Nuwe SA tegnologie kan Covid-19-pasiënte help

Reiner Gabler, besturende direkteur by Gabler Medical (Foto verskaf)

ʼn Eenvoudige, doeltreffende, draagbare en kostedoeltreffende toestel wat hoë vlakke van suurstof verskaf, kan Covid-19-pasiënte bystaan en voorkom dat hul longe platval.

Dié Suid-Afrikaanse uitvinding, genaamd OxERA (Oxygen-Efficient Respiratory Aid), kan ʼn groot hulpmiddel wees waar daar ʼn groot getal Covid-19-pasiënte maar ʼn gebrek aan vaardige personeel en hoësorgeenhede is met onvoldoende grootmaat suurstofvoorraad. Dit is die brug tussen huidige standaard suurstofterapie deur middel van gesigmaskers en hoësorgeenheid-ventilasie.

Die toestel is ontwikkel deur ʼn groep vrywilligers, gebaseer in Oos-Londen, wat dokters, ingenieurs en entrepreneurs insluit. Die Suid-Afrikaanse Beheerraad Vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het nou die OxERA-toestel goedgekeur vir noodgebruik in Covid-19-gevalle en dit sal deur Gabler Medical vervaardig en versprei word.

Dr. Craig Parker, ʼn mediese beampte wat in narkose spesialiseer en ʼn agtergrond in meganiese ingenieurswese het, sê die groep was vasbeslote om ʼn oplossing te vind toe hulle besef dat Suid-Afrika soortgelyke pasiëntladings sal sien wat Europa tydens die Covid-19-pandemie ervaar, maar met ʼn beperkte kapasiteit vir hoësorgeenhede en minder hulpbronne om hierop te reageer.

Hulle het ʼn maatskaplike onderneming in Maart 2020 tot stand gebring, wat as Umoya (“lug” in isiXhosa) handel dryf. Die groep het inspirasie geput uit bronne so divers as skubatoerusting en 3D-drukkers. Hulle het binne twee weke ʼn werkbare prototipe gebou en binne sewe weke ʼn finale 3D-ontwerp.

Parker sê die grootste behoefte van Covid-19-longontstekingpasiënte is suurstof. OxERA se sleutelkomponente is ʼn narkosemasker en ʼn meganiese klep wat gestel kan word. Die suurstof word deur ʼn pyp en opgaarsak verskaf waar die pyp aan enige beskikbaar suurstofbron verbind word, ʼn veiligheidsvoordeel vir gesondheidspraktisyns wat die toestel gebruik.

Die OxERA-toestel is eenvoudig, doeltreffend, draagbaar en kostedoeltreffend (Foto verskaf)

Die toestel is reeds suksesvol in landelike klinieke en spesialishospitale en deur alle vlakke van personeel gebruik. Honderde OxERA’s is reeds na 25 hospitale van Kaapstad tot Pretoria versprei, sê Trevor Rossouw, projekbestuurder by Umoya. Hy is ʼn siviele ingenieur met ʼn agtergrond in projek- en sakebestuur. Dit sluit die Volkswagen- Covid-19-veldhospitaal, Frere- en Cecilia Makiwane-hospitale in.

Die toestelle is ook na Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Sentraal-Afrikaanse Republiek versprei.

Mediese personeel wat al die toestel gesien en getoets het, is baie beïndruk met hoe maklik dit gebruik kan word, die suurstofdoeltreffendheid daarvan en kliniese doeltreffendheid.

Dr. Michael Webb, ʼn dokter by ʼn privaat praktyk in Oos-Londen, behandel al sedert die aanvang van die uitbreking Covid-19-pasiënte. Hy het op 24 Desember 10 maskers aangeskaf en teen 1 Januarie reeds verskeie pasiënte daarmee behandel. “Ek persoonlik is baie dankbaar om toegang te hê tot dié maskers en kan bevestig hoe doeltreffend hulle in dié ongekende tye is.”

Dr. Carolyn Mason, ʼn spesialis-dokter in inwendige medisyne in Oos-Londen in die staatsektor, het reeds meer as 40 van die toestelle gebruik, en hoofsaaklik pasiënte tussen 40 en 70 jaar oud gekies wat komorbiditeite het en nie in die hoësorgeenheid opgeneem sou kon word nie. “Hulle suurstofsaturasie was baie erg – tot so min as 20%. Dit was ongelooflik om te sien hoe die saturasie tot 90% styg en uiteindelik die pasiënte te kon ontslaan.”

Die toestel word vervaardig en versprei deur Gabler Medical. Reiner Gabler, besturende hoof van die maatskappy, sê nou dat die maatskappy Sahpra-goedkeuring bekom het, kan hulle daarop fokus om die toestel op grootmaat te vervaardig. “Ons kan meer as 15 000 eenhede ʼn week vervaardig, so kapasiteit is nie ʼn kwessie nie. Dit sal beslis poste skep tydens die pandemie en indien die produk algemeen aanvaar word, sal dit ook ná die pandemie voortduur. Die toestel het ook uitvoer-moontlikhede,” het Gabler bygevoeg.

Vir meer inligting oor die Umoya-toestel en die span, besoek Umoya se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Dankie tog dat daar nog intelligente mense agtergebly het in SA,die meeste is verlore en woon oorsee. Ons sal seker maar almal mettertyd vlug. Ek beskou die Ox- Era suurstof apparaat as ń noodsaaklike ‘pleister’ in plekke waar potensiele slagoffers woon of werk,beslis in ouetehuise en aftree oorde. Wel gedaan,redders van die volke,julle is dun gesaai,maar dra steeds hierdie hulpbehoewende ter wille!

Megan Swart ·

Dagsê FM
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Tanniepetoors ·

Groot applous vir hierdie mense! Julle maak my trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees.

Sanet ·

Wil net vir hierdie groep baanbrekers se, ons is sommer baie trots op julle inisiatief tov wat julle hier bewys het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.