Die Noordwes-Universiteit se Raad het tydens sy vergadering op 18 Maart 2014 die aanbevelings van die Soekkomitee van die Raad aanvaar en die aanstelling van ʼn nuwe rektor vir die Mafikengkampus goedgekeur.
“Professor Mashudu Davhana-Maselesele, tans viserektor vir onderrig-leer en navorsing by die Mafikengkampus, sal die pos vanaf 1 April 2014 vir ʼn ampstermyn van ses jaar beklee,” het Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie, in ‘n verklaring gesê.
Voor haar aanstelling as viserektor in 2012 was sy dekaan van die Fakulteit Landbou, Wetenskap en Tegnologie, ook op die Mafikengkampus.
Peet van der Walt, voorsitter van die Raad van die NWU, het Davhana-Maselesele gelukgewens met haar aanstelling. Hy het gesê dat die vlak van bevoegdheid van al die kandidate baie hoog was, en dat die Raad volle vertroue het in hul keuse. Hy het ook beklemtoon dat die nuwe rektor ʼn belangrike rol sal vervul in die universiteit se volgehoue strewe om sigself as ʼn toonaangewende universiteit te posisioneer.
Volgens prof. Dan Kgwadi, inkomende visekanselier, sal hierdie aanstelling die voortgesette groei van onderrig-leer en navorsing verseker, wat die Mafikengkampus tot selfs groter hoogtes sal voer. “Ek weet dat die kampus in veilige en bekwame hande sal wees en dat die kampusbestuur haar heelhartig sal ondersteun,” het Kgwadi gesê.