om as arbiter oor grondwaarde op te tree, aan die minister van landbou oor te dra, is ’n aanslag op die oppergesag van die reg, soos gewaarborg in art. 1(1) van die Grondwet.

As sodanig sal die DA aanvoer die ANC-voorstel in sy huidige vorm sal minstens 75% steun in die Nasionale Vergadering moet hê om te slaag.

Gegewe dat die ANC slegs 57,6% steun het en die EFF (wat in elk geval nie tans die ANC-voorstel steun nie) 11%, maak dit die aanvaarding van die huidige ANC-voorstel prakties onmoontlik, indien die DA se regsargument oor die drempel steek hou.

Lotriet het ook uitgewei oor die negatiewe invloed wat die voorstelle oor onteiening sonder vergoeding reeds op die land het.

“Sedert die begin van hierdie proses het sake en verbruikersvertroue tot ʼn rekord laagtepunt verswak. Die aantal landbougrond-transaksies het reg oor die land afgeneem,” het Lotriet gesê.

“Private vastebeleggings toon geen vordering nie en onlangs is die Landbank deur Moody’s tot rommelstatus afgegradeer. En hulle motivering daarvoor is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding tot gevolg sal hê.

“Wat word van verbande wat op eiendom geregistreer is en sonder vergoeding onteien word? Soos dit blyk uit kommentaar vanuit die banksektor, gaan die persoon wat die verband uitgeneem het steeds daarvoor verantwoordelik wees. Met ander woorde die staat kan jou eiendom onteien en jy moet nog steeds betaal,” aldus Lotriet.

Sy het ook verwys na die impak op die banksektor.

“Die impak hiervan, nie net op die individu nie, maar ook op die finansiële sektor, is geweldig. Daar is tans R1,6 triljoen se verbande op residensiële, kommersiële en landbou-eiendom deur banke toegestaan. Die Landbank kan R53 miljard verloor. Dit kan die banksektor ʼn fatale knou toedien,” het Lotriet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Die regering moet eiendomsreg respekteer want hulle erken dit deur finansiële opbrengste uit grond: Boedelbelasting , oordragkostes en Hereregte, BTW, munisipale belasting en heffings, verbeterings, ens. Deur geld hiervoor in te samel word eiendomsreg van die huidige eienaars erken. Dit is te betwyfel dat grondonteiening die staatskas en ekonomie gaan ondersteun, dus groter ellende.

Henk ·

Dit is goed dat die teenstand volgehou word, uit alle oorde en alle beskikbare strategieë.

twaalfboor ·

My huis sal om een of ander onverklaarbare rede afbrand. Dan sal die bank maar van my versekering moet eis om hulle geld te kry. Baaibaai versekerings maatskappye……. ANC mos VERSKRIKLIK slim.

Miskruier ·

Dalk is die voorstel, dat mens ophou om jou verband by die bank te betaal, glad nie so sleg idee nie. Die geld word in n trust inbetaal. Glo my die banke sal die ANC se gal werk.

Vriendelike Frikkie ·

Nie as hulle genasionaliseer is nie. Ook reeds deur ANC beplan.

Scholtz ·

Wat vir ‘n gogga is “amendement”? Die woord waarna sy seker gesoek het, was wysiging.

Carel Johannes ·

Grondonteiening deur die ANC is niks anders as ‘n demoniese politieke skuif om stemme te werf en ‘n eens voorspoedige Suid Afrika finaal oor die afgrond van armmoede, verdere staatskaping, bedrog, noem maar op, te laat tuimel armoede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.