Nuwe regulasies gou in plek ná listeriose-uitbreking

verwerkte-vleis

Foto: Ddwcolor.com

Nuwe regulasies om die Suid-Afrikaanse verbruiker te beskerm teen die gesondheid- en veiligheidsrisiko’s wat die produksie van verwerkte vleisprodukte inhou, tree vandeesmaand in werking.

Die uitbreking van listeriose in die middel van 2017 tot Maart 2018 het tot die dood van meer as 200 mense gelei, sowel as die sluiting van verwerkingsaanlegte. Die nuwe regulasies het ten doel om inspeksies van verwerkingsaanlegte moontlik te maak ten einde ’n soortgelyke tragedie te vermy, het Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, gesê.

Die nuwe regulasies volg op ʼn ooreenkoms tussen die departemente van handel en nywerheid en gesondheid, en die finale publikasie van die verpligte spesifikasies vir verwerkte vleisprodukte. Die regulasies is op 8 Augustus in die Staatskoerant gepubliseer en tree twee maande na publikasie in werking.

Volgens Medupe sal die nuwe regulasies deur die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) afgedwing word. Die doel van hierdie verpligte spesifikasies is om die kategorieë verwerkte vleisprodukte wat as ’n hoë risiko beskou word, doeltreffend te reguleer ten einde die gesondheid en veiligheid van verbruikers te beskerm.

Die departement van handel en nywerheid sal saam met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling werk om die toepassing van die nuwe regulasies ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde te koördineer. Die NRSC is ook besig met die opstel van ’n uitgebreide regulatoriese program vir inspeksies oor die hele land.

“Dit is ’n belangrike stap om te verseker dat verbruikers beskerm word teen skadelike bakterieë wat deur voedsel oorgedra kan word,” het Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, gesê.

“Ons voedselbedryf is belangrik vir ekonomiese ontwikkeling en werkskepping in die land. Werksgeleenthede in die voedselbedryf moet verseker word deur maatreëls wat die nodige beskerming aan verbruikers bied. Ons het ooreengekom dat ’n taakspan bestaande uit amptenare van die drie departemente benoem moet word om ’n toegewyde owerheid vir voedselveiligheid in die land te oorweeg.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê die nuwe regulasies dui op ’n era van bestuur waar daar doeltreffende multisektorale samewerking bestaan om mense teen gevare in die omgewing te beskerm en terselfdertyd voedsel- en werksekerheid te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alida X

AAg tog!! Nog ‘n taakspan wat weining gaan uitrig. Soos gewoonlik seker weer tjommies wat niks meer van voedsel weet behalwe hoe om dit te verorber nie. Dan volg die owerheid wat voedselveiligheid gaan afdwing. Waar is die gesondheidsinspekteurs? Weer ‘n klomp groot woorde en nuwe benamimgs vir ‘n klomp mense met ‘n afdeling wat ook gebrekkig bestuur word. My negatiewe houding oor die dinge maak my siek. Ondervinding het my geleer dat hulle net niks behoorlik kan bestuur nie. Al is daar nou hoeveel regulasies in plek is dit nie deur bevoegde persone uitgedink nie. Alle geite op papier… Lees meer »

Gert

Die voedselbedryf moet solank begin om kaste whiskey te koop.

marous

Hoop hulle klink almal ‘n glasie Vaal rivier water op hul sukses .

Wurmpie

En wat van die braaiers op straat?

J

Vleis het so duur geword. Dat dit in die pakkies begin vrot.