Nuwe SANParke-regulasies raak veral Gautengse reisigers

(Foto: SANParke)

SANParke sê hy moes sleutelveranderings aan sy gasvryheid- en toerismedienste in verskeie nasionale parke aanbring om aan die gewysigde afsonderingsregulasies te voldoen.

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika Sondagaand na vlak 4 van afsondering geskuif in ʼn poging om die derde vlaag koronavirusinfeksies te stuit.

Ingevolge die regulasies word reis vir ontspanning na en van Gauteng verbied.

Skole sluit boonop vandeesweek al, vroeër as wat dit aanvanklik sou, en heropen ook ʼn week vroeër ná die wintervakansie. Die aankondiging het dus ʼn groot uitwerking op talle mense se vakansieplanne.

“SANParke, in voldoening aan regeringsregulasies, het die nodige wysigings aangebring, veral vir reisigers na ons nasionale parke wat uit Gauteng kom,” sê dr. Luthando Dziba, waarnemende uitvoerende hoof van SANParke.

Dziba sê gaste wat in Gauteng woon se besprekings sal nie deur die bank gekanselleer word nie. Diegene wat reeds besprekings tussen 28 Junie en 11 Julie bevestig het, sal telefonies en per e-pos gekontak word om te bepaal of die bespreking uitgestel of gekanselleer moet word.

Indien kansellasie die enigste opsie is, sal geen kansellasiegeld gehef word nie. Gaste kan ʼn volle terugbetaling eis, of die deposito by SANParke behou vir ʼn toekomstige bespreking.

Gautengse inwoners wat reeds by SANParke se verblyf tuisgegaan het toe die regulasies aangekondig is, sal toegelaat word om daar te bly. Die regulasies bepaal dat diegene wat buite die provinsie was toe die regulasies in werking getree het, ʼn eenmalige reis vir hul terugkeer na hul huise mag onderneem.

SANParke het ook bevestig dat alle byeenkomste by strande en piekniekplekke in nasionale parke verbied word. Eetsale en restaurante sal slegs wegneemetes bedien.

Dziba sê SANParke het begrip vir die ongerief en frustrasie wat die reëlings moontlik veroorsaak.

Hy sê ook die verspreiding van Covid-19 het alle Suid-Afrikaners geraak en om die verspreiding van die virus te stuit, word opofferings van almal gevra. Hy sê gaste moet besef dat die regulasies, asook SANParke se eie protokol – ongerieflik soos dit dalk voorkom – ter wille van ʼn goeie doel is.

Sun International het Maandag ook aangekondig dat hy verskeie van sy hotelle en oorde sluit. Die hotelgroep sê die gewysigde regulasies maak dit moeilik vir hom om sake te doen.

  • Gaste met navrae oor hul verblyf by SANParke kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of navraag doen by 012 428 9111 en 082 233 9111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ek kan nie dink dat om werkloosheid te veroorsaak en toerisme op sy knieë te dwing ter wille van ‘n goeie doel is nie. Mense werk hard vir hulle geld en kinders se lewens is ook omver gewerp. Hulle sien uit na bietjie batterye herlaai in die natuur en nou word dit hulle ontneem. In die vars lug!!! Hoe dien dit ‘n goeie doel?

Johan ·

Korreksie “raak slegs Gauteng”. Wie gaan die gemors hof toe vat oor hul nonsens. Die reis verbod kan geen positiewe inpak hê nie. Nou moet ons almal hier op n bondel sit met hospitale (wat kamstig) vol is…hoekom, Covid is oral.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.