Nuwe SAID-kommissaris aangestel

sars logo 2Thomas Swabihi Moyane is as die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel, het die presidensie Dinsdag gesê.

“President Jacob Zuma het Tom Moyane kragtens artikel 6 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê.

Moyane se aanstelling is van 27 September 2014 van krag. Hy vervang Ivan Pillay, wat in die pos waargeneem het ná Oupa Magashula bedank het. Magashula het in Julie 2013 bedank ná ʼn ondersoek oor bewerings dat hy ʼn pos vir ʼn geoktrooieerde rekenmeester by die SAID aangebied het. Hy het glo die pos vir die persoon aangebied tydens ʼn telefoongesprek wat opgeneem is. Timothy Marimuthu het glo alles gefasiliteer omdat hy na bewering ʼn invloed oor Magashula gehad het. Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het die ondersoek van stapel gestuur.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT) het die aanstelling verwelkom. “Moyane se wye veld van ondervinding op die hoogste vlakke van regering en openbare administrasie verseker dat die SAID in die beste belang van die land se ekonomie sal dien,” het Stiaan Klue, uitvoerende hoof van SAIT, in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.