Nuwe reservoir dra by tot watersekuriteit vir Kaapstad

Die Contermanskloof-reservoir kort ná konstruksie in 2022 afgehandel is

Die Kaapstad-stadsraad het meer as R250 miljoen belê in die Contermanskloof-reservoir, met ʼn kapasiteit van 100 megaliter.

“Dit ondersteun die stadsraad se toewyding om waterverskaffing aan sy inwoners te verseker deur beskikbare waterhulpbronne te vergroot,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van water en sanitasie.

Die nuwe reservoir vorm deel van die bestaande 180 reservoirs met drinkbare water in die stad.

“Die reservoir bied groter buigbaarheid toe in die verskaffing van grootmaat water.”

Die 2015 grootmaat-watermeesterplan het die Contermanskloof-reservoir geïdentifiseer as ʼn innoverende oplossing om die vinnige groei en aanvraag na water in die Blaauwberg-gebied te hanteer. Dié gebied is tans een van die ontwikkelingskorridors in Suid-Afrika wat die vinnigste groei.

Barry Wood (bestuurder: grootmaat-water) en Zahid Badroodien by een van die toegangspunte van die Contermanskloof-reservoir

“Die ontwerpproses vir die reservoir het in 2014 begin en konstruksie is in 2022 afgehandel. Sedert dit in September 2022 aan water en sanitasie oorhandig is, het die reservoir suksesvol ʼn een jaar proef-bedryfsperiode afgehandel en sal nou water verskaf aan die noordelike voorstede en Blaauwberg-Noord-gebiede.”

Die ontwerp sluit ʼn reghoekige afdammingstipe reservoir in met ʼn versterkte betonvloer, mure en dakstruktuur (soortgelyk aan ander grootmaat-waterreservoirs in Kaapstad).

Die doel van die konstruksie van die Contermanskloof-reservoir was om as ʼn balanserende reservoir op te tree om die Voëlvlei-pypleiding wat water aan die Plattekloof-reservoir verskaf, te stabiliseer; om die sekuriteit van waterverskaffing aan die Melkbos- en Atlantisstelsels te verbeter; om sekuriteit van waterverskaffing aan die Milnerton-reservoir te verseker; en as ʼn reservoir-opgaardam vir die netwerkstelsel van die snelgroeiende Blaauwberg-Noord-gebied (die gebied noord van Parklands) op te tree.

“Hierdie beduidende sukses sal ongetwyfeld die stabiliteit van waterverskaffing verbeter en die druk op bestaande waterinfrastuktuur verlig. Dit is opwindend om die reservoir in sy operasionele toestand te sien, danksy die deursettingsvermoë van ʼn toegewyde span deur al die uitdagings tydens die konstruksieperiode.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.