Nuwe rektor vir Afrikaanse Protestantse Akademie

apa-rektor-prof-gerrit-smit

Prof. Koos Adendorff, voormalige rektor van die APA, wens prof. Gerrit Smit geluk met sy amptelike inhuldiging as die nuwe rektor van dié instelling. Foto: Verskaf.

Prof. Gerrit Smit is tydens die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) se jaarlikse promosieplegtigheid amptelik as die instelling se nuwe rektor ingehuldig.

Smit, ʼn kundige in antieke tale en teologie, is reeds 20 jaar by die APA betrokke en is sedert die begin van die jaar werksaam in sy nuwe pos.

“Dit is ʼn voorreg om in hierdie nuwe hoedanigheid op te tree, veral omdat die APA een van die bakens in Suid-Afrika is waar daar nuwe weë op ou spore gebaan word,” het Smit gesê.

Tydens die promosieplegtigheid wat Woensdag by die AP Kerk Moot-Sentraal in Môregloed, Pretoria, gehou is, het 26 studente hulle nagraadse gevorderde onderwyssertifikate (NGOS) ontvang. BA-grade is aan 22 studente toegeken en drie studente het hulle BTh-grade ontvang.

Verder is daar ook sertifikate aan studente van jonk en oud oorhandig wat deel is van ’n nuwe opwindende Latyn-projek van die APA. Die APA het ná onderhandeling ’n bepaalde skool vir Latyn by die Universiteit van Pretoria oorgeneem en ontwikkel dit nou verder. Dit is ontwerp om enige belangstellende vanaf graad 6 (11-12 jaar) aan die rykdom van Latyn en die klassieke wêreld bloot te stel. Ander sertifikate wat oorhandig is, sluit onder meer in Inleiding in Programmering (Python).

Prof. Johan Bosman, dosent in diakoniologie asook missiologie, het die openingsrede behartig en daarop gewys dat klassiek-Christelike opleiding van die uiterste belang in die Suid-Afrikaanse samelewing is. Bosman het gesê die kerk het al op te veel plekke net ’n sosiaal-maatskaplike instelling geword. “Veral bedienaars van die Woord wat brandend is met die klassiek-Christelike evangelie en dit toepas vir elke terrein van die samelewing, skiet erg tekort in die Afrikaanse taal,” het hy beklemtoon.

“Die APA het soos soveel ander plekke wêreldwyd, sy ontstaan te danke aan teologiese opleiding. Daar is tot dusver ’n BTh-program aangebied waarby studente van verskeie denominasies ingeskakel het,” het Smit gesê.

“In aansluiting hierby is daar mettertyd ook ’n unieke BA-program ontwikkel. Dit is tans vir die meeste studente by die APA as instelling die eerste stap tot beroepe in die teologie, hoër onderwys, en sielkunde.

“Die APA is daarop ingestel om ’n klassiek-Christelike tradisie in die Suid-Afrikaanse samelewing met sy verskillende gemeenskappe te bevorder,” het Smit bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Carina ·

Fantastiese nuus, ook ‘n baie bekwame predikant. Geluk Prof Smit.

Gerhard van Rhyn ·

Baie geluk prof. Gerrit! Die APA is inderdaad ‘n instelling waar nuwe weë op ou spore gebaan word.

Drikus Kotze ·

Baie geluk Prof. Gerrit Smit met jou aanstelling as die nuwe rektor van die Afrikaanse Protestantse Akademie. Ons weet die APA is in goeie hande en wens jou alle sterkte toe vir die toekoms. God se rykste seen jou en jou gesin toegebid.

Ramkat ·

Baie geluk prof. U is ‘n man met vele talente. Doen so voort. Sterkte by die akademie.

Charles ·

Baie geluk aan die ouens wat graad gevang het, en geluk en sterkte aan die Afrikaanse Protestantse Akademie!

Welgedaan, julle maak ons trots!

jaco ·

Dis mos die kerk en akademie wat net oop is vir wit mense… So selfs ‘n Afrikaanssprekende Christen Kleurling wat daar wil studeer, kan nie, want jy is nie wit nie.

Charles ·

Natuurlik mag dit, Afrikaners en Bruinmense is dan familie!!

APA ·

Enige student wat in Afrikaans wil studeer is welkom by die APA. Huidiglik is daar studente van ander ras as blank wat aan die APA studeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.