Nuwe regulasies kan kwarantyn afdwing

Vervalle rondawels by die Zithabiseni-kwarantynkamp. (Foto: Verskaf)

Nuwe regulasies wat in die Staatskoerant afgekondig is, maak voorsiening daarvoor dat die regering enigiemand teen hul sin by ʼn kwarantynfasiliteit kan aanhou, indien dié persoon simptome van Covid-19 toon en positief vir die virus toets.

Die regulasies is op 1 Februarie gepubliseer en maak voorsiening vir die regering om enige persoon vir 48 uur in die fasiliteit van die regering se keuse aan te hou, waarna ʼn hofbevel bekom kan word om die persoon langer aan te hou. Die regulasies bevat ook ʼn vorm wat landdroste kan gebruik om te beveel dat ʼn persoon in isolasie geplaas word en dat monsters van die betrokke persoon se liggaam geneem kan word.

AfriForum eis nou dat dié regulasies geskrap word.

“Dit is onverstaanbaar hoekom die minister nou weer so ’n drakoniese maatreël sal wil instel, siende dat die hof reeds bevind het dat mense wat veilig tuis kan self-isoleer, dit mag doen. As die minister versuim om hierdie wysigings aan te pas, sal ons dit beslis weer in die hof bestry,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

AfriForum het in Junie 2020 ’n oorwinning in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria behaal toe die organisasie se dringende aansoek toegestaan is om die minister van samewerkende regering en tradisionele sake se kwarantynregulasies (wat toe ook self-isolasie verbied het) ongeldig te laat verklaar. Dié regulasies, wat volgens AfriForum irrasioneel en drakonies is, was daarop gemik om almal wat positief vir COVID-19 toets onder verpligte staatskwarantyn te plaas.

Die minister het toegegee dat AfriForum se aansoek ’n bevel van die hof gemaak word, wat bepaal dat die regulasies só gelees moet word dat persone wat doeltreffend kan self-isoleer, toegelaat moet word om dit te doen.

AfriForum het die minister tot Vrydag gegee om die regulasie te wysig, waarna verdere stappe oorweeg sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

70 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Spul magsbehepte gekke .

Connie

Wens sy wil nou pension gaan en ophou dink

Swerwer

Belaglik! Die persoon wat hierdie uitgedink het, het beslis bybedoelings en gemik op sekere rassegroepe. Die Staat kan nou nie eens beheer uitoefen nie, dink net watter chaos hierdie gaan veroorsaak. Bly moeilik as ‘n leek probeer septer swaai………………….

Juffrou

Net wéér om hul mag wéér op ons af te dwing! Dié hele gespuis is magsbehep.

Annelize

Die kans dat jy groter en vuiler siektes by die Zithabiseni-kwarantynkamp-hool gaan opdoen is sommer baie groot as ek die ding so bekyk.