Nuwe regulasies is onwettig, meen LFN

(Foto: Maroela Media)

Liberty Fighters Network (LFN) en sy president, Reyno de Beer, het Vrydag ʼn dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring om die wysiging aan die regulasies oor die waarneming en beheer van aanmeldbare mediese toestande te hersien.

Dié regulasies is Woensdagaand kort voor middernag gepromulgeer, enkele minute voor die regulasies volgens die Rampbestuurswet sou verstryk.

“Hierdie organisasie, vir maatskaplike geregtigheid, het die gesondheidsminister dr. MJ Phaahla al sedert 1 April 2022 skriftelik gewaarsku dat die regulasies outomaties onwettig sal wees,” sê De Beer in ʼn verklaring. “Die regulasies sal ongeldig wees as hy dit operasioneel sou maak sonder om die drie maande verpligte konsultasieperiode te volg kragtens artikel 90(4)(a) van die Gesondheidswet.”

De Beer sê die waarskuwing kom ná die vorige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, reeds in die middel van Oktober 2020 wysigings aan die betrokke regulasies voorgestel het met soortgelyke effek.

“Toe LFN in kennis gestel is van minister Mkhize se planne, is ʼn geskrewe waarskuwing ook aan hom gestuur. Die wysigings het uiteindelik nie lewenslig gesien nie en Mkhize het kort daarna nooit na sy amp teruggekeer nie. Hy is deur minister Phaahla vervang.”

LFN versoek die hof dat Phaahla die volledige rekord van besluite moet verskaf wat tot die oorhaastige uitvaardiging van die wysigings gelei het. LFN voer aan die minister se optrede kom neer op “in fraudem legis”, ʼn regsterm wat gebruik word om die optrede te beskryf waar outoriteit doelbewus gebruik word om ʼn ander wet te omseil, in hierdie geval die drie maande verpligte konsultasieproses.

“Ons is 100% seker dat die huidige wysiging, wat niks meer is as ʼn verlenging van die Covid-19-maatreëls is nie, nie afdwingbaar is nie,” voeg De Beer by. “Nie die polisie of enige winkelsentrum of winkeleienaar kan wettig die dra van gesigmaskers of selfs inenting of toets vir enige byeenkoms afdwing nie.”

LFN het nie vantevore die voorlopige gesondheidsregulasies betwis toe dit in Maart 2022 gepubliseer is nie, omdat De Beer geglo het dit sou voortydig wees omdat daar geen sekerheid was dat die regering ooit dié regulasies wettig sou maak nie. “Nou dat die gesondheidsminister egter finaal die stap gedoen het waarteen hy gewaarsku is, het ons met die hofverrigtinge begin.”

De Beer sê deur dié hersieningsproses sal die publiek “uiteindelik alle bewyse kan ontvang rondom die Covid-19-ramp, of eerder die gebrek daaraan”.

Die minister van gesondheid het 10 dae om die volledige rekord van besluite te verskaf wat tot die uitvaardiging van die regulasies gelei het.

Die saak is op die dringende hofrol geplaas vir 24 Mei 2022.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het ook Donderdag kort voor 08:00 reeds sy eerste regsbriewe op die minister van gesondheid beteken om ʼn stokkie te steek voor die “rampregulasies wat onder die dekmantel van gesondheidsregulasies” aangekondig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.