Nuwe SA virusvariant ís meer aansteeklik – kenners

Die nuwe variant van die virus is volgens kenners meer aansteeklik, maar nie meer dodelik nie. (Foto: Luca Sola/AFP)

ʼn Nuwe variant van die koronavirus wat vir die eerste keer in Suid-Afrika geïdentifiseer is, is meer aansteeklik as ander weergawes, het kenners Maandag gesê – maar daar is geen bewyse dat dit meer dodelik is nie.

Die variant is 50% meer aansteeklik, het prof. Salim Abdool Karim, ʼn epidemioloog en medevoorsitter van die departement van gesondheid se wetenskapkomitee, gesê.

“Daar is egter geen bewyse dat die nuwe Covid-19-variant ernstiger is as die oorspronklike variant nie,” het hy gesê.

Die kenners grond hul afleidings oor die variant – nou die oorheersende stam in Suid-Afrika – op ʼn ontleding van data wat versamel is van die grootste infeksiebondels landwyd.

Meer as 1,3 miljoen mense in Suid-Afrika het reeds positief vir die virus getoets – die meeste op die vasteland – en meer as 37 000 sterftes weens Covid-19 is al bevestig.

Die tweede vlaag van die virus druk Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel boonop tot by breekpunt.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Maandag gesê daar was ʼn 23%-daling in infeksies, maar die getal hospitaalopnames het sedert die vorige week met 18,3% gestyg.

Dr. Waasila Jassat, nog ʼn lid van die paneel, sê hoewel opnames toegeneem het, is die sterftekoers in hospitale weens die virus nie anders as tydens die eerste vlaag nie.

Dit was Suid-Afrikaanse kenners se ontdekking van die nuwe variant, bekend as 510Y.V2, wat die owerhede oortuig het om in Desember nuwe beperkings in te stel om die verspreiding van Covid-19 te probeer stuit.

“Die wêreld het die virus onderskat,” het prof. Alex Sigal, ook ʼn lid van die paneel, gesê.

Hy sê terselfdertyd dat die virus verander en by mense aanpas.

Vrese oor die nuwe variant het sommige lugrederye aangespoor om vlugte na en van Suid-Afrika te kanselleer.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs aangekondig dat meer as 20 miljoen dosisse entstof teen Covid-19 gedurende die volgende ses maande in die land gaan aankom.

Prof. Karim sê dit is egter nie bekend of die bestaande entstof doeltreffend teen die nuwe variant van die virus gaan wees nie, hoewel verskeie studies daaroor gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Anoniem ·

‘n Paar weke gelede (volgens cyril) was die entstof al op pad. Hy vergeet wat se leuens hy die vorige dag vertel het. Volgens dié berig kom die entstof nou eers binne 6 maande. Dié man onderskat ons intelligensie.

Nico ·

Hierdie mense doen goeie werk. Ek haal my hoed af vir hulle.

Strandloper ·

Stem saam. Ek is net baie dankbaar die anc virus is glad nie aansteeklik nie!

Anoniem ·

Verkeerd, die virus het reeds met die Regering se hantering van die pandemie in aanraking gekom, gemuteer en vandaar die nuwe meer aansteeklike variant.

Cd ·

As die virus so maklik en vinnig verander, sal die inenting enige waarde he?
Sal dit gereeld moet toegedien word , soos die griepinspuiting?

Zacahara ·

Dis die probleem. As dit elke paar maande muteer, en ‘n endstof werk nie (wat waarskynlik R100’de per dosis uitwerk, hoeveel geld gaan daar nie gemots word nie? I v ermektien, egter kon ons kry vir R400 / 500ml. Dis genoeg om net meet as 50 mense 6 dosisse te gee. Dis minder as R8/persoon. Komaan, hoekom nog neuk met ‘n endstof wat geen mediese rekord het nie!!

Harry ·

Die probleem is die skade wat hierdie virus agterlaat soos bv bloedklonte in die longvlies en selfs onverklaarbare suikersiekte. As die inenting hierdie skade kan beperk of verhoed sal dit vir my ‘n sukses wees. Ek wil nie vir die res van my lewe op bloedverdunning of suikersiekte medikasie wees net om te kan leef nie.

Bont ·

Dit is waar. My broer het ook nou skielik suikersiekte nadat hy virus gehad het. Dit lyk vir my as jy eers die virus gehad het, al het jy dit oorkom, daar lank na die tyd nog nagevolge is.

Miskruier ·

Dit wil ek ook weet, elke 3 maande weer spuit aangesien die vaccine net 3 maand hou. My medies laat my weet, hul sal vaccine betaal maar dis nie verseker dat ek dan NIE covid kry nie.

domheks ·

Nou wonder ek, netheid op jouself en sanitasie geriewe – het dit enige impak op die virus. Hoekom het so baie mense by die grensposte positief getoets??

Herman ·

‘n Paar weke gelede is daar op hierdie selfde blad genoem dat die entstof die nuwe variant sal kan beheer, nou is daar onsekerheid…hoe werk dit dan nou?

Francois ·

Wat n klomp nonsens. Hierdie professor is nie n data wetenskaplike nie. Indien hulle nie kan wys watter veranderlikes in ag geneem is nie beteken dit net mooi niks

Essie ·

Wat ek graag wil weet is hoeveel mense die nuwe variant 510Y.V2 opgedoen het en hoeveel Covic-19 aanggesien altwee nou bymekaar gegooi word.

Antoinette ·

Vertel die enetjie wat die buitekamer by my huur die volgende. Sy was hier tussen Kersfees en Nuwejaar amper dood van Covid en het gister eers weer hier opgedaag. Begrafnis van haar suster was in Lephalele, en mense het opgeruk in twee vol busse en ongeveer 30 taxis. Wat doen die polisie – reguleer die verkeer. Mense het opmekaar gestaan – hope sonder maskers. Hulle glo nie daar is iets soos Covid nie. Sy skat daar was naby 1000 mense by die begrafnis. Sy weet van baie wat, soos sy, by die dood omgedraai het, na die begrafnis.
Hoe gaan dit ooit aan ‘n einde kom as dit so gaan?

Karel Kobus Kruger ·

Enige siekte woed homself uit. Sodra almal met verswakte immuniteitstelsels dood is, sal dit bedaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.