Nuwe regulasies oor selfkwarantyn verwelkom

‘n Argieffoto van die Nababeep-kwarantynfasiliteit in die Noord-Kaap.

Verskeie organisasies het die nuwe regulasies verwelkom wat die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, Vrydag in die Staatskoerant aangekondig het. Die regulasies bepaal dat mense wat Suid-Afrika binnekom moontlik toestemming kan kry om 14 dae selfkwarantyn toe te pas indien daar aan sekere kriteria vervat in die regulasies voldoen word.

Sommige van die uiters streng voorwaardes sluit in dat die betrokke persoon se werkgewer ʼn geskrewe aansoek ten minste 72 uur voor só ʼn persoon se vertrek na Suid-Afrika moet indien om die nodige toestemming te kry.

Bewys van ʼn geskikte perseel, kontakbesonderhede tydens die isolasietydperk en ʼn reisplan van die persoon se voorafgaande 30 dae moet ook ingedien word.

Sue-Ann de Wet, die burgerregtegroep AfriForum se bestuurder van diasporaskakeling, het gesê die organisasie se maande lange stryd teen verpligte kwarantyn in staatsfasiliteite het nou eindelik vrugte afgewerp.

“Dit is steeds aan die betrokke amptenare se diskresie onderhewig. As toestemming vir selfisolasie geweier word, moet die persoon steeds in ’n staatsfasiliteit bly, maar wel op staatskoste.”

De Wet het gesê mense wat tans in kwarantyn in staatsfasiliteite is, of oor minder as 72 uur met hulle terugreis na Suid-Afrika gaan begin, moet geduldig wees omdat die nuwe regulasies nog behoorlik na alle fasiliteite deurgegee moet word.

“Die fasiliteite en mense se ervaring van verpligte kwarantyn was baie uiteenlopend. Soms het fasiliteite glad nie aan die vereistes voldoen nie en soms het persoonlike omstandighede dit vir mense moeilik gemaak om so lank in ’n vreemde omgewing ingeperk te wees. AfriForum verwelkom daarom die departement se aanpassing van die regulasies en is des te meer bly dat ons die saak ook in die hof teengestaan het,” het De Wet gesê.

“Hierdie aanpassings is ’n oorwinning vir die gerepatrieerdes se regte, maar laat hulle ook met die groot verantwoordelikheid om verantwoordelik op te tree. AfriForum doen ’n beroep op almal om streng by die nuwe regulasies te hou en sodoende te sorg dat niemand se veiligheid nou in die gedrang kom omdat selfisolasie toegelaat word nie.”

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, het die regulasies ook verwelkom.

“Die VF Plus het klagtes oor meer as tien geriewe gedurende die afsonderingstydperk ontvang wat telkens met die departement van gesondheid opgeneem moes word om die probleme reg te stel. Mense wat in hierdie geriewe beland het, se menseregte is gruwelik geskend.

“Hoe doeltreffend hierdie nuwe regulasies toegepas gaan word en hoe doeltreffend die aansoeke aan die direkteur-generaal hanteer gaan word, is in hierdie stadium onseker. Die VF Plus staan nogtans gereed om mense in dié verband te help,” het Van Staden gesê.

Hy het die regulasies as ʼn oorwinning bestempel en sê dit dien as bewys dat die regering nie mense se regte kan vertrap nie en geswig het onder die deurlopende druk wat die VF Plus op hom geplaas het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trotse Boervrou

Maroela Media, of enige persoon wat dalk kennis dra, indien ek binne 2 meter van iemand by my werk was wat positief getoets is vir die virus, wat sal die prosedure huidiglik wees? Wat is my werkgewer se verpligting in so ‘n geval? En moet ek in verpligte self-solasie wees vir ‘n tydperk. Wat sê die wet? Dit sal gaaf wees indien jul dalk weer inligting in die verband kan plaas deur ‘n kundige op die gebied.

Jaco

Ek weet nie waarom Suid-Afrikaners wat in die buiteland bly, veral in hoogs ontwikkelde ordentlike Westerse lande, nou wil terugkom nie. Sekerlik weet hulle tog wat hier op hulle wag. Al die redes waarom hulle oorspronklik hier weg is, is nou net 100 maal erger. Beurtkrag, misdaad steeds hier. En die alewige regstellende aksie en BEE is NIE ligter nie. Corona word nou gebruik om wit mense nog meer uit te skuif. Bly waar julle is mense. Terugkeer na SA is baie naby aan ‘n doodsvonnis.