Nuwe rekord vir SA meisie in ‘Everest’ van swem

Abriella Bredell (Foto: Facebook)

Abriella Indigo Bredell (11) het Vrydag die jongste mens ter wêreld geword om die 8 km tussen Bloubergstrand en Robbeneiland in Kaapstad te swem en suksesvol te voltooi.

Maroela Media het vroeër berig Bredell, ʼn leerder aan die Victory Christian School in Jeffreysbaai, wou iets besonders doen vir haarself en die kinders van die Rooikruis-kinderhospitaal. Bredell het toe besluit om dié moeilike oopsee-swem te doen om geld vir die kinderhospitaal in te samel.

Aanvanklik sou Bredell poog om dit in Desember te doen, maar hulle het gewag vir beter weerstoestande, het haar pa, Pierre Bredell verduidelik. “Die dag het goed begin, ons het goeie weer en goeie temperature gehad. Die watertemperatuur was 13,8°C en Abriella het sterk weggespring,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Abriella is so vasberade, sy was redelik sterk deur die hele afstand. Die moeilikste was om te klimatiseer, maar na dít was alles goed. Toe daar nog 2 km oor was, het sy vinniger begin swem en behoorlik laat waai! Sy het die 8 km in drie ure en 15 minute voltooi, en sy is baie gelukkig met haar resultate,” het hy bygevoeg.

Abriella het dit reggekry om meer as R100 000 vir die Rooikruis-kinderhospitaal in te samel. Sy het twee jaar lank vir dié oopwater-swem geoefen, maar dit lyk nie of sy veel gaan rus na vandag nie.

“Sy het vir my gesê sy gaan drie weke afvat, en dan weer begin oefen, want sy wil graag haar Springbokkleure in swem kry!”

Abriella en haar gesin het saam met familie en vriende gekuier nadat sy die strawwe swem oorwin het, en gaan vanaand glo ʼn fliek kyk om behoorlik te ontspan. “Ek is baie trots op haar, sy het baie hard geoefen. Ons is almal 100% tevrede met haar prestasie,” het haar pa trots bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Ek ondersteun elk van hierdie komplimente, sy is yslik!~groot.. net eenvoudig pragtig!

Bruno ·

My kleindogter van Australie het op 16 jarige ouderdom die Engelse kanaal geswem vanaf Dover na Calais in Frankryk in n tyd van 12ure en 1 sekonde wat n bietjie verder is. Sy is ook in SA gebore so baie geluk aan die ounooi van SA dit kos om gedoen te word veral as die water so koud is en jy dit solo moet doen.

Basson ·

Baie geluk, dis ‘n ongelooflike ervaring en prestasie!

(En baie sterkte en voorspoed vir jou tov Swem SA, hulle’ bestuur, ondersteuning’ ens)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.